Van Riebeeck-dag, 6 April

Jan van Riebeeck het self ’n besondere waarde aan die datum 6 April geheg. Dit was op die dag wat hy aan wal gestap het nadat hy met drie skepe, naamlik die Drommedaris, Reijger en Goede Hoope by Tafelbaai gearriveer het met die doel om ’n verversingstasie te vestig. Die gebeure is jaarliks herdenk. In 1752 is die dag met ’n erediens gevier. Sedert 1852 het die Kaapse kerk gevra dat die dag as ’n godsdienstige feesdag beskou moet word. Tydens die driehonderdste herdenking van 6 April in 1952 is dit tot openbare vakansiedag verklaar. Na 1994 het Van Riebeeck-dag as vakansiedag verval.

 

Hugenotefees, 13 April

Die eerste Hugenote het op 13 April 1688 in Tafelbaai aangekom. Alhoewel die dag deur die eeue in herinnering geroep is, was dit nooit erken as ’n amptelike feesdag of openbare vakansiedag nie. Die rede is waarskynlik dat die Afrikaanse gereformeerde kerke Hervormingsfees op die Sondag naaste aan 31 Oktober vier en die huldiging aan die Hugenote se godsdienstige bydrae hierby insluit.

 

Nederlandse vlag

Hierdie vlag het drie horisontale bane in rooi (soms oranje), wit en blou. Die VOC het dieselfde vlag gebruik en net die letters VOC in die middelste wit baan gedruk. Die Nederlandse vlag is die kultuurvlag wat die langste onder die skadu van Tafelberg gewapper het, vanaf 1652 tot 1795 en toe weer vanaf 1803 tot 1806.

 

 

 

Hugenote-kruis

Die kruis is deur die ou Hugenote gedra as simbool van hul geloof en ook as ’n manier om mekaar te herken. Die boonste ronde knoppies verteenwoordig die agt saligsprekinge, die Malteserkruis gevorm deur die vier blare van die Franse lelie verteenwoordig die vier evangelies, Die vier fleur-de-lis, elk met drie blare, verteenwoordig die 12 apostels, en die hangende duif verteenwoordig die Heilige Gees. Toe die vervolging op sy ergste was, het hulle in die middel van die kruis ’n pêrel geplaas as simbool van trane wat vloei.