Die Boere-aanval op Majuba – Deel 20: Slot
February 16, 2021
Die Groot Trek: Hoofstuk 8 Deel 5
March 9, 2021

Sarel Feldtmann

 

Die kommando’s (vervolg)

Al die ellendes tref die Voortrekkers gedurende 1838

Die jaar 1838 het maar net meer ellendes oor die Voortrekkers gebring. Soos reeds genoem, in April geskied die nederlaag van Italeni waar Piet Uys, sy seun Dirkie en nog etlike ander hul lewens verloor het. Hendrik Potgieter het kort daarna Natal permanent verlaat, hom eers vir ’n ruk lank langs die Sandrivier gevestig en toe noordwaarts getrek tot by Mooirivier, waar later Potchefstroom begin is. Feitlik al die groot leiers, behalwe Gerrit Maritz was dus daarmee heen. Toe sterf Maritz ook nog op 23 September 1838 weens siekte en laat die Trekkers in Natal, leierloos. Carel Landman het toe die leierskap van die Trekkers vir ’n tyd lank waargeneem.

 

Van die mans wou terugtrek Kolonie toe

Toestande gedurende die winter van 1838 was met ander woorde allesbehalwe rooskleurig vir die Trekkers. In hierdie tyd was dit weereens die vrouens van die Trek wat voorgevat het en die mans met krag besiel het. Van die mans wou met alle geweld terugtrek Kolonie toe, maar die vrouens het volhard dat die moorde van die ander Trekkers eers gewreek moes word. Weens die vrouens se optrede in 1838, was hulle later in 1855, die eerste vrouens in die wêreld wat volle stemreg gekry het.

 

Maritz se laer staan aan die Klein Tugelarivier

Gedurende die wintermaande in Natal – Junie, Julie en Augustus – was die Voortrekkerlaers gedurig in ’n staat van verdediging. Maritz se laer het aan die Tugela gestaan, maar hyself was te siek om aan enige geveg deel te neem. Daar was maar voortdurend die gevaar van ’n moontlike vergeldingsaanval van die Zoeloes op die Voortrekkerlaers.

Weens die konsentrasie van die Trekkers by hierdie “vestingslaers,” was die weiding baie skraps vir die groot hoeveelhede vee van die trekkers, en die weiveld om die laers was uitgedun, die somerreëns het nog nie geval nie, die vee en perde was maer en was nie in ’n kondisie om op ’n kommando te gaan nie.

 

Maritz beplan ’n vergeldingsaanval teen Dingaan

Nog voor Maritz se dood, op 25 Mei 1838 het hy ’n vergadering bymekaargeroep onder die Voortrekkers, en daar is bespreek om ’n aanval te loods op Dingaan om die ander Trekkers, Retief en sy manne se dood van Umgungundlovu en die mense van Weenen te wreek. Hulle het besluit om ’n mag van 350 man op die been te bring en om die Zoeloemag by Umgungundlovu aan te val met drie kanonne; ingesluit in hierdie beplanning was 50 ossewaens om op hierdie kommando te gaan.

Toe dit duidelik geword het dat die Boere in die Kolonie nie by die Trekkers kon aansluit vir die beplande aanval teen Dingaan nie, weens ’n tekort aan beskikbare perde in die Kolonie, was daar geen ander keuse vir die Trekkers as om die beplande aanval te laat vaar nie.

 

Die ongeluksvoël bly draai oor die Voortrekkers

Nog steeds het die ongeluksvoël oor die Voortrekkers bly draai. Nicolaas Vermaak se wa was opgeblaas nadat ’n vaatjie buskruit in sy wa ontplof het. Twee kinders het met die vaatjie buskruit gespeel toe die ongeluk gebeur het. Die twee kinders het ernstige brandwonde opgedoen en ’n 18-jarige seun het in die ontploffing omgekom.

Twee dae later het die wa, wat aan die De Bruyn-familie behoort het, omgeslaan toe dit verskuif is na ’n nuwe staanplek. Mevrou De Bruyn en twee van haar kinders is ernstig beseer in die ongeluk en ’n derde kind is noodlottig beseer toe die wa op hom geval het.

 

Hans Dons de Lange verlaat Modderlaer

Op 27 Julie het Hans Dons Modderlaer verlaat, en met sowat 50 waens na ’n nuwe staanplek getrek by Gatsrand aan die Boesmansrivier. Kommandant Koos (Grootvoet) Potgieter, het in dieselfde tyd ook by De Lange aangesluit met sowat 130 waens. Ander Trekkers wat by hulle aangesluit het, was Jacobus Uys, Stephanus Erasmus en Jan du Plessis. Gert Rudolph het ook in dieselfde tyd bygekom met hul onderskeie trekgeselskappe. Daar was drie laers saamgetrek in dieselfde omgewing aan weerskante van die Boesmansrivier.

Uiteindelik was daar in totaal 290 waens wat op die rand gestaan het by Gatsrand en die laers was onder bevel van De Lange en Jacobus Potgieter. Die laer het ’n ligte ysterkanon gehad wat lig genoeg was om te skuif indien nodig, en die Trekkers het ’n sloot gegrawe aan die suid-oostekant van die laer om die vyand te keer wat die rivier oorgesteek het en hulle van daardie rigting wou aanval. Die sloot was twee meter wyd en die diepte was gelyk aan die lengte van ’n lang man.

Die gesamentlike laer het aanvanklik bekend gestaan as die Gatsrandlaer. Die laers op die regteroewer het bestaan uit Potgieter, Maritz, Prinsloo en Du Plessis, terwyl die laers van Hans Dons en Rudolph op die linkeroewer gestaan het. Hier het die mense ook vore uit die rivier gegrawe en landerye begin aanlê. Carel Landman het met sy groep Trekkers verhuis na Port Natal. 

 

Die Trekkers herorganiseer die struktuur aan beheer

Boshoff het omgesien na die regeringsake wat die Trekkers se belange bestuur het, Stephanus Maritz was aangestel as landdros, Stephanus Lombard het kommandant van Sooilaer geword en De Lange was aangestel as veldkommandant.

Alhoewel die proviand wat van Port Natal gebring was, uitgehelp het vir ’n rukkie, het die voorraad gou opgeraak, tot so ’n mate dat hulle nie eens wyn gehad het vir die Nagmaalbediening nie.

 

Manne word gestuur om steun te werf in die Kolonie

Intussen is Frans Hatting, Willem Jurgen Pretorius en Sarel Cilliers na die Kolonie aan die begin van Augustus gestuur om steun te werf vir die saak van die Voortrekkers. Hierdie manne het na drie verskillende distrikte gegaan om steun te werf. Cilliers het na die Nuwe Hantam-distrik gegaan, Willem Jurgen Pretorius na Beaufort-Wes en Hatting na Graaff Reinet. Hatting het ’n belofte van Andries Pretorius gekry dat hy binnekort sou vertrek, saam met Pieter Daniel Jacobs, ’n veldkommandant van die Beaufort-distrik. Maar behalwe dit, was die besoek teleurstellend, in dié opsig dat hulle net ’n klein hoeveelheid ammunisie en buskruit by die Boere in die Kolonie gekry het.

 

Die verdediging van die laers by Gatsrand

Die waens in die laer was almal aanmekaar vasgeketting en met rieme vasgemaak, en al die ander openinge tussen die waens was toegemaak met doringtakke om enige indringers uit te hou. Die Voortrekkers het ook nog twee ander kanonne gehad, die vierponder, Ou Grietjie (die ysterkanon was 490 mm lank, het 2.3 kg lading gevuur en was gemonteer op die mobiele onderstel van ’n wa), asook Stelletjie, ’n drieponder, geelkoperkanon wat op wiele gemonteer was en aan Gert Rudolph behoort het. Die was twee meter lank en het ’n loop gehad met ’n deursnee van 63.5 mm.

 

Gatsrand word aangeval deur die Zoeloes (Dag 1 van die aanval)

Drie dae na die vertrek van die manne wat gaan ondersteuning soek het in die Kolonie, het Dingaan weer met ’n aanslag begin op die Trekkerlaers. Die aanloop tot die slag van Gatsrand het reeds op Woensdag, 2 Augustus begin toe die veewagters van Hans Prinsloo berig gebring het dat Zoeloespioene in die veld gewaar was. Die Trekkers het inderhaas hul verdediging opgeknap en die sloot klaar gegrawe aan die suid-oostekant van die laer.

Gedurende die vroeë oggendure van Maandag, 13 Augustus, het Christoffel Snyman wat wagdiens gedoen het, ’n Zoeloespioen gewaar en op hom geskiet. Kort daarna het die dag gebreek.

 

Die Trekkers se vee word gesteel

Omtrent 9 uur daardie oggend het ’n smous met die naam van Butler by Gatsrandlaer aangejaag gekom op sy perd en geskree dat ’n klomp Zoeloes die beeste van die Trekkers in die veld by twee veewagters gesteel het. Die twee veewagters, ’n Botha en ’n Bothma, het gehardloop en uitasem by die laers aangekom (hierdie manne was werknemers van die smous Butler). Hulle het te vertel gehad dat ’n groot Zoeloemenigte die osse geskraap het, en dat hulle op ’n vinnige drafstap onderweg was na die laer.

Jacobus Hatting was op daardie stadium in die veld by sy vee toe hy die Zoeloe-impi gewaar. Dit sou sy dood beteken om te probeer deurbreek terug na die laers en om daardie rede het hy te perd na Maritz by Sooilaer aan die Tugela gejaag en tyding daar gebring.

 

De Lange vertrek met 30 man om die veediewe aan te keer

De Lange en Johann Prinsloo het dadelik vertrek met 30 man om die veediewe aan te keer. In plaas van veediewe het hulle afgekom op die hele Zoeloemag wat op pad was na die laers. Van die Zoeloes was op perde en bewapen met gewere wat hulle by die Trekkers afgeneem het in vroeëre gevegte.

Die Trekkerkommando het teruggejaag na die laers en geskree dat die Zoeloes in aantog was. Die vrouens en kinders het skuiling gesoek in ’n vinnige saamgeflansde skuiling van planke en waens in die middel van die laer. Erasmus Smit het hulle probeer moed inpraat na die beste van sy vermoë: “Mag God die Almagtige ons hulp gee teen ons oorweldigende vyand. Mag Hy as ons moet veg, ons die oorhand gee, sodat ons Hom kan bedank daarvoor. Ons het soveel onware berigte ontvang en mag hierdie ook onwaar wees, Hy het die krag om ons harte te versterk en smag daarna om ons siele genadig te wees,” het Smit gebid.

 

Die laer maak gereed om te veg

Die mans het vinnig die perde in die laers gejaag en die beeste en skape in die veld gelos. Hulle het al die beskikbare gewere en kanonne gelaai en gewag op die 10 000 Zoeloes wat uit die noordooste gekom het onder bevel van Generaal Umhlela. Daar was omtrent 30 man wat na die beeste omgesien het in die Drakensberg-omgewing, en ’n aantal het die Trekkers in Port Natal besoek. Daar is geskat dat daar nie meer as 150 weerbare man in die laer in totaal was nie, waarvan daar op hierdie tydstip so min soos 75 man oor was om die laer te beskerm.

Die Zoeloes het verby Sooilaer getrek en opgeruk na Gatsrand. Op pad het hulle van die bruin veewagters vermoor wat in die veld vee opgepas het. Johannes Coenraad Froneman was by die veewagters en het in ’n rietbos op die rivieroewer geskuil toe die Zoeloes daar aangekom het. Die Zoeloekrygers het hom egter gekry en doodgesteek. Die Trekkers wat sy liggaam gekry het, was uiters geskok om te sien dat sy geslagsdele afgesny en in sy mond gestop was.

Sommige Zoeloeregimente het die rivier oorgesteek aan die onderkant van Gatsrand, maar die hoofmag het uit die ooste gekom, en toe om die laers getrek om die laers van die westelike kant aan te val. Vanaf hierdie rigting was daar meer skuiling en minder gevaar om deur die voorlaaiers van die Boere afgemaai te word, soos wat hulle nader gekruip het aan die waens om dit aan te val.

 

Die Trekkers wag vir die Zoeloes om aan te val

Die Boere het hul aanvalstaktiek verander en vir die aanval by die buitenste waens gewag. Hulle het hul finale opname gemaak van die beskikbare ammunisie en kruit in die laer, en toe gewag op die Zoeloes om die eerste aanval te loods. Die blaas op ’n beeshoring was die sein vir drie Zoeloeregimente om aan te val, terwyl hulle “Bulala! Bulala amaboele!” geskree het.

Hulle het vinnig in die gewone “horings van die buffel”-formasie gevorm, en ander het van ’n nabygeleë koppie op die Boere begin vuur met hul gesteelde voorlaaiers, terwyl honderde Zoeloes nadergekruip het aan die westelike kant van die laer. Die Trekkers het hul vuur ingehou toe die massa krygers al nader gekruip het. De Lange het eerste geskiet toe die voorste Zoeloes omtrent 50 m weg was, daarna het al die Trekkers herhaaldelik met hul voorlaaiers op die vyand losgebrand met die gewere wat rook en vuur gespoeg het.

“Vuur op die punte van die horings,” het De Lange aan sy manne geskree, wat die bevele onmiddellik uitgevoer het, met groot sukses. Elke keer as die Zoeloes probeer het om deur te breek in die laer, is hulle teruggedryf, en die assegaaie wat hulle in die laer in geslinger het, het niemand in die laer beseer nie en het baie min skade aangerig. Aangesien die Zoeloes nie geweet het wat om verder te doen nie, het die aanval afgewater en het hulle begin onttrek. 15 Trekkers het vorentoe beweeg om die terugvallende Zoeloes te volg.

Hulle het aanhoudend gevuur en herlaai soos hulle die Zoeloes agtervolg het en ’n donker rookwolk het die laer bedek. Die gekletter van die geweervuur was elke nou en dan aangehelp deur die vuur van Ou Grietjie en Stelletjie wat ’n pad oopgeskiet het in die Zoeloe-aanval. Die Zoeloe-aanvalskrete en geskree van gewonde Zoeloes het in die lug weergalm, die Trekkers se honde het droewig gehuil elke keer as die kanon afgevuur is. Elke keer met die afvuur van Stelletjie, was die kanon se terugslag so geweldig dat die kanon agteroor geslaan het, en eers weer in posisie gebring moes word.

 

Die Zoeloes val die tweede keer aan

Na die eerste aanval het die Zoeloes hergroepeer, en ’n tweede aanval geloods. Hierdie keer het hulle die laer in enkel gelid aangeval. Elke keer as ’n kryger geskiet is, is hy vervang deur die volgende een in die lyn. Dit was duidelik dat die Zoeloes probeer het om die Trekkers se ammunisie uit te put, en die kanon het minder krygers doodgemaak in die nuwe aanvalsformasie.

Nieteenstaande, het die Zoeloes weereens teruggeval. Toe hulle terugval, het De Lange met 25 man die retererende Zoeloes agtervolg en hulle van agter aangeval, en al hoe verder van die laer verdryf met hul knaende geweervuur.

Daardie agtermiddag het die Boere tot die aanval oorgegaan terwyl die Zoeloes besig was om die Trekkers se beeste buite die laer bymekaar te maak. Aangesien hulle reeds te ver van die laer was, kon hulle nie ’n groot impak op die Zoeloes maak nie. Die kuddes het ook ’n skerm gevorm vir die Zoeloes teen ’n aanval van die Trekkers, totdat die beeste vermink was deur die Zoeloes. Daar was stukke vleis van hul lywe uitgesny, hul sterte afgesny en hul tonge uitgesny, terwyl hulle lewendig was. Die Voortrekkers het hulpeloos toegekyk hoe die Zoeloes die diere vermink het en die stukke vleis in die lug gehou het voordat hulle dit in die vuur gegooi het.

Die hele nag was die gelag en gejuig van die Zoeloes en die kermgeluide van die verminkte diere hoorbaar. Die beangste Trekkers het die hele nag nie geslaap nie en lanterns aan sweepstokke vasgemaak wat hulle aan die buitekante van die waens gehang het om die onmiddellike omgewing te verlig.

 

Gatsrand word aangeval deur die Zoeloes (Dag 2 van die aanval)

Met eerste lig die volgende dag, het De Lange met 60 man uitgery om die Zoeloes aan te val. Hy het daarin geslaag om die Zoeloes weer in die rigting van die waens te dryf. Daar het Stelletjie ’n welkome “Goeiemôre” aan die krygers gebrul. Later het die Zoeloes weer hul taktiek verander. Terwyl die frontlinie nader gekruip het aan die waens het ’n tweede linie agter die eerste een, hul werpspiese met brandende gras in die laer gewerp. Hierdie spiese het in die seilwerk van die waens en ook in die droë doringtakke tussen die waens beland, en spoedig was die hele laer gevul met rook en vlamme. Die vrouens en kinders het geskree en rondgehardloop met emmers water om die vlamme te blus en die ammunisie en buskruit weg van die brande af te verskuif.

Op die tweede dag van die aanval, op 14 Augustus 1838, is een van die Zoeloe-aanvoerders deur ‘n skoot van Stelletjie gedood. Sy dood het die moraal van die Zoeloemag beïnvloed, maar tog het die krygers na sononder weer aangeval en die gras om die laer aan die brand gesteek. Soos die vlamme al nader aan die waens gekom het, het die Trekkers besef die enigste verdediging is om ’n voorbrand om die laer te maak. Die Trekkers het die voorbrand in stukke gedoen en eers die vlamme geblus voordat die volgende area aangepak is. Toe die veldbrand wat die Zoeloes begin het die voorbrand om die waens bereik het, het die vlamme bedaar en uitgedoof.

Daardie nag terwyl die Zoeloes die res van die Trekkers se beeste bymekaar gemaak en hulle weggevoer het, het die Trekkers in die kamp na Erasmus Smit se voorlesing uit Psalm 28 geluister.

 

Gatsrand word aangeval deur die Zoeloes (Dag 3 van die aanval)

Toe die Zoeloes die kommando, aangevuur deur De Lange, die volgende oggend, 15 Augustus, sien, het hulle met al die gesteelde vee van die Trekkers in die rigting van Umgungundlovu gevlug.

Meer as 3 000 Zoeloekrygers het gesneuwel in die paar dae wat die aanval geduur het, en die lyke was verstrooi oor die afgebrande veld om die laer, vir ’n afstand van omtrent 3 km. Die warm weer het veroorsaak dat die liggame vinnig begin verrot het, en die stank het ondraaglik geword vir die Trekkers. Eindelik het die Trekkers die liggame met osse weggesleep na ’n sloot ’n ent verder waar al die liggame ingegooi is. Van hierdie dag af was die laer bekend as “Veglaer”.

Maritz het gelukkig trekdiere gestuur. Gatslaer wat nou Veglaer geword het, het na Sooilaer waar Maritz was, versit. Die aand van die 15de het Smit ’n dankdiens gehou. Almal was daar, en Psalm 28 vers 6 en 7 is voorgehou: “Geloofd zij de Heere; want Hij heeft de stem mijner smeekingen gehoord. De Heere is mijn Sterkte en mijn schild; op Hem heeft mijn hart vertrouwd …”