Adam Tas (1668-1722)

PORT ELIZABETH – VERLEDE EN HEDE
August 20, 2018
Ryk Tulbagh (1699-1771)
August 20, 2018

TIRANNIE KRY ’N LELIKE KLAP

Die naam van Adam Tas en die “Van der Stel-kwessie” sal altyd met mekaar in verband gebring word. Die beweging van 1705, waarin Tas en Willem Adriaan van der Stel van die hooffigure was, is van besondere belang in die geskiedenis van ons vaderland, want hier sien ons reeds die eerste spore van politieke lewe onder die Kaapse koloniste. Heeltemal tereg merk prof. Leo Fouché op: “Adam Tas en de mannen van 1705 die de rechten en voorrechten der kolonisten zo onmiskenbaar geformuleerd en zo dapper gehandhaafd hebben, mogen dus met recht genoemd worden de grondleggers van ons politieke zelfbewustzijn. Zy hebben ook bijgedragen, en in geen geringe mate, tot de vorming van het Afrikanervolk.”

Wanneer Van der Stel sy teenstanders op beledigende toon die skeldnaam “boeren” toevoeg, besef ons dat hy nie ’n klas of gemeenskap aanval nie; hy benoem ’n nasie – dié nasie wat gestalte gekry het as gevolg van sy hooghartige tirannie.

Adam Tas, die “scheinheilige schoft”, die “sierlike schrijver” van die beweging, is te Amsterdam gebore in die jaar 1668. Nadat hy ’n deeglike handelsopleiding geniet het, kom hy byna dertig jaar later as vryburger na die Kaap en woon aanvanklik by sy oom, Henning Husing, in, as sy privaat sekretaris. Husing was teen hierdie tyd een van die rykste en mees gesiene boere aan die Kaap. Spoedig het ook Tas in die guns van die owerhede gekom en in 1699 word hy aangestel as “Vaandrig der Burger-infanterie.”

Foto: Adam Tas (Denkbeeldige tekening)

In 1703 tree hy met “een rijke boerinne”, Elizabeth van Brakel, in die huwelik. Van haar eggenoot, Hans Jurgen Grimpe, het die weduwee ’n pragtige, goedbeboude plaas in die distrik Stellenbosch ontvang, sodat Tas, volgens Willem Adriaan, op ’n “graazige klaverweide” te lande gekom het.

Vanaf die bewindsaanvaarding van die trotse Willem Adriaan was dit vir die koloniste duidelik dat hulle nuwe goewerneur nie alleen van plan was om self op groot skaal te boer nie, maar dat hy ook die monopolie van die verskillende vertakkings van die landboubedryf in sy eie, en in die hande van ’n uitgesoekte amptenaarskliek wou konsentreer. Hierteen het die burgers hulle met mening verset.

Die beweging teen die “Oosters Potentaat” het in die eerste plaas van Husing uitgegaan, maar dit was Tas wat die klagskrif teen die goewerneur opgetrek het. Sy politieke aanleg, skryftalent en hoë ontwikkelingspeil het hom spoedig tot die siel van die beweging gemaak. Jakobus van der Heiden, Pieter van der Bijl, Guillaume du Toit, Hercules du Preez en Wessel Pretorius was van die ander samesweerders. Sodra die goewerneur van die retoervloot hoor dat daar oor sy doen en late in Batavia gekla is, laat hy onmiddellik in die nag van 27 Februarie 1706 vir Tas arresteer en na die Kasteel vervoer. Sy lessenaar word ook in beslag geneem en hoewel die klagskrif reeds veilig in die hande van Abraham Bogaert van die retoervloot was, kon die goewerneur uit ’n afskrif daarvan aflei wie dit onderteken het. Verdere arreste was die gevolg.

Dertien maande en sewe dae sit Tas in die tronk- ’n Letterlike skrikbewind word deur die goewerneur en sy kliek op tou gesit en “konfessies” is op die wreedste wyse van die ongelukkige gevangenes afgedwing. Maar op 16 April 1707 kom die beslissing van die Bewindhebbers; die boere se optrede is goedgekeur en Van der Stel en die hoofamptenare kry hul ontslag. Tas en sy makkers word onmiddellik op vrye voet gestel. Dit was ’n triomf vir die burgers. So verheug was Tas oor sy vryheid, dat hy sy plaas herdoop het tot “Libertas”.

Die laaste jare van sy lewe het hy rustig op sy mooi plaas deurgebring. Sy innemende maniere, sy groot belesenheid en veral sy gesellige geaardheid het hom steeds baie gewild gemaak en tot sy dood, in Junie 1722, het hy ook die vertroue van die owerheid geniet.

 

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.