Afrikaans vir godsdiens en onderwys

’n Baanbreker van die Paarl
April 13, 2015
Die “Dutch Mark” om die nek
April 15, 2015

Baie van die mense wat tot in dié tyd Afrikaans as skryftaal gebruik het, was nie-Afrikaners, en sommige van hulle is buite Suid-Afrika gebore. Ook sjeik Abu Bakr Effendi (1835–1880) was so iemand. Abu Bakr, ’n Koerd wat in Turkye gebore is, was ’n Islamitiese godsdiens-onderwyser wat Afrikaans as godsdienstige taal vir die Kaapse Moslems gebruik het.

Abu Bakr is in 1862 oor Engeland na Kaapstad gestuur nadat Moslems aan die Kaap ’n versoek via die Turkse ambassadeur in Londen aan die Turkse owerheid gerig het. In 1869 het hy ten behoewe van die onderwys in die Islam aan die Maleise gemeenskap die Bayan-udDin (verduideliking van godsdiens) geskryf. Dit is ’n tweetalige werk in Arabies en Afrikaans, met voorredes in Turks, Arabies en Afrikaans. Die Afrikaanse teks is ’n wydlopige parafrase van ’n handboek van Moslem-reëls, met allerhande verduidelikings, en is deur Abu Bakr geskryf. Dit is so gerangskik dat daar telkens op ’n Arabiese sin die Afrikaanse vertaling en verduideliking volg – geskrywe in Arabiese letters.

Waarom het hy Afrikaans gebruik? Abu Bakr skryf dis nodig dat hy die taal wat meer verstaanbaar is, moet skryf sodat die mense die godsdiens “met gemak op die regte manier kan leer ken”. ’n Mens moet hieruit aflei dat die Moslems gesukkel het om Arabies te verstaan omdat Afrikaans hulle moedertaal was.

’n Hele reeks Arabies-Afrikaanse publikasies het op die Bayan-udDin gevolg, wat almal op die een of ander manier met die Islam verband hou. Verder is ook ’n aantal Afrikaanse Islamtekste in Romeinse letters uitgegee. In 1985 het sjeg Abu Bakr Najaar van Kaapstad verklaar dat die eerste Arabies-Afrikaanse boekie reeds in 1840 verskyn het. Die boekie, oor godsdienstige gebruike van die Islam, is volgens die rekords van die Suid-Afrikaanse Biblioteek in 1877 in Istanboel herdruk, met ’n Turkse, Arabiese en Afrikaanse inleiding (in Arabiese letters). In 1862 is ’n Moslem Theological School in Kaapstad gestig wat ondanks die Engelse naam Afrikaans as voertaal gehad het.

Van 1859 af is die Morawiese Sendinggenootskap se drukpers op Genadendal (wat in 1837 uit Nederland ontvang is maar weens gebrek aan ruimte nie in bedryf was nie) gebruik vir publikasies soos die maandblad De Bode (sedert Desember 1859). Die aanvanklike oplaag was 300 kopieë per jaar. In ’n vorm van Afrikaans het Oom Louw Gezels in 1862 en 1873 land- en wêreld-nuusgebeurtenisse vertel. In September 1873 het hy geskryf: “Baijan mensche, oom, werk moes nou aan de spoorweg, oom weet moes, die wat van Wellington naar Woester loop, helle krij nou een goeije betaal dat helle kan bestaan.” Die sendingstasie het druk van die Kaapse regering weerstaan om die sendingskool te verengels sodat dit studente van ander genootskappe kon inneem. Die besluit is in Morawië geneem en was in ooreenstemming met die Duitse sendingbeleid om, waar moontlik, inheemse tale te behou.

In 1873 het Benigna van Groenkloof of Mamre. Een verhaal voor de Christen Kleurlingen van Zuid-Afrika door een hunner leraars verskyn. Dit is die vertelling van ’n lewensgeskiedenis, dié van Rosetta wat uiteindelik Benigna word en ’n godvrugtige lewe lei. Daar is al beweer dat dit die eerste Afrikaanse roman is. Wium van Zyl wys egter daarop dat dit in Nederlands geskryf is met die dialoog “min of meer in Afrikaans”. Die verhaal het relatief min dialoog, maar dit is interessant as bron by die studie van Afrikaans.

By sendingstasies, selfs noord van die Oranjerivier, was Khoi-Afrikaans die omgangstaal, al het die sendelinge dit nie altyd gebruik nie, want sommige het hulle van Hollands bedien. Gedoopte Khoin het soms op Khoi neergesien en Hollands geskryf en probeer praat. Onder sprekers van Kaapse en Oranjerivierafrikaans is kerkdienste van die Anglikaase Kerk van Suider-Afrika soms in Afrikaans gehou. Sowel die Hollands van die Bybel is as Afrikaans is teen die 1860’s en 1870’s in Afrikaanse sendinggemeentes gebruik.