Barend du Plessis (1940-)

Adriaan Vlok (1937-)
April 5, 2021
Albert Hertzog (1899-1982)
April 5, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Barend du Plessis is ’n voormalige Suid-Afrikaanse politikus, wat lid van die Nasionale Party was en as minister van finansies in die kabinette van twee president gedien het.

Barend Jacobus du Plessis is op 19 Januarie 1940 in Johannesburg gebore en het in 1956 aan die Hoërskool Voortrekker gematrikuleer. In 1960 het hy sy BSc-graad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf, en sy Hoër Onderwysdiploma die volgende jaar. Hy het in sy studentejare by studentepolitiek betrokke geraak en was voorsitter van die studenteraad. Dit het hom in staat gestel om na Duitsland, Nederland en België te reis en ander studenteleiers te ontmoet. Hy was ook betrokke by die Nasionale Party (NP) se veldtog tydens die 1960-referenduim oor republiekwording.

Hy het sy loopbaan in die onderwys in 1962 as wiskundeonderwyser aan die Helpmekaar Seunskool in Johannesburg begin en later by die Johannesburg Tegniese Kollege klasgegee. Hy is later as administratiewe beampte by die SAUK aangestel , en later bevorder na die dataverwerkingseenheid, waar hy opleiding in rekenaartegnologie gegee het. Daarna is hy bevorder en as administratiewe sekretaris oorgeplaas na die kantoor van die direkteur-generaal. In 1968 het hy by die SAUK bedank en tot in 1974 by IBM gewerk. Hier het hy opleiding in bankwese en finansies ondergaan, en die IBM Graduate School of Banking Business in Princeton in die Verenigde State van Amerika bygewoon.

Du Plessis se pa was ’n aktiewe lid van die NP, wat beteken het dat ’n politieke loopbaan byna ’n uitgemaakte saak was. Nadat hy in 1960 deel van die NP se veldtog tydens die referendum was, het hy in 1966 ’n lid van die NP geword. In 1972 het hy sy eerste tree in gemeenskapsdiens gegee toe hy ’n verkose beampte van die Johannesburgse stadsraad was; en in 1974 is hy tot adjunk-burgemeester verkies. In dieselfde jaar het hy tydens die algemene verkiesing die parlementêre setel vir die kiesafdeling Florida gewen. Van 1976 tot 1981 het hy op die verkose komitee vir openbare rekeninge gedien en van 1979 tot 1981 was hy die sekretaris van die NP se studiegroep vir finansies. Hy was van 1977 tot 1981 ook die inligtingsbeampte van die NP. In 1982 is hy gekies as voorsitter van die komitee wat die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese ondersoek het, maar hy het steeds in finansies en ekonomiese sake belanggestel.

Hy was besorg oor die regering se verhouding met die media en het omstrede stellings oor die SAUK-uitsending van Konserwatiewe Party-propaganda en verslaggewing oor regeringsake gemaak. Hy het ook, saam met mnr. Pik Botha, wat minister van buitelandse sake was, met Angolese leiers onderhandel.

Op 23 November 1983 is hy as minister van onderwys en opleiding in PW Botha se kabinet aangestel, maar die volgende jaar het FW de Klerk hom opgevolg. Tydens sy tydperk in hierdie portefeulje het hy skoolboikotte in Atteridgeville beleef, en daar het hy met studenteleiers onderhandel om aandag aan hul probleme te gee. Hy het met aartsbiskop Desmond Tutu vergader nadat ’n leerder tydens polisieoptrede dood is, maar teen Mei 1984 is ses skole in Atteridgeville en Saulsville gesluit. Hy het daarna gestreef om die rol van die swart gemeenskap te verstaan en skole te herorganiseer, terwyl hy enige ouer of leerder aangemoedig het om regstreeks met hom as minister te kommunikeer. Swart senior onderwysers het sy departement se begrotingsrede in die Parlement bygewoon en hy het gesê dat daar geen rassebeperkinge in die departement van onderwys sou wees nie.

In Augustus 1984 is hy in die plek van dr. Owen Horwood as minister van finansies aangestel, en ’n uiters ingewikkelde taak het vir hom voorgelê. Verskeie faktore, onder meer die verlaging van die goudprys, het Suid-Afrika in groot finansiële moeilikheid laat beland. Die wisselkoers van die rand teenoor die dollar was op ’n laagtepunt , daar was grootskaalse droogte en uitvoere het afgeneem. Die volgende jaar moes hy Suid-Afrika se internasionale krediet herstruktureer sodat buitelandse banke korttermynkrediet aan Suid-Afrika kon verleen.

Nadat PW Botha weens swak gesondheid uit die politiek getree het, het Du Plessis die tussentydse staatspresident Chris Heunis en die minister van buitelandse sake, Pik Botha, suksesvol uitgedaag in die stryd om leierskap van die NP, maar tydens die laaste ronde van stemme het hy teen FW de Klerk verloor. Hy was daarna in sy bestaande portefeulje deel van De Klerk se kabinet, maar hy het in 1992 uit die politiek getree.