Afrikaanse Bybelvertaling

Bruin mense van Afrikanernasionalisme vervreem
January 23, 2015
Nuwe letterkundige beweging
January 23, 2015

Te midde van broederstryd, droogte en ekonomiese nood het 1933 tog ’n ligpunt gebring: die vertaling van die Bybel in Afrikaans. ’n Besluit om die Bybel te vertaal, is in 1916 op voorstel van doktor NJ van der Merwe geneem deur die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk, asook die Transvaalse Sinode van die Gereformeerde Kerk. ’n Proefvertaling het in 1922 verskyn onder die titel Die vier Evangelië en die Psalme – reeds die titel was aanduiding van die uiters konserwatiewe aard van die vertaling. Dit is baie ongunstig ontvang en onder meer “stompstert-Nederlands” genoem. In 1923 is die werkmetode verander en is besluit om uit die oorspronklike tale te vertaal, maar met inagneming van die Statenbijbel. Drie vertalers is aangewys: doktor JD du Toit (Totius) en doktor HCM Fourie (heeltyds) en doktor EE van Rooyen vir die Ou Testament en doktor JD Kestell (heeltyds) en doktor BB Keet vir die Nuwe Testament. ’n Proefvertaling, Die Evangelies en die Psalms (1929), is baie gunstig ontvang.

Op 29 Mei 1933 het ’n skeepsvrag van 10 000 eksemplare van die volledige Bybelvertaling by die kantore van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Kaapstad aangekom. Op Sondag, 27 Augustus 1933, is die Bybel in elke gemeente van die drie Afrikaanse kerke amptelik in ontvangs geneem. In Oktober is berig dat 200 000 eksemplare van die Bybel in nege maande gedruk is. Teen Desember is duisend Bybels per dag verkoop. Van Mei 1933 tot Desember 1934 is 266 875 Bybels uit Londen na Suid-Afrika verskeep. Die BBBG het verklaar dat dit ’n rekord is wat nie maklik geëwenaar sal word deur die verkope van enige eerste uitgawe in ’n nuwe taal nie. Tot 1990 is daar 10 miljoen Afrikaanse Bybels verkoop; daarvan was 2,5 miljoen van ’n nuwe vertaling van 1983.

Weens die kerke se belangstelling in die Bybelvertaling is die verafrikaansing van die Psalm- en Gesangeboek voorlopig aan private inisiatief oorgelaat. ’n Bundel gesange deur Langenhoven is in 1922 uitgegee, en ’n bundel Psalms deur Totius in 1923 en 1929. In 1924 het die Gereformeerdes Totius aangemoedig om met sy beryming voort te gaan, en het drie NG Sinodes die Bybelvereniging gevra om ’n nuwe Afrikaanse sangbundel saam te stel. Dié vereniging, wat in 1903 al vir ’n Nederlandse Halleluja gesorg het, het in 1931 Die nuwe Halleluja uitgegee met 75 psalms, 100 gesange en 230 vertaalde liedere uit die Halleluja en Engelse bundels. ’n NG predikant, doktor GBA Gerdener, het die werk daaraan onderneem.

Intussen het Totius met sy Psalmberymings voortgegaan; sy Psalmboek, vir veral die Gereformeerde Kerk, het in 1937 verskyn. Die Psalms en Gesange van die NG en die NH Kerk is in 1944 uitgegee. Party berymings, soos dié van Psalm 8 (“Daar is geen land, so ver of woes geleë”), is van Totius se mooiste poësie.

In 1934 het hy erkenning van ander aard vir sy digwerk gekry. Die Hertzog-prys is verdeel tussen een jong en twee ouer digters: Totius vir Passieblomme, CL Leipoldt vir Skoonheidstroos en WEG Louw vir Die ryke dwaas.