Na 1994 is die vraag of die Afrikaner weer sal opstaan soos na 1902. Stoflik en kultureel is hy in ’n veel beter posisie, hoewel armoede en ellende ook toeneem. Die vraag is egter of die wil om etniese oorlewing bestaan, en of Afrikaners hulle identiteit in ’n kwynende private kring sal probeer uitleef. Die geskiedenis handel nie lig met minderheidsgroepe sonder grondgebied of mag nie. Naas kunstefeeste en ’n algemene kulturele oplewing, is die strewe na politieke vryheid maar flou. Die vraag is of die Afrikaner oor die lang termyn kan oorleef daarsonder en of die grondslae wat vir politieke herlewing gelê is, tot iets groter sal lei.

Blanke kiesers het die onderhandelingsproses met swart bevrydingsorganisasies in ’n referendum in 1992 met twee derdes die groen lig gegee. Afrikaners wat hulle nie met magsverlies kon versoen nie, het hulleself al meer gemobiliseer. ’n Klein groepie onder die Afrikanervryheidstigting (AVSTIG), wat hulle lank reeds vir ’n “volkstaat” gebou op Afrikanerarbeid en meerderheidsbesetting beywer het, het hulle oë op ’n gebied in die Noordwes-Kaap gerig. As loodsprojek is die dorp Orania gekoop en op “volkstaatbeginsels” bedryf. Nog ’n groep het burgerlike weerstand georganiseer en beplan om ’n volkstaat uit te roep waar Afrikaners in groot getalle gekonsentreer was. Die hoogs gerespekteerde oud-hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag het hieraan stukrag verleen toe hy ’n leiersfiguur in die nuwe Afrikanervolksfront geword het. Hierdie mense kon die proses verongeluk.

Die president van Bophutatswana, Lucas Mangope, het die Volksfront se hulp ingeroep, omdat Suid-Afrika hom wou dwing om weer daarby in te skakel. Regse ekstremiste, wat hulle aan geen bevel onderwerp het nie, het hierdie operasie verongeluk. Hulle het ook effektief die volkstaatstrewe in huidige Afrikaner konsentrasies beëindig. Generaal Viljoen, die ANC en die destydse regering het besef dat sleg ’n bevredigende skikking chaos en burgeroorlog sou voorkom. Die ANC was nie oortuig dat die volkstaatgedagte wel steun gehad het nie en daar is beloof om sekere meganismes in werking te stel, as die verkiesing op 27 April 1994 genoegsame steun sou bewys. Op grond hiervan is die Vryheidsfront as politieke party geregistreer en ’n vreedsame verkiesing is verseker.

Akkoord-tussen-Vryheidsfront-en-ANC-1994

Die Vryheidsfront se prestasie by die stembus was voldoende om sekere meganismes in werking te stel. Die belangrikste gevolg daarvan was bepalings in die finale grondwet van Suid-Afrika (1996). Hoewel dié bepalings die regering nie verplig om selfbeskikking vir Afrikaners te bewerkstellig nie, gee dit wettige status daaraan. Dit laat die bal in Afrikaners se eie hande, of die strewe tot werklikheid omskep kan word.

Grondwetlike-bepalings-vir-selfbeskikking

Met die strewe na selfbeskikking as grondwetlike reg bevestig, is besluit om die regering vir meer besliste stappe te vra. Daar is geredeneer dat Afrikaners hulle makliker tot die ontwikkeling van ’n nuwe gebied sou verbind, indien dit amptelike regeringsbeleid is. Dit het nie gebeur nie, maar die verantwoordelike minister het wel bo twyfel gestel dat die strewe na selfbeskikking tussen die Oranjerivier en die Weskus ’n “legitimate pursuit” is. Van hier af, hang die toekoms net van Afrikaners self af.

Moosa-verklaring-oor-Noordwes-Korridor-1998