Afrikanerhoudings oor Engels

Oprigting van eie skole
January 23, 2015
Die lot van die presidente
January 23, 2015

Die CNO-skole het naas Hollands ook Engels as vak en voertaal gebruik. Van standerd 3 af het Engels as voertaal en vak eweveel tyd gekry as Hollands. Die skole het die bepaling in verband met Engels soms met teensin toegepas. Maar Eendracht, waar die gevierde dominee HS Bosman van Pretoria die CNO-leier was, was so Engels dat dit selfs van ’n pro-Engelse koers beskuldig is. ’n Inspeksieverslag van professor PJ Mulder het bevind dat die voertaal al in die laerskool oorwegend Engels is en dat van die onderwyseresse hulle moeilik in Afrikaans of Hollands kon uitdruk. Die skool het betoog dat die eksamineringsliggaam, die University of the Cape of Good Hope, Engels as enigste eksamentaal erken, en dat hy die leerlinge vir hul tweetalige vaderland voorberei.

Daar was in werklikheid twee kante in die CNO-beweging, naamlik dominee Bosman (wat reeds in die ou Transvaal ’n voorvegter vir meer Engels was) en generaals Botha en Smuts aan die een kant en die Vereeniging voor Onderwijzers en Onderwijzeressen in Zuid-Afrika (VVOOZA) aan die ander kant. Eersgenoemde drie wou Boer en Brit in dieselfde tweetalige skole saambring, en het daarom klem gelê op Engels as mede-voertaal. Maar volgens die VVOOZA het juis dit die behoud van die Hollandse taal en daardeur ook die Afrikanervolk in gedrang gebring. Hulle het toegegee dat Engels nodig was vir Afrikanerkinders, maar nie sodanig dat dit vir die leerlinge soos hul eie taal word nie.

Ook in die Vrystaat is in 1904 en 1905 ’n hele aantal CNO-skole onder beheer van kerkrade opgerig. Behalwe die gebrek aan skoolgeboue en moeilikheid om onderwysers in die hande te kry, was die geldskaarste hul vernaamste probleem. Die staatskole het gratis onderwys, vrypasse en spoorwegkonsessies aangebied, waarvan die CNO-leerlinge uitgesluit is. Dit wil voorkom of die Vrystaat niks gekry het van die ZAR-“erfgeld” wat uit Nederland na Transvaal gekanaliseer is nie. Die Vrystaatse CNO-skole kon dit nie volhou nie, en in 1905 het verteenwoordigers van die kroonkolonie en die NG Kerk ooreengekom om die staats- en CNO-skole te verenig. Die voertaal sou Engels wees, maar ewe veel tyd sou gaan aan Hollands en Engels as vak.

Die ooreenkoms was vernederend vir Hollands, het De Vriend geskryf. President Steyn en ’n taalstryder, dominee W Postma wou nie die ooreenkoms steun nie. Die Gereformeerde Kerk was sterk daarteen, en De Volksstem, die Transvaalse kerkblad De Vereeniging en die pers in Nederland het dit gekritiseer. Enkele NG gemeentes, soos Brandfort en Smithfield, was teen amalgamasie. Die Gereformeerde Kerk het CNO voortgesit en dominee Postma het in Augustus 1905 die Vrije Christelike School gestig. Dis aanvanklik in die kerkgebou van die Gereformeerde gemeente gehuisves. Daaruit het die Sentrale Laer- en Hoërskool voortgekom, wat in die 1960erjare die grootste Vrystaatse skool sou word. Die teenkanting teen die Engelse gees van Eunice het daartoe gelei dat ’n groep Afrikaners onder leiding van president Steyn in Augustus 1907 die Christelike en Nasionale Meisieskool Oranje gestig het.