Afrikaans word onderwysmedium

Afrikanerverdeeldheid vererger
January 22, 2015
Generaal De la Rey word doodgeskiet
January 22, 2015

Die onderwysordonnansies van Transvaal, Kaapland en die Vrystaat is in 1911 en 1912 verander om voorsiening te maak vir onderwys deur albei amptelike tale. Daarvoor was die onderwys, veral in Kaapland, hoofsaaklik deur medium van Engels. In 1917 het net 14 640 van die 47 230 Afrikaanse kinders hul opleiding in Hollands gekry, 18 371 in Engels en 14 219 in albei tale. In beginsel het die huistaal in 1912 die verpligte medium geword. Maar dié huistaal was vir Afrikaners amptelik nog Hollands. Ook hieraan het daar verandering gekom deur die toedoen van onder andere doktor Tobie Muller en Langenhoven.

Muller was die briljante seun van die teologieprofessor CFJ Muller wat in die oorlog sterk Boergesind was. Tobie Muller, wat sy doktorsgraad in teologie aan die Rijksuniversiteit Utrecht met lof behaal het, was as student op Stellenbosch al ’n taalstryder en het ’n tak van die ATV daar gestig. In 1914 het hy die eerste preek in Afrikaans op Stellenbosch gelewer, maar die kerkraad het verontwaardig geëis dat hy net Nederlands moes gebruik. Hy het bedank, maar ’n kompromis is bereik dat hy net by sekere geleenthede vir studente in Afrikaans kan preek. In Die geloofsbelydenis van ’n Nasionalist het hy in 1913 die betekenis van die erkenning van Afrikaans as onderwysmedium vir die selfrespek van die Afrikaner beredeneer. Die kinders wat op skool met Nederlands of Engels begin, kan nie sonder foute skrywe nie. Afrikaans is vir hulle makliker. Deur Afrikaans as voertaal sal hulle die neerdrukkende en vernederende verwyt kwyt raak dat hulle nie eers die eenvoudigste brief foutloos kan opstel nie. “Die wins in nasionale selfrespek onder ’n groot deel van ons volk sal, by so ’n metode van onderwys, onskatbaar groot wees”, het hy gesê.

Sy betoog het ingehou dat Afrikaans bevorder moes word met politieke middele, want die enigste liggame wat Afrikaans as onderwysmedium kon erken, was die provinsiale rade. Muller se Geloofsbelydenis het Langenhoven aangespoor om Afrikaans langs politieke weg te bevorder. Hy is onbestrede gekies tot lid van die Provinsiale Raad vir Oudtshoorn.

Toe hy vir sy eerste sitting in die Kaap aankom, het hy met die voormanne van die Afrikaanse beweging gepraat oor sy beoogde maatreël dat Afrikaans erken word as onderrigmedium vir Afrikaanse kinders. Hulle het hom aangeraai om eers te wag totdat Afrikaans verder in die pers en letterkunde gevorder het. Hy het hul raad geïgnoreer en die politici bearbei. Eers het hy die lede van sy eie party, die Suid-Afrikaanse Party, oorgehaal, soms met behulp van Muller se werk. Toe het hy met die Administrateur, sir Frederic de Waal, en Superintendent-generaal van Onderwys, Thomas Muir, gepraat en ten slotte die koukus van die Britsgesinde opposisieparty, die Unioniste, toegespreek. Hy het sy voorstel op 23 April 1914 gedoen en dit is ná ’n paar toesprake onbestrede aangeneem. Ons Land en die Cape Times het die mosie doodgeswyg. Die Vrystaat en Transvaal het op 15 Junie en 23 Junie 1914 dieselfde besluit. Die eerste keer het wetgewende liggame Afrikaans erken.