Afrikaanse instellings

Halwe waarhede
January 26, 2015
Langtermynprojekte voortgesit
January 26, 2015

Die laaste dekade van die eeu het Afrikaanse private en staatsinstellings swaar getref. So het Volkskas opgegaan in die ABSA-bankgroep en het die handelsnaam Volkskas in 1998 verdwyn. In 1978 het sy bates R3000 miljoen bedra en het dit 557 takkantore gehad. Ook Perskor het gesneuwel. Nadat die ANC aan bewind gekom het, het die mark vir skoolhandboeke ineengestort. Dit was ’n slag vir alle uitgewerye. Maar vir Perskor, vir wie dit die hoofbron van inkomste was, was dit noodlottig. Giliomee noem die einde van Perskor die skouspelagtigste en smadelikste mislukking van enige van die ondernemings in die ekonomiese vordering van die Afrikaner.

Maar Sanlam het oorleef, so ook Naspers – wat floreer. Albei het daarin geslaag om oor taal- en kleurgrense heen na die Engelse en swart mark deur te dring. In 1996 het Sanlam die eerste keer meer nuwe polisse verkoop aan mense van kleur as aan wittes, en selfs die administrasie van die pensioen-fonds van die ANC en Kommunistiese Party verkry.

Op histories Afrikaanse universiteite is sedert 1994 druk uitgeoefen om na dubbelmedium oor te skakel. Die voorwendsel is dat hulle meer “toeganklik” moet wees. In 1999 was geeneen van die historiese Afrikaanse universiteite meer geheel en al Afrikaans nie, terwyl die voorheen tweetalige universiteite byna heeltemal verengels het, soos die Universiteit van Wes-Kaapland en Port Elizabeth en ook Unisa bedreig word.

Die Vrystaat Universiteit, die Universiteit van Pretoria en die Randse Afrikaanse Universiteit het ’n beleid van parallelmediumonderrig ingevoer, wat daarop neerkom dat voorgraadse lesings in sowel Afrikaans as Engels aangebied word. Die Universiteit van Stellenbosch en die Potchefstroomse Universiteit is hoofsaaklik Afrikaans (hoewel laasgenoemde op sy Vaaldriehoekse kampus sommige klasse net in Engels aanbied). Dit is onwaarskynlik dat Afrikaans aan al hierdie universiteite behoue gaan bly, en daar was in 1999 pogings om ten minste Stellenbosch en Potchefstroom Afrikaans te hou.

Nog ’n Afrikaanse instelling, die Afrikaanse kerke, is nie immuum teen verengelsing nie. Die Ligdraer, lyfblad van die Verenigende Gereformeerde Kerk, gebruik al hoe meer Engels. Die VGK het ontstaan uit die eenwording van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika in 1991. Die Ligdraer se bylae vir jong mense word hoofsaaklik Engels, so ook die hoofartikel en artikels vir mense met ’n hoër akademiese agtergrond. Die verwagte eenwording van NG kerke sal netelige taalreëlings vereis. Professor Johan Heyns, skrywer van talle boeke oor die etiek en dogmatiek en gewese NG moderator, skryf kort voordat hy in 1994 slagoffer van ’n nog onopgeloste sluipmoordaanslag geword het:  “Wanneer die NG Kerk in ’n proses van eenwording met ander kerke sou gevra word om Afrikaans as sy medium prys te gee, sodat sy prediking nie meer in dié taal kan plaasvind nie, en die omgang van sy lidmate eweneens na ’n ander taal moet omskakel – as dit die prys is wat betaal moet word vir eenheid, sal die NG Kerk myns insiens sê dié prys is te hoog.”