Aanplanting en vernietiging van bome

Vernietiging en bewaring
May 29, 2015
Transvaalse en Vrystaatse redakteurs
June 1, 2015

Saam met die Voor- en Agternatrekkers is groentesaad en vrugtestiggies en -pitte na die binneland geneem. Appel- en peerbome, bome wat in die 1840erjare geplant is, staan nog in die Oos-Vrystaat. Een van die oudste Suid-Afrikaanse vrugtesoorte, die St. Helena-perske, wat waarskynlik deur Jan van Riebeeck van die eiland St. Helena ingevoer is, het in die binneland bekend geraak as die Transvaalse geelperske. Uit ’n pitboom wat by Kakamas opgekom het, is die smaaklike Kakamas-variëteit in die 20ste eeu ontwikkel. Behalwe die St. Helena-perske, weens sy kleur die appelkoosperske genoem, was die wit parwee in die 19de eeu bekend in die Wes-Kaap. Die wit parwee en beetperske met sy rooi skil en pitvleis was ook elders baie gesog; tot in die 20ste eeu. Ook van ander vrugte het daar in Suid-Afrika nuwe variëteite ontstaan, soos die Wemmershoek- en Versfeld-appels, wat egter in die 20ste eeu hul gewildheid en waarde verloor het.

MER vertel dat die ou dorpe in die Kaapkolonie in die laaste kwart van die 19de eeu vol vrugte was en dat vrugtesiektes onbekend was: appelkose, perskes, appels en pere het gesond aan die bome ontwikkel. Oor Swellendam sê sy: “Op onse grond was daar twee rye soetsaffraanpere, so ’n dertig, veertig voet hoog en meer; die seuns moes ’n ent klim voor hulle by die takke gekom het. […] Eendag sal die vernuftige kwekers miskien weer die lekker ou soetsaffraan in ere herstel, en die bergamot en die wurgpeertjie en die langlysie; die agie-appel, die soet appel, die gulderling. […] Ek onthou drie groot witvybome in onse bure se agterplaas wat baie hoër as hulle staandakhuis was en elke jaar massas vrugte gedra het. Koejawelbome, perskebome en appelkose moes altyd beklim word om die vrugte by te kom.”

Van Van Riebeeck se tyd af is verskeie van ons bekendste boomsoorte ingevoer. Sommige was nuttig, maar ander het soos onkruid geword. Die eikeboom, die populier en eik kom uit Europa, die peperboom uit Chili en die bloekom uit Australië. Uit Australië kom ook verskeie soorte akasias. Die Port Jackson en rooikrans is gebruik om die waaisand van die Kaapse Vlakte te bind. ’n Ander Australiese indringer was die hakeas. Hulle kon nie in die sand regkom nie, maar is oral in tuine as heining- en sierplante gebruik. Daarvandaan het hulle na die veld en berghellings versprei en proteas en heide verdring.

’n Groot ramp in Suid-Afrika se natuurgeskiedenis is die uitroei van die stink- en geelhoutbome van die Suid-Kaap. Geelhout en soms stinkhout is gebruik vir die dwarslêers van die eerste spoorlyne. In 1894 is ’n verduursamingsinrigting by Knysna opgerig, en tot 1900 is ’n ongelooflike 1 425 794 geelhoutdwarslêers daar behandel!

Die grootste bosbrand in die land se geskiedenis het in 1869 ontstaan en oor 600 kilometer dele van die distrikte Swellendam, Riversdal, Mosselbaai, George, Humansdorp en Uitenhage kaal gestroop. Mnr HB Darnell het beskryf hoe die brand sy plaas by Knysna verwoes het. “Geen verwoesting kan so volkome wees nie. Alles is uitgewis: huise, bome, boorde, houtbos, alles. Die natuur kan nooit weer die deftige ou bome, party meer as dertig voet in omvang, wat op die rivierwal oorkant die huis gestaan het, herstel nie. Ek het langs die rivierwalle baie lewend verbrande bosbokke en een of twee olifante aangetref, maar geen teken van lewe nie, behalwe ’n ou bobbejaan wat besig was om saggies te weeklaag oor die verwoesting; geen geluid kon gehoor word nie behalwe die gekraak van die magtige bome as hulle fluitend in die water val.”