Grensoorlog

Foto 2

PW Botha met sy bekende spreekstyl

Suid-Afrika se nuwe Eerste Minister, PW Botha, was gekonfronteer met talle uitdagings. Hy het naam gemaak as ʼn uiters bekwame Minister van Verdediging en uitstekende administrateur. Na die ontstaan van onafhanklike Marxistiese swart state in Suider-Afrika het Suid-Afrika al meer in militêre operasies buite die grense van Suid-Afrika betrokke geraak. Die militêre bedreiging is vergroot deur die toenemende hulp wat vyandige buurstate van Kommunistiese Oosbloklande ontvang het, waaronder wapens, militêre opleiding en finansiële steun. In Angola is ’n gedugte Kubaanse militêre mag saamgetrek, terwyl Kubaanse, Oos-Duitse en Russiese personeel in Mosambiek, Zambië en Zimbabwe werksaam was. Die nuwe eerste minister van Zimbabwe, Robert Mugabe, was uitgesproke anti-Suid-Afrika. Terwyl die militêre bedreiging toegeneem het, het die Westerse lande toenemend as gevolg van die apartheidsbeleid hul rug op Suid-Afrika gedraai en ekonomiese sanksies geïmplementeer. Suid-Afrika het as die muishond van die wêreld bekend geword.

Foto 4_1 Vanaf 1966 tot 1989 was Suid-Afrika betrokke in die Grensoorlog, wat ook as die Angola-Bosoorlog bekend staan. Militêre diensplig was verpligtend vir alle jongmans en is eers in 1991 afgeskaf. Suid-Afrika het sy eie wapentuig ontwikkel en groot nywerhede soos Krygkor het ontstaan. Van die belangrike militêre operasies en veldslae was onder andere Cassinga, Savannah, Reindeer en Cuito Cuanavale.

 

Noodtoestand

Foto 7 Gewelddadige rasse-onluste het in die binneland opgevlam. In 1983 het ’n nuwe organisasie, die United Democratic Front (UDF), op die politieke toneel verskyn. Sowat 700 organisasies bestaande uit vroue-, kerk-, jeug-, sportorganisasies en vakbonde het onder een anti-apartheidsambreel verenig. Binne ’n paar maande het die UDF die mondstuk vir die verbode ANC-leiers in die buiteland geword. Vanaf 1984 het die UDF ’n strategie geloods om Suid-Afrika onregeerbaar te maak deur onrus, massa-optogte, geweld en sabotasie. Plaaslike regerings is lamgelê deur brandstigting, aanranding en moord. Die betaling van munisipale behuising, water en elektrisiteitsrekeninge en ander gemeenskapsdienste is geboikot. Gruwelike teregstellings soos halssnoermoorde het onder hul vaandel plaasgevind. Skares is opgestook met die slagkreet: “Ons met ons vuurhoutjiedosies en halssnoere sal hierdie land bevry”. Skole en onderwysers is deur radikale leerlinge geïntimideer met hul leuse: “Bevryding voor opvoeding”. Die gevolg van hierdie aksies was dat duisende swart skole ontwrig was en munisipale dienste in swart gebiede feitlik in duie gestort het. Vandag steier Suid-Afrika steeds onder die kultuur van niebetaling en geweld.

Foto 8

In die tagtigerjare is die noodtoestand afgekondig nadat swart woonbuurte onregeerbaar geword en onluste regoor die land versprei het. Die UDF-strategie is suksesvol bekamp, maar het ook ’n skaakmatposisie tot gevolg gehad. Magnus Malan, Minister van Verdediging, se waarskuwing dat die “stryd om oorlewing” elke burger van Suid-Afrika raak, het die dringendheid van die situasie beklemtoon. Constand Viljoen het hierby aangesluit met die waarskuwing: “Elke jaar wat verbygaan, raak Afrikaners se strategiese opsies minder.” Afrikaners het besef dat hulle die buitelandse en binnelandse militêre stryd suksesvol kon voortsit, maar dat ’n politieke oplossing gevind moet word.

Foto 9

Frederik van Zyl Slabbert saam met Thabo Mbeki in Dakar

Afrikaners soos Frederik van Zyl Slabbert het na ANC-leiers in die buiteland, soos Thabo Mbeki, begin uitreik. ’n Groep Afrikaners het onder leiding van Van Zyl Slabbert die ANC gedurende 1988 in Dakar ontmoet. Die inisiatief is egter nie deur die regering ondersteun nie en was met groot agterdog onder Afrikaners bejeën. Dit was nietemin ’n eerste kontak wat die klimaat geskep het vir die latere onderhandelinge tussen die regering en die ANC.

PW Botha het die binnelandse weerstand beskryf as ’n “totale aanslag” van kommuniste om die republiek op alle terreine lam te lê ter voorbereiding van ’n Marxistiese regering. Die direkte gevolg van die grensoorlog en binnelandse onluste was dat die Afrikaner- burgerlike samelewing grotendeels gefokus was op geestelike, fisiese en militêre weerbaarheid. In die skole was kadet- en weerbaarheidsperiodes om jong Afrikaners voor te berei op die diensplig na matriek.

Afrikanerskeurings

Die Nasionale Party (NP) was vir Afrikaners veel meer as net ’n politieke party. Die party was die beskermer en die draer van Afrikaners se Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing. Reeds in 1941 het DF Malan verklaar dat die NP geen gewone partypolitieke organisasie is nie. “Ons beklee ’n sentrale posisie in ons Afrikanervolkslewe. Skeur ons dan skeur ons hele volk in alle rigtings. Op ons, meer dan op enige ander, rus daarom in hierdie krisisuur die verantwoordelikheid om ’n eenheidsfront op te bou. Ons kan ons volk maak of ons kan hom breek.”

South African Conservative Party Leader Andries Treurnicht

Andries Treurnicht as leier van die Konserwatiewe Party

Die profetiese woorde van Malan is bewaarheid toe Andries Treurnicht, leier van die Transvaalse Nasionale Party en kabinetsminister, in 1982 wegbreek van die NP om die Konserwatiewe Party (KP) te stig. Die KP het vinnig steun onder Afrikaners gewen en in 1987 die amptelike opposisie in die parlement geword.

Die krisis waarin Afrikaners hulself bevind het, was veel dieper as verskillende politieke rigtings of ’n ekonomiese knyptang weens buitelandse sanksie. Ten diepste was dit ’n ideële krisis. Carel Boshoff beskryf die krisis as “ʼn voortbestaan of oorlewingsvraag … in die diepste sin van die woord as ’n allesomvattende kultuurkrisis.” Die Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing was vir meer as ’n eeu die grondslag van Afrikaners se politieke, kulturele en godsdienstige denke en aktiwiteite. Die Bybel, saam met Afrikaners se nasionale belang en aspirasies, was die vertrekpunt vir hul doen en late. Na die Anglo-Boereoorlog was Christelik-nasionalisme die ideële dryfveer om Afrikaanse skole, koerante, universiteite en organisasies te stig. Waar die Christelik-nasionale denkraamwerk aanvanklik ’n stukrag was om Afrikanerbelange te vestig en Afrikaners tot ’n eenheid saam te snoer, het dit ongelukkig oor tyd gelei tot die verbroedering tussen die NP, die Afrikaanse kerke en Afrikanerkultuur. Die verhouding tussen party, kerk, koerant, skool en kultuur was benoud en ideologies verweef.

Sedert die laat sewentigerjare het Afrikaners langsamerhand begin om weg te beweeg van die Christelik-nasionale denkraamwerk as grondslag vir aktiwiteite. Protesmusiek, soos die Voëlvry-beweging met bekende sangers soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel, het die Afrikaner-establishment uitgedaag, terwyl letterkundiges soos Breyten Breytenbach, hulle teen die regering verset het. Vele Afrikaanse joernaliste, politici, akademici, kerk- en kultuurleiers het die Christelik-nasionale lewensbeskouing bevraagteken, maar kon geen alternatiewe denkraamwerk bied nie.

Teen die einde van die tagtigerjare was daar ’n vloeibaarheid in Afrikanerdenke, ongeduld dat oplossings vir stedelike swart mense gevind moes word, met bekommernisse oor die gevolge van buitelandse druk, sanksies, die noodtoestand, die landswye geweld, grensoorlog en stedelike terreur. Die politiek van die dag het al meer opportunisties geword en kenmerke van krisisbestuur begin toon. In plaas van nuwe toekomsidees het beide die groot Afrikanerpartye, naamlik die NP en die KP, teruggeval op ou lojaliteite en betekenislose clichés, terwyl bitter ideologiese gevegte gewoed het. Parlementêre liberale partye soos die Progressiewe Federale Party (PFP) het geen geloofwaardigheid onder die meerderheid Afrikaners gehad nie en ook onder leierskapkrisisse gebuk gegaan. ’n Lewensbeskoulike ideevakuum het ontstaan wat teen die einde van die tagtigerjare akuut geword het.

Die gevolg van die ideevakuum was ’n reeks skeurings op politieke, kerklike en kulturele gebied. Behalwe die skeuring van die NP in 1982, skeur die NG Kerk in 1987 met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk. Toe die Afrikanervolkswag, onder leiding van Carel Boshoff, besluit het om nie saam met die FAK die Groot Trek se 150ste herdenking te vier nie, het die Afrikanerkultuurwêreld ook geskeur.

Binnelandse hervormings

Die totstandkoming van die Driekamerparlement met ’n nuwe grondwet in 1984 waar bruin Suid-Afrikaners en landsburgers van Indiese afkoms groter seggenskap oor hul eie sake sou kry, was die resultaat van PW Botha se binnelandse hervormings. Die nuwe grondwet is einde 1983 deur die oorgrote meerderheid Afrikaners in ’n referendum aanvaar. Dit was duidelik dat Afrikaners aanvaar het dat vryheid-deur-apartheid nie ’n oplossing vir die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk is nie. Nuwe horisonne moes betree word. Die grootste struikelblok was egter dat swart Suid-Afrikaners steeds uitgesluit was van parlementêre en demokratiese prosesse. Een van die leemtes van die nuwe bestel was ook dat Suid-Afrikaners steeds op rassegrondslag in bevolkingsgroepe ingedeel was sonder die keuse van vrye assosiasie.

Political Personalities. pic: 6th February 1984. British Prime Minister Margaret Thatcher pictured with the South African Premier P.W.Botha at Chequers.

PW Botha saam met die Britse Eerste Minister, Margaret Thatcher

Westerse bondgenote soos Brittanje en die VSA het al meer druk op die Botha-regering geplaas om meer daadwerklike hervormingsmaatreëls in te stel en Mandela vry te laat. Botha het teen 1985 laat blyk dat die regering hiervoor gereed is. In ’n toespraak, wat later as die Rubicon-toespraak bekend sou staan, het Botha egter weggedeins van nuwe hervormingstappe met vae beloftes van toekomstige maatreëls. Hy het onomwonde by sy standpunt gebly dat die regering slegs sou oorweeg om Mandela vry te laat indien hy geweld afsweer. Buitelandse steun het na die toespraak oornag verdwyn en die Rand se waarde het skerp gedaal. Buitelandse lenings aan Suid-Afrika is teruggetrek of gevries. Die toespraak het ’n simbool geword van Afrikaners wat nie die Rubicon op ’n kritiese punt in die geskiedenis wou oorsteek nie en ten alle koste aan mag wou vasklou.

Foto 12 Teen die einde van sy termyn as president het PW Botha en Nelson Mandela mekaar in die geheim in Tuynhuys ontmoet. Die twee opponente het teen alle verwagting in baie goed oor die weg gekom en persoonlike aanklank bymekaar gevind. Hulle was tot Botha se dood op vriendskaplike voet. Die historiese ontmoeting was allerweë beskou as ’n deurbraak wat die klimaat geskep het vir Mandela se vrylating en gesprek tussen ANC en die regering.

Onderhandelinge begin

Teen 1988 was die kommunistiese indringing in Suider-Afrika gestuit. Die Sowjetunie het laat blyk dat hulle gretig was om militêr uit Suider-Afrika te onttrek. Beide Suid-Afrika en Kuba was ook bereid om die oorlog te beëindig. Die val van die Berlynse muur en die beëindiging van die Koue Oorlog het nuwe geleenthede vir dialoog geskep.

Foto 13 In 1989 word PW Botha deur FW de Klerk as president opgevolg. De Klerk se pa, Jan de Klerk, was ’n voormalige minister en senator, en sy oom, JG Strijdom, was eerste minister. Met bewindsaanvaarding het De Klerk hom verbind tot die soeke na ’n vreedsame oplossing vir Suid-Afrika, die beëindiging van geweld en die normalisering van demokratiese prosesse.

 

Foto 14

FW de Klerk saam met HW Bush in die Withuis

Op 2 Februarie 1990 het hy aangekondig dat Nelson Mandela saam met ander ANC-leiers vrygelaat sal word, en dat die ANC, PAC, Kommunistiese Party en ander partye ontban sal word. ’n Moeilike proses van grondwetlike onderhandeling is by KODESA 1 en 2 begin. Binnelandse geweld het toegeneem. Van die geweld is aangeplaas deur partye wat teen die onderhandelinge gekant was. Tydens De Klerk se besoek aan die VSA om met President HW Bush te beraadslaag het die ANC deur middel van Operasie VULA ʼn staatsgreep beplan. Die poging het misluk, maar het bygedra tot die spanning in die land.

 

Foto 15 De Klerk ontvang saam met Nelson Mandela in 1993 die Nobelprys vir vrede. Tydens sy toespraak het De Klerk in die stadsaal van Oslo “O, wye en droewe land” aangehaal wat NP van Wyk Louw in 1938 vir die Groot Trek-eeufees geskryf het:

 

 

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit ’n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?
Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,
die klein begrafnis;

eenvoudige mense wat getrou
en enkeld bitter dinge doen,
en enkeld val soos korrels saad;
stil daad, klein trou, klein trouloosheid
van dié wat om ’n ander diens soos knegte jou verlaat.

Sal nooit ’n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou ’n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge;

’n grootsheid van so ’n suiwer glans,
dat mense in ’n verre land
wat van jou naam die melding hoor,
met wilde en helder oog sal staar
soos vroeë vaarders in die nag
verslae gesien het kim bo kim
die nuwe, blom-groot sterre styg
op uit jou see se wit gevaar?

Die eerste verkiesing waaraan alle Suid-Afrikaners op ’n gelyke basis kon deelneem, het op 27 April 1994 plaasgevind. De Klerk dien na 1994 as adjunkpresident in die Mandela-kabinet tot sy uittrede uit die politiek in 1997. Die Nasionale Party het kort daarna ontbind.

Foto 16

Adjunkpresidente Thabo Mbeki en FW de Klerk met President Nelson Mandela tydens die oorgangsregering