Afrikaans of Nederlands?

President Kruger se begrafnis
January 23, 2015
De Goede Hoop
January 23, 2015

Afrikaanse politici, predikante, joernaliste en onderwysleiers het, soos Zietsman dit stel, die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te bewaar. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en verag. Taalorganisasies, kerke, politieke partye, onderwysers- en vroueverenigings het aan die taalstryd deelgeneem. Op talle herbegrafnisse van oorlogslagoffers en onthullings van oorlogsmonumente het die leiers dit beklemtoon dat die kampslagoffers en burgers ook ter wille van hul geliefde taal gesterf het. Hul getrouheid tot die dood roep Afrikaners op tot dieselfde trou teenoor taal en volk. Die taal en godsdiens is al wat hulle nog oor het, en dit sal hulle nooit prysgee nie.

Die taalstryd het die aanmoediging en steun van Hollanders en Vlaminge geniet. Sowat 80 000 boeke is van 1903 tot 1906 uit Nederland na Suid-Afrika gestuur. Hulle is gretig gelees, en voornemende leners moes hulle name op waglyste plaas. ’n Paar Afrikanerboeke oor die oorlog het in Nederlands verskyn, onder meer Zes maanden bij de Commando’s deur Nico Hofmeyr (1903), Met de Boeren-command’’s deur JD Kestell (1903), en die beroemdste van almal, De strijd tusschen Boer en Brit (1903), deur generaal De Wet. Terwyl hy, Botha en De la Rey met die skip na Europa op pad was om geld vir die weduwees en wese te kollekteer, het De Wet van vroeg die oggend tot laat die aand geskryf en dan aan dominee Kestell oorgelaat om dit “in literariese vorm te bring”. Die belangstelling was so groot dat die eerste oplaag by Höveker & Wormser, Amsterdam en Pretoria, in ongebonde seksies uitverkoop is. Dit het talle drukke gehad en is in ses tale vertaal.

Taalstryders het verwys na die weerstand van ander taalgemeenskappe teen assimilasie: Walliessprekendes in Engeland, Franstaliges in Kanada, die Pole in Rusland en Pruise, die Serwiërs, Boelgare, Roemene en Grieke onder Turkse heerskappy. Maar die groot inspirasie was die Vlaamse beweging, waaroor talle berigte geplaas is.

Afrikanernasionaliste was aanvanklik oënskynlik neutraal oor Afrikaans en Nederlands. Professor WJ Viljoen het in 1906 gesê dat verreweg die meeste patriotiese Afrikaners besliste teenstanders van Afrikaans as skryftaal was en in die keuse tussen Afrikaans en Engels onvoorwaardelik Engels sou kies. Dekades later het ’n taalkundige, TH le Roux, gesê dat Viljoen nader aan die waarheid gekom het as DF Malherbe wat die teenstanders van Afrikaans op hoogstens 1% van die Afrikaanstaliges geskat het. Daar was sterk argumente om Nederlands te beskou as die doeltreffendste instrument teen verengelsing. Dit was ’n taal met ’n groot letterkunde en was in Suid-Afrika gevestig as kerk- en Bybeltaal. Voorstanders van Nederlands kon daarop wys dat ’n kloof tussen spreek- en skryftaal niks vreemds is nie. ’n Onderwysman, doktor GG Cillié, het in 1907 gesê: “In Switserland praat ’n professor één taal in de klaskamer en ’n andere taal of dialek tuis. Waarom nie in SA nie?”