Met republiekwording is ’n sekere hoofstuk in Afrikaners se geskiedenis afgesluit. Die toekoms sou staan of val by die vraag of reg aan die swart bevolking kon geskied sonder om blankes se vryheid te vernietig. Die tuislandbeleid is as oplossing beskou, maar om verskeie redes het dit net Afrikaners oortuig: • Ekonomies ontwikkeling was stadig. • Tuislande se grondgebiede was versnipper en versprei, maar die politieke wil om dit uit te brei, was afwesig. • Blankes was nie bereid om sonder goedkoop swart arbeid in “blank Suid-Afrika” te funksioneer nie. Die gevolg was dat tuislande nie swartmense, die buitewêreld, of, uiteindelik, Afrikaners kon oortuig nie. Sedert 1984 het die land ’n lae intensiteit burgeroorlog beleef, met swart woongebiede wat onregeerbaar geword het. ’n Blote magstryd het gevolg, waarin die regering, tot internasionale ontsteltenis, die weermag teen sy eie burgers ingespan het. Die nuwe president, FW de Klerk, het die parlement in 1990 geopen met die dramatiese aankondiging dat verbode organisasies ontban en politiek gevangenes vrygelaat sou word, sodat ’n demokratiese bedeling onderhandel kon word. Dit was die einde van die Tweede Afrikaner, want opvolgende onderhandelings het gelei tot ’n bykans onaantasbare ANC-regering sedert 1994, en ’n grondwet wat aan Afrikaners die minimum beskerming bied.

De-Klerk-2-Februarie-1990