Afrikaans word ’n amptelike taal

Bloeitydperk van Nasionalisme
January 22, 2015
Verwoes, verwoes, verwoes
January 22, 2015

Die Zuidafrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (sedert 1942 Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) het in 1915 die spelreëls van sy taalkommissie goedgekeur en die eerste druk van die Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls het in 1917 verskyn. In 1918 het die Volksraad ’n voorstel van JHH de Waal in gewysigde vorm aangeneem. Dit het gelui “dat Afrikaans wordt inbegrepen onder Hollands als een van de offisiële talen der Unie”. Daar was egter twyfel oor die geldigheid van dié besluit. Om dit uit die weg te neem, het die Minister van Onderwys, doktor DF Malan, in 1925 ’n gekose komitee aangestel. Dié het ’n wetsontwerp aanbeveel wat in Mei 1925 aangeneem is. Dit was Wet No. 8 van 1925, wat bepaal: “Het woord ‘hollandse’ in artikel honderd zeven en dertig van de Zuid-Afrika Wet, 1909, en elders in die Wet waar dat woord voorkomt, wordt hierbij verklaard het Afrikaans in te sluiten.” Die wet is terugwerkend gemaak van 31 Mei 1910. Volgens die letter van die wet het Nederlands ’n ampstaal gebly tot in 1983. Wysigings aan wette van voor 1925 moes in Nederlands aangebring word totdat die Volksraad in 1955 besluit het om alle Nederlandse wette te vertaal.

Die Parlementêre kommissie oor Afrikaans het gemeen dis wenslik dat die regering ’n standaard-Afrikaanse woordeboek subsidieer. De Waal het ’n voorstel van staatsteun vir ’n woordeboek in 1925 gemotiveer met ’n betoog dat dit nodig is vir parlementslede, staatsdiens, regters, magistrate, staatsamptenare, akademici en onderwysers. Hy het Nederland voorgehou as voorbeeld van ’n land wat sy woordeboek geldelik steun. So het die Woordeboek van die Afrikaanse Taal tot stand gekom met geldelike hulp van die Nasionale Pers en daarna die Universiteit van Stellenbosch en die staat. In 1931 het die Engels-Afrikaanse en in 1936 die Afrikaans-Engelse dele van die Tweetalige Woordeboek van DB Bosman en IW van der Merwe (Boerneef) verskyn; tot 1949 is 38 000 eksemplare daarvan verkoop. In die vyftigerjare is begin met ’n ingrypende hersiening.

Die Departement van Binnelandse Sake het op 1 Julie 1930 ’n Staats-vertaalburo geskep. Aanvanklik is veral Engelse stukke in Afrikaans vertaal, maar algaande ook al hoe meer Afrikaans in Engels. Die staatsvertalers het baie gedoen om die Afrikaanse vaktaal te standaardiseer. MJ Posthumus, taalkundige en vertaler, het in 1955 geskryf dat daar tóé meer as 100 000 vakterme in die Afrikaanse vaktaal opgeneem is. “Dit is min of meer ’n weerspieëling van die groei van Afrikaans op tegniese gebied in dertig jaar. Die meeste tale het vir so ’n groei ’n paar eeue nodig, nie dertig jaar nie, maar ons moes natuurlik onder dwang werk of ondergaan.” Staats- en private instansies het naas woordeboeke Afrikaanse en Engelse vakboeke, ensiklopedieë en handleidings uitgegee soos geneeskunde- en rekenaarwoordeboeke. In 1991 het die taalkundige Johan Combrink geskryf Afrikaans is die gekodifiseerdste taal in Suid-Afrika – die taal wat die beste opgeteken en gestandaardiseer is in grammatikaboeke.