AFRIKANERPERSPEKTIEWE OP DIE ANGLO-BOEREOORLOG

Kollig op Suid-Afrika se kommandostelsel
February 1, 2017
DIE OORLOG VAN 1899-1902
February 20, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

deur Leo Barnard

In Oktober van die jaar 1999 sal dit presies 100 jaar wees sedert die oorlog tussen Brittanje en die twee onafhanklike Boererepublieke, die ZAR en die Oranje Vrystaat, uitgebreek het. Uit historiese hoek gesien is die geskiedenis van ’n volle of ’n groep mense oor ’n eeu beskou, geen lang tydperk nie. As die geskiedenis van die Afrikaner egter as maatstaf geneem word, word die honderd jaar sedert die Anglo-Boereoorlog in ’n sekere mate die kern van sy geskiedenis. Daarom is dit tydig en wys om na byna 100 jaar retrospeksie te doen oor die Afrikaner en sy siening van die Anglo-Boereoorlog. Alleen deur diep, ernstig en onbevange te besin oor die Afrikaner en sy perspektief op die Anglo-Boereoorlog kan die beeld van die verlede na behore gerekonstrueer en dus vir die nageslag bewaar word.

Deur die jare het verskillende skrywers/drukkers/akademici/historici hulle by herhaling uitgelaat oor die rol wat die Anglo-Boereoorlog in die geskiedenis van die Afrikaner gespeel het. Ten einde tyd te bespaar word slegs enkele van letterlik dosyne voorbeelde hier aangehaal. ’n Bekende sosioloog, J van der Merwe se siening was dat dit juis die Anglo-Boereoorlog was wat die Afrikaners hulleself laat vind en Afrikanerskap bevestig en versterk het. Oor die spesifieke rol van die Anglo-Boereoorlog sê hy verder dat dit hierdie gebeurtenis was wat in elke opsig die siel van die Afrikaner geword het.

Hermann Giliomee wat as historikus en kommentator geen verdere bekendstelling nodig het nie, se siening is: “Die Anglo-Boereoorlog veroorsaak dat die Afrikanernasie homself vestig as ’n reaksie teen aggressiewe verengelsingsbeleid van Milner na 1902.”

Ook uit Engelse hoek is daar heelwat kommentaar oor die rol wat die Anglo-Boereoorlog in die geskiedenis van die Afrikaner gespeel het. Dunbar Moodie byvoorbeeld noem die Anglo-Boereoorlog “the sacred period of Afrikaner history”, terwyl Patterson se siening is dat die Anglo-Boereoorlog die pertinente oorsaak van die laermentaliteit van die Afrikaner is.

Uit bogenoemde is die afleiding tog duidelik dat daar wyd uiteenlopende standpunte deur die jare gegeld het. Oor die volgende aspekte is daar egter merkwaardige eensgesindheid en is dit van belang om kortliks daarby stil te staan:

  • In die geskiedenis van die Afrikaner is daar hoofsaaklik twee gebeure wat letterlik as die pilare van sy (voort)bestaan bestempel kan word – en dit is die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. Alhoewel op ’n heel ander vlak, bly dit die twee gebeurtenisse wat die kohesie verskaf om as groep te vorm en voort te bestaan.
  • Vir ’n aantal dekades na 1902 (die beëindiging van die Anglo-Boereoorlog) bly die Afrikaner teruggryp na die Anglo-Boereoorlog – dit word die anker van sy voortbestaan. Die Groot Trek het in sy wese die kiem van verdeling in hom omgedra soos blyk uit die stigting van verskillende state, leierskapkwessies, probleme met grondwette, hoofstede ens. Daarteenoor word die Anglo-Boereoorlog die katalisator vir samewerking in Afrikanergeledere. Dit is daarom juis die Anglo-Boereoorlog wat al vir ’n aantal jare lank die Afrikanernasionalisme bly voed.
  • Die vraag in die gemoed bly steeds of die geskiedenis van die Afrikaner sonder die Anglo-Boereoorlog enigsins moontlik sou wees? Die antwoord is heel eenvoudig: die Anglo-Boereoorlog bly die nodale punt van die Afrikaner se geskiedsbeeld in die eerste vyf tot ses dekades na die draai van die eeu.

As bogenoemde nou as uitgangspunt aanvaar word, moet ons saaklik kyk hoe die Afrikaner die gebeure rondom die Anglo-Boereoorlog ’n deel van sy denkpatroon gemaak het. Aanvanklik is die Anglo-Boereoorlog beskou as die rede vir sy bestaan en word die oorlog die dryfveer vir sy herstel op ekonomiese, maar ook maatskaplike en sosiale gebied. Die naweë van die oorlog stimuleer die Afrikaner om sy eie opheffing as ’n saak van die grootste prioriteit te beskou. Hy wag nie vir die magte van buite of die “vyand” om sy opheffing te onderneem nie. Die oorlog het veroorsaak dat hy homself moes en wou ophef.

Dit is daarom geen wonder dat die bekende historikus FA (Floors) van Jaarsveld by geleentheid verklaar het dat die Afrikaner die oorlog (Anglo-Boereoorlog) verloor het maar die vrede gewen het nie. Die Vrede van Vereeniging het die Afrikaner dus aangespoor om sy eie opheffing en veral dié van die armlastige volksgenote met ’n soort verbete maar ook hardnekkige gelatenheid te aanvaar. Met dieselfde ywer waarmee die bittereinders die militêre stryd tot die einde gestry het, sou die opheffing van die Afrikaner op elke lewensterrein die hoogste prioriteit geniet.

Hierdie tipe optrede en standpunte het twee sake sterk na vore laat tree. In die eerste plek sou die herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog soos reeds gesê, die totale toneel in Suid Afrika oorheers, tewens, selfs bepaal. Die noodwendige gevolg was verder dat die Afrikaner die verlede begin veridealiseer het. Die Afrikaner se grype na die verlede word die rigsnoer vir sy optrede in die eerste aantal dekades na die Anglo-Boereoorlog.

’n Mens sou met reg kon vra of dit nou in die geskiedenis van die Afrikaner gestalte gevind het. Sonder om enigsins breedvoerig daarop in te gaan, kan daar kortliks na die volgende faktore verwys word:

  • die verstedelikingsproses van die Afrikaner wat in ’n groot mate net na die Anglo-Boereoorlog begin het, het vir jare die algemene norm gebly;
  • die uitbreek van die rebellie (Eerste Wêreldoorlog) is in sommige Afrikanerkringe aangegryp as die ideale gebeurtenis om die “juk van die Engelse oorheersing” af te werp;
  • in die stryd om ’n eie taal en vlag in die jare twintig, word kwessies uit die Anglo-Boereoorlog vry algemeen deur die Afrikaner gebruik;
  • in die stryd om die finale losmaak van Britse imperialisme in die jare dertig, is dit weer die Anglo-Boereoorlog wat deur die Afrikaner as norm gebruik word. Met die verkryging van die “vryheid” van Brittanje het die Afrikaner sy hoogste vorm van vryheid behaal – ’n ideaal wat pertinent tot die Anglo-Boereoorlog aanleiding gegee het.

En so sluit die Afrikaner in die vyftiger- en sestigerjare ’n era af waarin hul dikwels aan die vyande verknog was. Want dit is in 1948 dat die Afrikaner die politieke beheer in die land oorneem (uit demokratiese hoek gesien, slegs oor ’n minderheid van die bevolking) en bereik hy in 1961 soewereine onafhanklikheid met die verkryging van die Republiek van Suid-Afrika. Die Afrikaners was nou polities in volle beheer van die politieke stelsel – ’n droom wat hy vir baie dekades nagejaag en waarin die Anglo-Boereoorlog die mees kritieke rol gespeel het.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat die Anglo-Boereoorlog nie slegs op staatsregtelike vlak ’n impak op die Afrikaner en sy denkpatrone gehad het nie. Op kultuurhistoriese vlak het dit eweneens neerslag gevind soos blyk uit ’n enkele voorbeeld:

  • die totale verheerliking van die Afrikaner se optrede en die heroïese dade van die “buitengewone knap veldhere” tydens die Anglo-Boereoorlog. Dit is hierdie boodskap wat vir dekades lank deur middel van die geskrewe en gesproke woord lewend gehou is. Die gedagte is verder gevoer deur nasionale feesdae waar, in geen onsekere terme nie, die grootsheid van sy optrede tydens die Anglo-Boereoorlog besing is.

Die hunkering en teruggryp na die verlede word die bakermat van die Afrikaner se kultuur, dit verskaf die impetus vir sy kulturele waardesisteme en word daarom slaafs nagevolg.

As die Afrikaner dan in die veertiger- en vyftigerjare die politieke beheer van die land oorneem, spoel hierdie tendens klakkeloos oor na die skoolleerplanne en skoolhandboeke. Realisme oor die Anglo-Boereoorlog, sy aanloop, verloop of gevolge ontbreek geheel en al. Die Anglo-Boereoorlog word ’n eensydige verheerliking van die Afrikaner se optrede tydens die oorlog waarin die sterftes van die Boerevrouens en kinders in die konsentrasiekampe die sentrale punt word. In hierdie beeld wat van die Anglo-Boereoorlog voorgehou word, word dit verswyg:

  • dat die boerekrygers ook maar net normale mense was wat onder mekaar gestry en baklei het;
  • waar militêre leiers (veral in die begin van die oorlog) nie oog om oog gesien het nie;
  • waar drostery aan die orde van die dag was en waar al die manskappe nie so heldhaftig en heroïes was as wat sommige bronne dit wou uitmaak nie;
  • waar oorloop na die vyand geen ongewone verskynsel was nie; waar joiners en hensoppers in byna elke familie voorgekom het;
  • waar drankbottels in verlate Boere-loopgrawe selfs die Tommies (Britse soldate) moes laat glimlag het.

Maar die kentering in die gemiddelde Afrikaner se siening oor die Anglo-Boereoorlog tree so ongeveer in die sestigerjare na vore. Die eertydse subjektiewe siening van eng Afrikanersentriese denke oor die Anglo-Boereoorlog word geleidelik vervang met ’n meer nugtere siening oor die gebeure. Dit kulmineer in ’n sekere sin in die werke van die Staatshistorikus JH Breytenbach in sy Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog waarvan die eerste volume in 1969 en sy laaste volume (VI) na sy dood in 1996 verskyn het. Alhoewel Breytenbach hoofsaaklik uit ’n militêre hoek (strategies en takties) na die gebeure kyk, spreek sy werke van ’n nugterheid en onbevangenheid wat tot in daardie stadium nie eie aan die Afrikaner en sy siening van die Anglo-Boereoorlog was nie.

Breytenbach word spoedig deur ’n hele aantal ander historici gevolg, waarvan die werke van Albert Grundlingh en Burrigde Spies, albei van Unisa, die oog trek. Dit het egter ’n persoon met die statuur van die Brit, Thomas Pakenham gekos om teen die laat jare tagtig ’n gesaghebbende werk oor die Anglo-Boereoorlog te publiseer, gestroop van vooroordele en ’n eerlike soeke na wat presies ’n honderd jaar terug gebeur het in die epiese oorlog wat as die Anglo-Boereoorlog bekend sou word.

En nou, na bykans 100 jaar is die sirkel voltooi en bevind die Afrikaner hom byna weer in dieselfde posisie as wat dit na die Anglo-Boereoorlog die geval was. Die enigste verskil is dalk dat “die vyand” nie nou meer die Britse imperialisme was nie.

As die Afrikaner dus nou na byna 100 jaar op die Anglo-Boereoorlog terugkyk, gaan dit om die intrinsieke waarde van hierdie gebeurtenis. Daar kan nou nie meer politieke/kulturele/militêre punte teen die vyand (Brittanje) aangeteken word nie, want die geskiedbeeld van die Afrikaner het verander. Dit beteken nie dat die Afrikaner die plek wat die Anglo-Boereoorlog in sy geskiedenis gespeel het afwater of selfs negeer nie. Inteendeel, dit speel steeds ’n onmisbare rol in die verlede beeld van die Afrikaner.

Die beduidende verskil is egter dat die grootste groep van die Afrikaners hulle jukke van die verlede afgegooi het en dat dit dus nie langer slegs gaan om ’n klakkelose verheerliking van die Anglo-Boereoorlog nie. Die Afrikaner besin opnuut oor sy verlede en dus ook oor die Anglo-Boereoorlog. By wyse van spreke tel die Afrikaner nie nou slegs nog die getalle van vrouens en kinders wat in die konsentrasiekampe gesneuwel het nie, maar begin hy holisties na die Anglo-Boereoorlog kyk.

In hierdie verbreding van sy verlede-beeld, vind die Afrikaner dit nie langer onmoontlik om by ’n paar waarhede oor die Anglo-Boereoorlog uit te kom nie.

  • Afrikanerhistorici en navorsers is nie langer bang om probleme en verskille van die Anglo-Boereoorlog uit te lig nie.
  • In byna dieselfde asem word dit duidelik dat diepgaande wetenskaplike navorsing oor die sogenaamde gekleurdes se deelname aan die Anglo-Boereoorlog nie verder een van die taboes van die gebeure is nie. Die Afrikaner aanvaar dat die Anglo-Boereoorlog nie eksklusief ’n Afrikaneroorlog was nie, maar dat alle bevolkingsgroepe in die suidpunt van Afrika vir ’n tydperk van drie jaar deur ’n verterende oorlog moes werk.
  • Ten spyte van ernstige geskille oor wat presies gebeur het, is die Afrikaner nie langer bang om by wyse van spreke geteer en veer te word vir eerlike deeglike navorsing in ’n poging om die verlede so objektief as moontlik vir die nageslag te bewaar nie.
  • Selfs universiteite is bereid om internasionale kongresse met die Anglo-Boereoorlog as tema aan te bied om die verlede so wetenskaplik en onbevange as moontlik weer te gee. So ’n geleentheid sal hom in Oktober 1999 voordoen as die Departement Geskiedenis aan die UOVS ’n internasionale kongres aanbied waaraan sprekers van letterlik oor die wêreld sal deelneem.

Ter afsluiting is dit noodsaaklik om daarop te wys dat die Afrikaner nog ’n ereskuld het om te betaal. Vir baie jare lank het hy die Anglo-Boereoorlog mis/gebruik om politieke/kulturele/militêre en ook ander doelwitte te bereik. Deur sy afgooi van die jukke van die verlede lê dit nou op sy weg om sy rol en optrede in die Anglo-Boereoorlog, asook die mees onmiddellike gevolge op ’n onbevange, objektiewe en wetenskaplike wyse op te teken. Met dit as maatstaf moet dit ’n aangrypende, eerlike en leesbare werk wees wat die verlede as werklikheid aanspreek en nie toelaat dat dit vir ander doeleindes misbruik word nie.

Niemand anders kan en gaan die Afrikaner se geskiedenis oor homself vir homself skryf nie – nie eens as dit oor die Anglo-Boereoorlog is nie.