Albert Hertzog (1899-1982)

Barend du Plessis (1940-)
April 5, 2021
Andries Treurnicht (1921-1993)
April 5, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Dr. Albert Hertzog was ’n parlementslid en kabinetsminister wat die koms van televisie na Suid-Afrika jare lank gekeer het en die stigter van die Herstigte Nasionale Party was.

Johannes Albertus Munnik Hertzog was die seun van die voormalige eerste minister, genl. JBM Hertzog wat tussen genl. Jan Smuts se twee ampstermyne aan bewind was. Hy is op 4 Julie 1899 in Bloemfontein gebore. Hy was drie maande oud toe die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het; hy het aanvanklik by sy ma in Bloemfontein gewoon en later by haar suster in Jagersfontein in die Vrystaat. Daarna is hulle na ’n konsentrasiekamp in Port Elizabeth geneem. Toe hy masels opgedoen het, is hy na Stellenbosch gestuur vir behandeling.

Toe hy ’n kleuter was, het hy skoolgegaan by ’n Katolieke skool, waar hy vir die eerste keer Engels gehoor en leer praat het. Dit was dalk vir sommige mense eienaardig, aangesien sy pa ’n voorstander van Afrikaanse taalregte, veral in die onderwys, was. Met Uniewording in 1910 het die gesin na Pretoria verhuis, en genl. Hertzog is as minister van justisie en die destydse naturellesake aangestel. Hy het homself by Pretoria Boys High School ingeskryf toe hy elf jaar oud was, nadat hy binne ’n dag ongelukkig was by Arcadia School, waarheen sy pa hom gestuur het. Nadat genl. Hertzog weens ’n meningsverskil met die eerste minister, genl. Louis Botha, uit die kabinet geskop is, het hulle na Bloemfontein verhuis, waar Albert in 1916 aan Grey Kollege gematrikuleer het. Sy matriekvakke was Nederlands, Engels, Latyn, wiskunde en fisiese wetenskappe.

Na matriek het hy in 1917 aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer, en op 1 April 1920 het hy sy BA-graad met lof behaal. In dieselfde jaar het hy aan die Universiteit van Amsterdam gestudeer en twee jaar later in die regte aan New College in Oxford gestudeer. Daarna het hy sy LL.D-graad aan die Universiteit van Leiden in Nederland behaal. Voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy ’n tyd lank by ’n gesin in Parys gewoon om sy Frans te verbeter.

In 1929 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en as ’n prokureur begin praktiseer. Hy was terselfdertyd ’n deeltydse dosent aan die Universiteit van Pretoria. In 1948 het die Nasionale Party (NP), onder leiding van dr. DF Malan die algemene verkiesing gewen, en dr. Hertzog is tot volksraadslid van die kiesafdeling Ermelo verkies. Hy het gedurende Malan en Strijdom se bewind as volksraadslid gedien, maar toe Strijdom in 1958 oorlede is en deur dr. Hendrik Verwoerd opgevolg is, is hy as minister van gesondheid en van pos- en telekommunikasiewese aangestel. Hy het die koms van televisie na Suid-Afrika sterk teengestaan en alles in sy vermoë gedoen om te keer dat dit gebeur.

In 1969 is hy uit die NP geskop en die Herstigte Nasionale Party (HNP) gestig. Die belangrikste rede hiervoor was sy teenstand teen die destydse eerste minister, adv. John Vorster, se besluit om Maori-spelers en toeskouers toe te laat om die toer in 1970 deur die Nieu-Seelandse rugbyspan, die All Blacks, mee te maak. Daarby was hy gekant teen die uitruil van swart diplomate. Die geskille is in September 1969 op die spits gedryf toe daar tydens die Transvaalse Kongres van die NP oor sekere beleidspunte besluit moes word. Dr. Hertzog, asook mnr. Jaap Marais, Willie Marais en Louis Stoffberg, het die NP verlaat en die HNP gestig. In die algemene verkiesing op 22 April 1970 het die HNP altesaam 70 kandidate gestel, maar die party kon nie een kiesafdeling wen nie. Vier jaar later het die party sy stemaandeel tot 3,8% verhoog, maar steeds kon hy geen kiesafdeling wen nie. Tydens hierdie verkiesing het die party die Engelse media geboikot aangesien hy heeltemal teen die gebruik van Engels gekant was. Mnr. Eugene Terre’Blanche was tot in 1973 ’n lid van die HNP, maar hy het die paramilitêre organisasie, die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) gestig omdat hy nie met die HNP oor die stigting van ’n Afrikaner-tuisland saamgestem het nie. Die HNP het dit as onnodig beskou, maar Terre’Blanche was ten gunste daarvan. Die party was ’n sterk voorstander van apartheid en het beswaar gemaak teen die toegewings wat die NP teenoor nie-Blanke Suid-Afrikaners gemaak het. Die party beskou Calvinisme as ’n belangrike deel van Suid-Afrika se identiteit. Dr. Hertzog het in 1977 as partyleier uitgetree.

Hy is in 1926 met sy eerste vrou, Katie, wat van Engelse herkoms was maar Afrikaans vlot en sonder ’n aksent gepraat het, getroud, maar sy is op 25 Februarie 1970 aan hartversaking oorlede sonder dat daar kinders uit die huwelik gebore is. In 1973 het hy ’n weduwee, Martie Viljoen (gebore Duvenage) ontmoet en in Oktober 1977 is hy met haar getroud. Op 5 November 1982 is dr. Hertzog in die ouderdom van 83 oorlede nadat hy ’n noodoperasie ondergaan het.