Aanhitsers van ’n oorlog

Engels vorder in die kerk
January 22, 2015
Krisis oor ’n rewolwerskoot
January 22, 2015

Engels was teen die end van die 19de eeu die huistaal van verskeie vooraanstaande Afrikaners in Kaapstad. Toe ’n Afrikanerouerpaar van hul dogter op Wellington ’n brief ontvang met ’n Afrikaanse woord daarin, het die moeder ontsteld uitgeroep: “She is starting to use Cape Dutch at Wellington. She must come back at once, at once!” Die aanvaarding van Engels deur soveel Afrikaners toon dat hulle nie die Engelse as vyande beskou het nie. Die vyand was vir hulle die kapitaliste, mense soos Rhodes en Phillips, wat albei ’n belangrike rol in die Jameson-inval gespeel het. Die kapitaliste het Suid-Afrika reeds ekonomies beheer, en hulle wou dit ook polities beheer en van die Afrikaners knegte maak in hul eie land. Dit was die opvatting van leiers soos president Steyn tot koerante soos De Expres en De Volksstem.

Die mynbase Beit, Wernher en Fitzpatrick was inderdaad oorlogaanhitsers. Die kapitalisme en imperialisme was bondgenote. Die kolonies kon grondstowwe vir die koloniale moondheid lewer, wat weer kapitaal en verwerkte produkte daarheen kon uitvoer. Transvaal met sy goudvelde was ’n begeerlike buit, en bowendien wou Brittanje sorg dat sy vernaamste mededinger Duitsland nie Britse belange in Afrika bedreig nie. Die Duitse keiser Wilhelm II, het ná die sukses van die Jameson-inval ’n telegram van gelukwensing aan Kruger gestuur. Duitsland het egter besef dat Engeland oppermagtig ter see is en sy vriendelikheid teenoor Transvaal het verkoel. In 1898 het Engeland en Duitsland ’n verdrag oor Portugese kolonies gesluit, wat Transvaal aan Britse genade oorgelaat het.

Van 1896 af het die verhouding tussen Engeland en Transvaal al hoe meer gespanne geraak. Daar was ’n gedurige briefwisseling met Joseph Chamberlain, Britse minister van kolonies, wat aangehits en gesteun is deur Rhodes en die South African League, ’n nuwe organisasie van die Kaapse vyande van Transvaal. Hulle wou ’n verenigde Suid-Afrika onder die Britse vlag hê, en dit het ingehou dat die republieke vernietig moes word. Op 5 Mei 1897 het sir Alfred Milner in Kaapstad aangekom as goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika. Sy ideaal was die bevordering van die Britse Ryk. Self het hy verklaar: “I am an imperialist … because I am a British race patriot.” Bo alles wou hy die “heerskappy van Afrikanerdom” breek, soos hy later aan die Kaapse politikus James Molteno gesê het.

Terwyl Milner bang was dat Chamberlain dalk minder kragtig teen Transvaal kon optree, het die minister van oorlog, lord Lansdowne, as opperbevelhebber van die Britse troepe in Suid-Afrika iemand gestuur wat oorlog wou keer. Hy was generaal sir William Butler. Met sy aankoms in 1898 het hy sy verbasing uitgespreek oor die wyse waarop die Engelse pers alles wat “Dutch” was, beskimp en belaster het. Die stelselmatige verdraaiing van feite en die verspreiding van valse berigte het hy beskou as ’n ontsaglike sindikaat van leuenagtige beriggewing wat doelbewus op oorlog afgestuur het. Agter alles het hy die verderflike invloed van Rhodes bespeur. Rhodes en sy makkers het inderdaad die hele Engelse pers beheer.