Wim Hartman (1909-1966)

Hennie Aucamp (1934-2014)
April 5, 2021
Adriaan Vlok (1937-)
April 5, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Wim Hartman was ’n Afrikaanse skrywer wat veral vir onstpanningslektuur bekend was.

Willem Wim Hartman is op 9 Desember 1909 in Pretoria gebore; hy het hier skoolgegaan en sy joernalistieke loopbaan hier begin. Hy het onder meer by Die Vaderland gewerk, en Gustav Preller en Eugène Marais as medewerkers gehad. In 1936 het dié koerant na Johannesburg verhuis, en hy het Johannesburg en sy mense goed leer ken.

Hoewel hy onder verskeie skuilname geskryf het, het die meeste van sy werk onder sy eie naam verskyn. In 1951 het sy roman, Waar die treinspore doodloop, verskyn. Die titel van hierdie verhaal het aangedui waar die rampokkerwêreld van Johannesburg begin het. Die verteller van hierdie speurverhaal was ’n “vertroulike agent” met ’n kantoor, ’n tikster en ’n “assistent” wat hierdie wêreld ondersoek het, maar daar was twyfel of hulle self so eerlik was soos hulle voorgegee het. Die hoofkarakter in sy verhaal Branders van die noodlot, wat in 1953 verskyn het, was Chris de Wet, wat nie sy verloofde se dood kon verwerk nie en hom aan drank oorgegee het. Hoewel sy prokureurspraktyk floreer het, was sy lewe niks anders as ’n sleurbestaan nie. In dieselfde jaar verskyn sy volgende roman, Moord in die laat uitgawe wat in die joernalistieke omgewing, ’n wêreld wat hy uit die aard van sy werk goed geken het, afgespeel het. Die nuusredakteur van Die Môrester, Nico Bosman, was glad nie gewild onder sy kollegas nie omdat hy dikwels sensasie-artikels sonder aansien des persoons geskryf het en ’n onwettige verhouding met Bettie Reyneke gehad het. Een aand het hy spoorloos verdwyn en sy lyk is by die hyserhuisie op die dak van Die Môrester se kantore gevind.

Daarby het hy ’n aantal jeugromans geskryf. In 1964 het sy jeurgverhaal Geheim van die Haaikus, verskyn. Dit het die verhaal vertel van die Toerien- en Moodie-kinders wat nie in die see kon swem nie omdat daar haaie in die see was, maar later ’n aanloklike en veilige swemplek van ’n Fransman, Pierre d’Albert, ontdek het. In die dae wat volg, het hulle egter ontdek dat die Fransman toe nie die doodonskuldige amateur-oseanograaf was wat hy voorgegee het om te wees nie. Dieselfde hoofkarakters het in sy volgende jeugroman, Die woestynrowers, wat in 1965 verskyn het, voorgekom.

Hartman het ook onder verskillende skuilname geskryf. In die 1950’s het hy onder die skuilnaam Tant Salie ’n reeks artikels oor die inwoners van die Tramway-hotel in Johannesburg geskryf. Met die koms van televisie het PG du Plessis dit tot die televisiereeks TJ7 verwerk. Dit was die laaste reeks waarin die legendariese aktrise Wena Naudé gespeel het voordat sy in September 1978 oorlede is. Die reeks is net voor haar dood verfilm. Onder die skuilnaam Forona Bosman het hy Die onvervulbare droom, wat in 1959 verskyn het, geskryf. Dit het die verhaal vertel van die De Wets van Silwerbome wie se lewe van rykdom na armoede verander het na die skielike dood van Ryk de Wet. Hy het In diens van die veldpond, Blomblare van bloed en Rocco Naudé in Londen onder die skuilnaam Louwrens de Kock geskryf; hierdie publikasies is later as Die veldpond-omnibus hieruitgegee. Laastens het hy die roman Hande van goud onder die skuilnaam Selma le Roux geskryf.

Hartman het ’n hartaanval in Mei 1965 oorleef, maar op Saterdag 29 Januarie 1966 kry hy weer ’n hartaanval in sy woonstel in Seepunt, wat sy dood in die ouderdom van 57 jaar veroorsaak het.