Foto 1

Teleurstellende versoening

Springbok captain Francois Pienaar (right) receives the Rugby Wo

Nelson Mandela en Francois Pienaar

Na afloop van die verkiesing op 27 April 1994 het Nelson Mandela Suid-Afrika se nuwe president geword. Hy het ’n versoenende hand na Afrikaners uitgesteek met die woorde: “Die uitdaging van die Nuwe Patriotisme is nie een van ’n keuse tussen Afrikanerdom en Suid-Afrikanerskap nie. Inteendeel, dit is gewis oor die genesende versoening van Afrikaners met volle Suid-Afrikanerskap.” Veral sport het ’n belangrike samebindende krag geword. Alle Suid-Afrikaners was trots toe die Springbokke in 1995 die Wêreldbeker-rugby wen onder leiding van die kaptein, Francois Pienaar. Die gebeure waar Mandela in ’n nr. 10-Springboktrui saam met Pienaar die trofee vashou, het ’n simbool geword van ’n wen-nasie; van versoening tussen wit en swart, van ’n werklike nuwe Suid-Afrika.

Ten spyte van die aanvanklike belowende versoening het Afrikaners spoedig onder groot druk gekom. Die nuwe Suid-Afrika het Afrikaners met twee kernvrae gekonfronteer. Eerstens moes Afrikaners aan hulself vra of daar nog plek is vir Afrikaners in Afrika?

Dit was ’n moeilike vraag vir Afrikaners om te beantwoord. Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede het bereken dat meer as ’n miljoen Afrikaners in een dekade (1995‒2005) die land permanent verlaat het. Dit is ongeveer 20% van wit Suid-Afrikaners. Afrikaners se getalle het demografies afgeneem en vir die eerste keer in dekades het die Afrikaners beleef wat dit werklik beteken om ’n minderheidsgemeenskap te wees. Dit was asof Afrikaners self die vraag ontkennend beantwoord het.

Ondanks die besluit van die onderhandelaars in 1993 om 11 tale landswyd as amptelike tale te erken en gerustellings deur die ANC oor die plek van Afrikaans, het die taal onder toenemende druk gekom. Die ANC wou van die begin af slegs een amptelike taal gehad het, naamlik Engels. Ten spyte van die grondwet en die ANC se ondernemings het Engels na hul bewindsaanvaarding die de facto-amptelike landstaal geword het. Afrikaans is doelbewus op baie lewensterreine uitgeskuif soos in die staatsdiens, die regstelsel en self in ’n toenemende mate op universiteitsvlak. Waar ’n Afrikanerjongmens in 1990 kon kies tussen vyf top Afrikaanse universiteite met Afrikaanse koshuise, is daar vandag maar net een of twee Afrikaanse universiteite oor. Afrikaanse skole het in so mate verengels dat hulle getalle gekrimp het van meer as ’n 1200 Afrikaanse skole voor 1994 na minder as 600 Afrikaanse skole landswyd (sowat 400 laerskole en 200 hoërskole).

Die snelle verryking van die swart elite, die ontplooiing van die kaderbeleid, regstellende aksie, ideologies gedrewe transformasie, kaderontplooiing, die soustrein van die nuwe bewind, die brutaliteit en omvang van die plaasmoorde saam met die misdaadgolf wat die land teen 2000 getref het, het baie Afrikaners onseker oor die land se toekoms gelaat. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers-direksie het die regering gewaarsku: “Afrikaners is hier nie weg te wens nie, en hoe meer daar taalmatig oor hulle gerol word, hoe stywer gaan hul rug word. Die korrekte benadering is tog sekerlik dat hulle ingenooi word om hul kundigheid tot die beskikking te stel van ons demokrasie, ook ter wille van die land se kommersiële opbou.”

Tweedens moes Afrikaners vir hulself beantwoord: Wil ons nog Afrikaners wees? Sommige Afrikaners het beleef dat hulle as minderheidsgroep gemarginaliseer en na willekeur as politieke slaansakke gebruik word. Ander Afrikaners was na die Waarheids-en-versoeningskommissie oorweldig deur ’n voortdurende skuldgevoel oor die verlede, selfs nadat feitlik elke groot Afrikanerorganisasie en -kerk verskoning vir apartheid gevra het.

Binne die konteks van hul eie ideologiese en politieke raamwerk het die ANC-regering boonop Afrikaners probeer definieer as “kolonialiste van ’n spesiale soort” (Mbeki-era) of “die enigste wit stam van Afrika” (die Zuma-era). Baie Afrikaners het hul selfvertroue verloor om as Afrikaners op te staan en standpunt te stel. Uit vrees vir etikettering, beskuldigings oor apartheid en etnosentriese verwyte het sommige Afrikaners gewillig, gedienstig en gedwee na allerhande maniere gesoek om polities korrek voor die regering te buig. Dit is ironies dat vrees, soos tydens die apartheidsjare, sommige Afrikaners se ideologiese lewensbeskouing bly bepaal.

Op die oog af het dit gelyk asof baie Afrikaners wou vergeet van hul Afrikanerskap. Baie vooraanstaande Afrikaners en selfs Afrikanerkultuurorganisasies het begin om hul Afrikaneridentiteit te onderspeel of selfs te ontken. Sommige het begin om die term Afrikaanses te gebruik, so asof slegs taalbande ’n kultuurgemeenskap se identiteit vorm. Bekende persone het selfs sover gegaan om amptelik in die openbaar te bedank as Afrikaners. Willem de Klerk skryf teen die einde van die negentigerjare: “Afrikanerwees is die laaste paar jaar kroes. Letterlik inmekaar gekrul, siek, olik. Afrikaners is aan die rondmaal soos ’n klomp vasgekeerde skape … Dan is daar die hink-en-pink Afrikaners wat etikette om hulself hang: die ontnugterdes; die rigtingloses; die sinici; die magteloses; die bedruktes; die beswaardes; die afwagtendes wat wag op ’n kaptein wat weer hekke sal oopmaak … Afrikaners het kroes geword. Ander klein volkies is in hulle kroesheid uiteindelik uitgewis.” Izak de Villiers beskryf die toestand van Afrikaners teen 2009 as “major depressie” met “skisofreniese simptome” soos “een dag treur hulle en die ander dag sien hulle net geleenthede. Of een sê hoop en die ander sê verwoesting”. De Villiers waarsku: “Ons sal moet end kry om ons grootste vyand te wees, want depressie is oorlog teen jouself.”

Opstaan

Afrikaners het die tweede vraag deur middel van nuwe sterk organisasies beantwoord. Die verlies aan politieke mag met die ontbinding van die Nasionale Party (NP) het Afrikaners gedwing om buite die politiek nuwe toekomsstrategieë te bedink. Afrikaners het hulself begin herorganiseer in sterk burgerlike organisasies. Bekende organisasies, byvoorbeeld die Voortrekkermonument, Die Voortrekkers, FAK, SAOU, FEDSAS, Solidariteit en die Rapportryers het saam met vele ander organisasies hulself herorganiseer en nuut verpak. Nuwe Afrikaner- burgerlike organisasies soos die Erfenisstigting, AfriForum, Akademia, Maroela Media en Afrisake het op die toneel verskyn.
Foto 3   Foto 4

Hierdie organisasies, wat elk ’n eie nismark bedien, het oor tyd met toenemende selfvertroue begin standpunt inneem oor taal-, kultuur-, onderwys- en burgerregtekwessies. Hulle opstaan teen die regering en standpunte oor ’n wye verskeidenheid van kwessies het aan Afrikaners nuwe selfvertroue gegee. In minder as ’n dekade het die Afrikanerorganisasies se gesamentlike ledetal dié van die NP op die hoogtepunt van sy mag verbygesteek. Dit sou egter ’n fout wees om te meen dat alle Afrikanerorganisasies uit een mond praat of aktuele sake noodwendig vanuit dieselfde oogpunt beskou. Binne Afrikanergeledere is daar soms skerp verskille en uiteenlopende standpunte. Ton Vosloo plaas dit in ’n nugter konteks as hy skryf: “Dit is verskriklik belangrik dat ons altyd daardie reg voorbehou dat ons van mekaar moet, mag en kan verskil. Ons is nie hier om eensgesind te wees nie. Dit is stimulerend en dit is die dinge wat Afrikaans sal laat oorleef. As ons die ou kodes net kan ontleer dat jy nie eintlik jou mond of jou bek te veel mag oopmaak nie.”

Afrikaanse musiek en kultuur het in die nuwe Suid-Afrika ’n nuwe groeifase beleef. Kunstefeeste, soos die Woordfees, KKNK en Aardklop word in groot getalle bygewoon en jaarliks is daar splinternuwe Afrikaanse musiek- en toneelproduksies. Musiekfeeste soos Huisgenoot-Skouspel en Afrikaans is Groot word deur duisende mense ondersteun. Die Afrikaanse filmbedryf het ook ’n nuwe groeitydperk beleef met die vervaardiging van talle nuwe Afrikaanse films. KykNET, die Afrikaanse televisiekanaal, is die vinnig groeiendste televisiekanaal in die land. In 2012 het die FAK ʼn nuwe Sangbundel bekendgestel waarin Afrikaanse liedere van 1980 tot 2012 opgeneem is.
Foto 5

Sangers soos Steve Hofmeyr het ’n spreekbuis vir Afrikaners geword en toegeneem in gewildheid. Oor die verandering van Pretoria se naam, sê Hofmeyr: “Ek verteenwoordig nie wit mense of Afrikaners nie. Ek is hier omdat ek nie wil hê ons erfenis moet misken word nie. Ek weet tot vandag toe nie wat Tshwane is nie. Eers was dit ’n rivier, toe ’n apie en nou ’n mens. Het Tshwane ooit bestaan?”

Foto 6 Bok van Blerk se De la Rey-lied het oornag ’n treffer geword. Afrikaanse letterkundiges soos die Hertzogprys-wenner Deon Opperman het die geskiedenis afgestof. Sy, Ons vir Jou-produksie was die eerste Afrikaanse musiekblyspel oor die Anglo-Boereoorlog. Die produksie het landswyd vol sale getrek.

 

Afrikanerorganisasies soos die FAK het leiding geneem met die reël van kulturele herdenkingsgeleenthede soos die Afrikaanse Bybel se tagtigste verjaarsdag en die Groot Trek se 175ste herdenking. Kulturele dae soos Geloftedag word in groter getalle as vantevore gevier.

Regstellende aksie een onvoorsiene gevolg gehad, naamlik ’n nuwe geslag Afrikaanse entrepreneurs wat sedert 1994 ontstaan het. Hierdie nuwe geslag Afrikaanse entrepreneurs speel ’n groot rol in die finansiële instandhouding van Afrikaanse kerke, skole en kultuur.

Afrikaners het stelselmatig hul verlede herontdek en daarmee saam met ’n toenemende nuwe selfvertroue hul stem laat hoor. De Villiers se profetiese woorde het waar geword. Die eerste tree uit genesing van depressie, is om te sê: “Ek wil lewe!”, of soos Totius in Die besembos uitroep: “my dood kry is min!”
foto 7
Ek is gebore waar sonneglore die lug daarbowe ontgloei;
waar die westewind, my vyandig gesind,
ontwaak om my top te verskroei;
waar die aarde se kors my brandende dors
met weinige druppeltjies les,
en die ryke seën van oorvloedige reën
my selde besproei in my dorre gewés;
waar die land lê en smag in ’n sonnebrand wat
my arme wortels wil knou,
en snags die ryp my blaartjies kom knyp dat ek byna sterwe van kou.

Van my eerste verskyning gedreig met verdwyning
het ek vreeslik gestry om te leef,
want vernielende magte met meerdere kragte
het my in my worsteling omsweef.
By droë jaar is my jeugdige blaar deur die osse se tong my ontruk,
en die menslike hand het my stamme verbrand,
met geweld van my wortels geruk.
En slaan soms die vlamme van die gras in my stamme –
tot bo in die blaartjies fyn –
dan staan ek te bewe tot my jeugdige lewe
in die ashoop geheel verdwyn.
Hoonlaggend trek dan die vlammende span
en my plekkie op aarde staan leeg;
net my assies lê daar, maar die winde vergaar
om ook dié uit die wêreld te vee.

Maar al slaan om my stam die woedende vlam
wat knett’rende vonke saai;
al kom al die winde, die kwalik gesinde,
om my as uit die wêreld te waai;
al kom ook die dier om sy eetlus te vier; al word ek gekap en gekloof;
al word ek gestowe deur die son daarbowe
wat my laaste sappe wil roof;
nogtans sien ek my hoogte in die vreeslikste droogte
met my altyd groenende top;
en my wortels verduur én droogte én vuur,
ja ek staan uit my as weer op.
Laat dan mense en diere, droogte en viere,
met al wat hul kwaad wil versin,
maar kom om te kap, te brand en te trap –
ek leef en sal lewe; my dood kry is min!