Pierre Fourie (1943-1980)
Julie 1, 2019
Bethulie
Julie 1, 2019

Bloemfontein is sedert 1854 die hoofstad van die Vrystaat. Dit is ook sedert Uniewording die geregtelike hoofstad van Suid-Afrika.

 

Bloemfontein se vroeë geskiedenis

Bloemfontein is aangelê op ’n plaas wat oorspronklik aan ’n Griekwa met die naam van Mauritz Pretorius behoort het. Die geskiedskrywer Dover sê dat hy die eiendomsbrief gesien en gelees het, en dat Pretorius aan sy plaas die naam Bloemfontein gegee het. Verder skryf Dover: “I am aware that later the farm stood registered in the name of a Dutch Boer, and that dr. Theal represents this man as the original grantee, but he is wrong. There is unanimity of opinion amongst the old Griquas that Mauritz first broke soil on the spot which became, in after years, the Republican Capital.”

Die “Dutch Boer” van wie Dover praat is Johannes Nicolaas Brits, gebore in 1790 in die distrik Stellenbosch.

Foto: Die eerste eienaars van Bloemfontein

Rudolph Marthinus Brits was die eerste wit nedersetter op die plaas waarop die latere Bloemfontein uitgelê is. Hy het Swellendam met sy vee in die 1820’s verlaat, die Gariep (Oranjerivier) oorgesteek en verder noord getrek op soek na beter weiding. Uiteindelik het hy in 1840 ’n geskikte plek naby ’n sterk fontein gevind en grond van die plaaslike stamme (vermoedelik Griekwas) geruil vir vee. Later het sy neef Johan Nicholaas Brits by hom aangesluit. Rudolph het weggetrek maar Johan het gebly. Hy het ’n eenvoudige hartbeeshuisie gebou en begin boer. Hy het gou agtergekom dat die plek waar sy plaas geleë was ’n gewilde oornagplek vir reisigers, ontdekkingsreisigers, jagters en later togryers en Voortrekkers was wat altyd by sy fontein aangedoen het om hulle watervoorraad aan te vul. Hierdie trekkers en jagters het die fontein ook Bloemfontein genoem. Dit is nie seker waarom nie. Sommige beweer dat Johan se vrou se blomtuin iets daarmee te doen gehad het, ander meld weer dat die fontein oorspronklik so gedoop is deur die Griekwa, Mauritz Pretorius.

Bloemfontein was ook die plek wat majoor HD Warden gekies het toe hy in 1846 opdrag gekry het om homself as Britse resident in die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier te vestig. Hy het die plaas en verbeteringe van Johan Brits gekoop en hy en sy gevolg het hulle daar gevestig terwyl Johan na die Harrismith-distrik vertrek het. Die Voortrekkers in Transoranje het aanvanklik die teenwoordigheid van majoor Warden verduur, omdat hulle gebied en hoofstad (Winburg) verder noord was.

In Januarie 1848 het sir Harry Smith, Goewerneur van die Kaap, Bloemfontein binnegery om die nedersetters mee te deel dat Brittanje besluit het om die gebied te annekseer en dat dit as die Orange River Sovereignty bekend sou staan. Dit was nie vir die Voortrekkers van Winburg aanvaarbaar nie; hulle het dit as ’n bedreiging vir hulle onafhanklikheid gesien. Op 17 Julie 1848 het ’n groep Voortrekkers onder leiding van Andries Pretorius, die held van Bloedrivier, na Bloemfontein opgeruk waar hulle majoor Warden beveel het om te verkas, wat hy dan ook met befaamde spoed gedoen het.

Een maand later het sir Harry Smith teruggekeer en die Vrystaatse Trekboere onder leiding van Andries Pretorius in die Slag van Boomplaats verslaan. Majoor Warden se gesagsposisie is herstel en Bloemfontein het die administratiewe sentrum vir die Orange River Sovereignty gebly. Warden se garnisoen is tot 450 man vergroot en hy het ’n nuwe fort, Queen’s Fort, gebou op een van die heuwels wat op die dorp uitkyk. Hy het self die dorp, Bloemfontein, uitgelê en verskeie strate (Charles, Henry, Douglas en Elizabeth) na lede van sy familie vernoem.

In 1854 het die Britse regering skielik besluit dat die gebied waardeloos was en dit met die Konvensie van Bloemfontein aan die Trekboere van die Vrystaat teruggegee. Bloemfontein het die hoofstad van die nuwe Vrystaatse Republiek geword en ’n Volksraad is verkies wat byeengekom het in die Eerste Raadsaal, ’n gebou wat majoor Warden opgerig het.

Josias Philip Hoffman is op 23 Februarie 1854 as die eerste president van die Vrystaat ingesweer. Hy was ’n man vir vrede. Een van die eerste briewe (so dikteer hy aan die Regering sekretaris, Groenendaal) is die volgende dag aan die opperhoofde Mosjesj, Moroka, Molitsane en Adam Kok gestuur. “Opperhoofd,” lui die brief: “Deze dien om te berichte dat op gisteren 23 Dezer is het provinsiaal goeverenment van de vryen en onafhankelyken staat van Oranje Rivier in den handen van ons representen der inwoners door den speciaalen commissaris van de Koningin van Groote Brittanje ter volle onvergegeven geworden.” Hy verlang “… volle vrede en vriendschap” en hy hoop “… dat u volk van dezelfde gevoelen is.”

Nege maande later is president Hoffman van hoogverraad deur die Vrystaatse Volksraad beskuldig en gedwing om te bedank. Hy het ’n vaatjie buskruit aan koning Mosjesj van die Basoeto’s, met wie hy ’n vriendskap aangeknoop het, gegee. Vir sommige Boere was dit ’n daad van verraad, en het hulle gevolglik vir president Hoffman gedwing om te bedank.

President Hoffman is opgevolg deur JN Boshof, wat in 1859 tydens ’n tydperk van ernstige onrus en vyandelikhede met die Basoeto’s vervang is deur Marthinus Wessel Pretorius, wat ook destyds die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) was. Die vierde president van die Vrystaat, Johannes Hendricus Brand, is op 2 Februarie 1864 ingesweer. Sy ampstermyn het 25 jaar geduur en onder sy leiding is die jong republiek op ’n vaste grondslag geplaas waarop dit tot ’n modelrepubliek ontwikkel het. Na president Brand is FW Reitz en later MT Steyn ingesweer as die laaste presidente van die Vrystaat.

 

Bloemfontein groei

Die ontdekking van diamante by Kimberley in die laat 1860’s en goud aan die Witwatersrand in 1886 het ekonomiese ontwikkeling ’n hupstoot gegee. Die togryers met hulle swaar gelaaide waens op pad na die goudvelde het die driwwe van die Vaalrivier via Bloemfontein ’n paar dae voor dié van Kaapstad via Kimberley bereik. Bloemfontein is in 1878 met die telegraafnetwerk verbind en die spoorlyn van Kaapstad af het die dorp op 7 Mei 1888 bereik.

 

Die laaste sitting van die Vrystaatse Volksraad: 1899

Reeds na die mislukte Bloemfontein-konferensie tussen president Kruger en lord Milner in Junie 1899 was daar net een woord op die mense se lippe, naamlik, oorlog. Nadat die Volksraadslede op 21 September 1899 die raadsaal binnegestap het, het almal die erns van die oomblik besef. Dit was vir almal duidelik oorlog is onvermydelik.

President MT Steyn het die dag die gewigtigste presidensiële toespraak in die Vrystaatse geskiedenis gelewer. Hy het in sy toespraak onder meer gesê: “Ek het gedoen wat ek kon om die vrede met eer te handhaaf en sal nog alles doen. Ek se egter nou met ’n vry gewete en openlik voor die volk: ek verloor liewer die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat met eer as om dit deur oneer of ontrou te behou.”

In die enkele sittingsdae wat sou volg, het feitlik alle raadslede te kenne gegee die Vrystaat se onafhanklikheid was op die spel, maar die Vrystaat sal aan sy verbond met Transvaal getrou bly.

Op 27 September 1899 sou die Volksraadslede vir die laaste keer in Bloemfontein die Vrystaatse Volkslied sing en uiteengaan om nooit weer in daardie betrokke raadsaal (die Vierde Raadsaal) te vergader nie.

 

Bloemfontein word deur die Britte beset

Bloemfontein het vroeg in die Anglo-Boereoorlog in Britse hande geval. Lord Roberts en die Britse Leer het op 15 Maart 1900 Bloemfontein beset. Vir die res van die oorlog het president MT Steyn en sy personeel ’n vlugteling bestaan gevoer en letterlik van een Vrystaatse dorp na die ander getrek om dan daar ’n tydelike regering daar te stel. So was Fouriesburg tegnies gesproke die laaste hoofstad van die Vrystaat in die dae toe die Vrystaat nog ’n onafhanklike republiek was.

 

Die era voor en na die Anglo-Boereoorlog

Op 31 Mei 1910 het die Oranjerivierkolonie onder sy ou naam, Oranje-Vrystaat tot die Unie van Suid-Afrika toegetree. Na Unie-wording het die Afrikaner rede gehad om tevrede te wees, want die gewese Boere-generaal, Louis Botha, was Eerste Minister van die nuwe staat, met generaals Hertzog en Smuts in sy kabinet, sowel as die ou republikeinse amptenaar Abraham Fischer. Dit was eerder die Engelssprekende Suid-Afrikaners, soos die luidrugtig pro-Britse inwoners van Bloemfontein, wat die nuwe ontwikkelinge met misnoeë en selfs met huiwering kon aanskou, en meer nog die swart bevolking, wie se politieke bewussyn saam met dié van die Afrikaner in die jare onmiddellik na die oorlog ontstaan het en gelyk daarmee ontwikkel het.

Hierdie is ’n uittreksel uit die hoofstuk van Bloemfontein wat verskyn in Van der Merwe, Jan (samesteller). 2012. Vrystaatse dorpe. Bloemfontein: Jan van der Merwe.

 

 

Die Slag van Sannaspos het aan generaal CR de Wet ten tye van die Anglo-Boereoorlog groot eer en vreugde verskaf. Die Boere het daardie oggend van 31 Maart 1900, sewe kanonne, 150 waens, 550 gewere, 2 000 perde en beeste en ’n groot voorraad ammunisie en lewensmiddele by die Britte gebuit. Volgens die Engelse opgawe het 350 man gesneuwel, terwyl die Boere slegs drie man verloor het. Generaal De Wet het meer as 400 Engelse krygsgevangenes gevange geneem en na Pretoria afgevoer.