Andries Treurnicht (1921-1993)

Albert Hertzog (1899-1982)
April 5, 2021
Erich Mayer (1875-1960)
April 19, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Dr. Andries Petrus Treurnicht was die stigter van die Konserwatiewe Party (KP), wat in 1982 van die Nasionale Party (NP) afgestig het.

Dr. Treurnicht is op 19 Februarie 1921 in Piketberg in die Noord-Kaap gebore en het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Terwyl hy in 1949 predikant op Oudtshoorn was, het hy as skrumskakel vir Suidwestelike Distrikte teen die All Blacks gespeel.

Van 1950 tot 1954 was hy predikant by die NG Kerk Rondebosch in Kaapstad, en in hierdie tyd het hy sy doktorsgraad oor die lewe van die neo-Calvinistiese denker Abraham Kuijper, wat van 1901 tot 1905 eerste minister van Nederland was, verwerf. Hy was van 1954 tot 1958 predikant in Stellenbosch en van 1958 tot 1960 in Pretoria.

In 1960 het hy die redakteur van Die Kerkbode geword en dadelik standpunt ingeneem teen die besluite van die Cottesloe-kerkeberaad wat op die slagting van Sharpeville op 21 Maart 1960 gevolg het. Hy was ’n ondubbelsinnige ondersteuner van die regering se apartheidsbeleid. In 1967 het advokaat John Vorster, die destydse eerste minister, hom gevra om die redakteur van die nuutgestigde regeringsgesinde middagkoerant Hoofstad te word, maar hoewel hy die betrekking aanvaar het, het sy uiters konserwatiewe standpunte gemaak dat hy gedurig met Vorster gebots het.

Hy is in 1971 tot parlementslid van die kiesafdeling Waterberg verkies; ’n posisie wat hy sy lewe lank beklee het. Hy het later adjunkminister van Bantoe-onderwys geword en sy onbuigsame standpunt oor onderrig in Afrikaans het tot die Soweto-opstande op 16 Junie 1976, wat later ook na ander gebiede oorgespeel het, gelei. In die vroeë 1980’s het hy die Transvaalse leier van die NP geword, maar hy het gou gebots met die destydse eerste minister, mnr. PW Botha oor sy onwrikbare standpunt dat apartheid sonder toegewings toegepas moes word.

In die laat 1970’s en vroeë 1980’s was daar toenemende spanning in die NP tussen die voorstanders en teenstanders van beperkte hervorming; diegene wat daarteen gekant was, het beswaar gemaak teen veelrassige sport, asook die politieke lot van bruin mense en Indiërs. Toe Botha in Februarie 1982 die grondslag vir blankes, bruin mense en Indiërs geherdefinieer het, is die spanning op die spits gedryf. Dr. Treurnicht en sy volgelinge het geen inperking van wit politieke mag geduld nie. Botha het daarop aangedring dat elke soewereine staat net een soewereine parlement kon hê en die drie groepe konsensusbesluite moes neem. Tydens ’n parlementêre koukus het 22 lede teen ’n mosie van vertroue in die eerste minister gestem of buite stemming gebly. Ses van hulle het later hul vertroue in die eerste minister herbevestig maar die ander sestien is uit die NP geskop of het bedank. Treurnicht, wat minister van staatsadministrasie was, was een van hulle, terwyl dr. Ferdie Hartzenberg, minister van onderwys en opleiding was, hom gevolg het.

Op 20 Maart 1982 is die vergadering waartydens die Konserwatiewe Party (KP) gestig is, in die Skilpadsaal in Pretoria gehou, en Treurnicht is eenparig tot leier verkies. Verskeie kleiner regse organisasies het daarby hul steun aan die KP toegesê. Die KP het dadelik sewentien setels in die Parlement gehad en was die derde grootste politieke party in Suid-Afrika naas die NP en die Progressiewe Federale Party (PFP). Die KP het sy eerste tussenverkiesing in Mei 1983 gewen, maar twee op 29 November 1984 verloor. In November 1985 het die KP die meerderheid van die NP in drie tussenverkiesings verminder. In 1987 het die KP vir die eerste keer aan ’n algemene verkiesing deelgeneem, en 26% van die stemme op hom verenig. Dit het beteken dat die KP die amptelike opposisie in die parlement geword het deurdat hy 22 setels teenoor die PFP se 19 setels gehad het. In die 1989-verkiesing het die KP sy posisie as amptelike opposisie verstewig, en nie eens die nuutgestigte Demokratiese Party (DP) kon dit verander nie. Die doodskoot vir die KP was egter die oorweldigende “ja”-stem tydens die 1992-referendum oor die NP se volgehoue hervormingsprogram.

Op 10 April 1993 is Chris Hani in ’n sluipmoordaanval dood, en Clive Derby-Lewis, ’n KP-parlementslid is saam met Janusz Wallus, ’n Poolse immigrant, skuldig bevind en tot lewenslange gevangenisstraf, waarvan hy 21 jaar uitgedien het, gevonnis. Daar word gesê dat dit Treurnicht se dood in die ouderdom van 72 jaar op 22 April 1993, nadat hy ’n hartomlyding ondergaan het, verhaas het. Dr. Ferdie Hartzenberg is na Treurnicht se dood tot leier van die KP verkies, maar die party se weiering om aan die demokratiese verkiesing op 27 April 1994 deel te neem, het die party irrelevant gemaak en voormalige KP-ondersteuners het hulle by die Vryheidsfront, onder leiding van genl. Constand Viljoen, aangesluit of geweier om te stem.