Die Boere-aanval op Majuba – Deel 18: Effektiwiteit van vuur tydens die slag

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 17: Die aanval op die Britte op die nek tussen Majuba en Nkwelo
February 16, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 19: Direkte gevolge van die Slag van Majuba
February 16, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Tydens die slag van Majuba was daar ’n baie groot kontras tussen die twee strydende magte ten opsigte van die benutting van die terrein en dekking, asook die taktiese aanwending van magte (bv. die Boere se afwisseling tussen storm- en vuursteungroepe). Die mees opvallendste kontras was egter die verskil in effektiwiteit en veral die akkuraatheid van die geweervuur van die Boere en Britte.

Tydens die vertellings is daar reeds na hierdie aspek verwys, maar ’n opsommende en en ook aanvullende bespreking daarvan kan beter begrip skep vir die gebeure by Majuba daardie dag.

Die Britte het beslis oor groter vuurkrag as die Boere beskik – hulle was eenvormig bewapen met ’n moderne geweer (vir daardie tyd) en vir elke geweer was daar 70 rondtes beskikbaar. Daar was 354 “rifles” op Majuba.[1]

Die Boere daarteenoor het van ’n groot verskeidenheid gewere gebruik gemaak en het waarskynlik oor ongeveer 30 rondtes/skote per man beskik. Kommandant Ferreira skryf die volgende:

“…terwijl er onder onze menschen waren, die maar dertig patronen bij zich hadden, toen wij den Kop bestormden.”[2]

Daar kan met sekerheid gesê word dat die Boere beperkte ammunisie tot hulle beskikking gehad het tydens die Slag van Majuba en dat elke burger goeie oordeel aan die dag moes lê oor die tempo van verbruik daarvan (d.w.s. wanneer en hoe vinnig hy skiet tydens die geveg).

Indien ons vir die argument se onthalwe aanvaar dat die Boere net soveel “gewere”/manne op Majuba gehad het as die Britte (354 man), het die Boere oor 10 620 rondtes/skote beskik teenoor die Britte se 24 780. Tydens die slag het die Britte ses skote raakgeskiet, die Boere … aansienlik meer. Die effek van die Boerevuur was ook heel anders as dié van die Britte.

Voordat mens antwoorde begin formuleer oor die redes wat daartoe gelei het, moet mens dalk net weer ’n oorsig oor die effek van Boere en Britse vuur kry.

 

Akkuraatheid en effektiwiteit van die Boere se vuur

Na die slag van Majuba was Mevrou Hendriena Joubert duidelik patrioties wanneer sy verklaar: “En elk schot was raak!”[3]

Selfs Britse skrywers het dieselfde verklaar. Neville skryf die volgende: “It is said that not a shot was wasted by the Boers in that famous battle. Every shot that left a rifle aimed by a Boer either killed or wounded an English soldier. After the battle an examination of the dead showed that nearly every English soldier had been shot in the head, which is considered to be one of the best evidence in the word of superior marksmanship. There was no patterning of bullets on rocks about the English on Majuba hill, no whistling of showers of bullets as they flew past them; simply dull thuds, as here and there a soldier fell backward dead or wounded. The smallest part of the head above the rocks was sufficient target for the unerring rifleman of the Boer army.”[4]

Ten spyte van die komplimente hierbo, was elke skoot van die Boere in werklikheid natuurlik nie raak nie.

Daar is reeds daarop gewys hoe Britse seine wat vanaf Majubakruin gestuur is, ’n aanduiding van die Boerevuur se volume en akkuraatheid verskaf het.

9.30 vm. Majubakruin. Kolonel Stewart.
“All very comfortable. Boers wasting ammunition. One man wounded in foot.”[5]

11 vm. Majubakruin. Generaal Colley.
“Boers still firing heavily on hill … I regret to say Commander Romilly dangerously wounded; other casualties, three men slightly wounded.”[6]

Middag Majubakruin. Perskorrespondent Thomas Carter.
“… Firing kept up incessantly by Boers – our men very steady, return fire only when good chance offers … I estimate 2 000 Boers round the hill: they are keeping up average of 60 shots per minute … the firing latterly has been to our front and left. …. Certainly, the Boer losses are heavier than ours. …. Our reserves are kept in the hollow, whenever the Boers are reinforced at any particular point a squad is told off to answer their fire.”[7]

Dit is nie duidelik hoe Carter tussen Boere en Britse vuur kon onderskei ten einde ’n vuurtempo van 60 skote per minuut te bepaal nie. Dit is ook nie duidelik vir hoe lank al die Boere hierdie vuurtempo gehandhaaf het nie. Dit blyk ook uit bogenoemde aanhalings dat die vuurtempo nie die hele oggend dieselfde was nie. Tog is ’n teoretiese, geskatte sommetjie interessant: Gestel die Boeremag het 30 skote per minuut gevuur vanaf 07:00 tot 10:00 (3 ure) en toe 60 skote per minuut vanaf 10:00 tot 11:00, dan het hulle teen 11:00 reeds 9 000 skote gevuur – en vier Britse verliese toegedien. Hierdie syfer van 9 000 skote kan natuurlik nie as akkuraat voorgehou word nie, maar hierdie teoretiese sommetjie wys wel dat die Boere tot ongeveer 11:00 daardie dag, duisende skote oor ’n afstand van 400 m en verder …, amper raakgeskiet het.

Die feit dat so min verliese teen 11:00 deur die Boere toegedien is, beteken natuurlik nie dat die vuur oneffektief was nie. Die doel van vuursteun deur ’n vuursteungroep, soos wat die Boere toegepas het, is nie net om verliese te veroorsaak nie, maar in die eerste plek om die “vyand se koppe laag te hou”, dit is, om die vyand met vuur te intimideer, om maar liewer agter dekking te skuil en nie terug te skiet nie. In daardie opsig was die Boere se vuursteun wel effektief.

Stephanus Roos vertel: “Mar gelukkig kom Ferreira en syn manskap toen net uit op di koppi, en so kon hulle weer ver ons los skiit, net soos ons ver hulle los geskiit het. So skiit ons skuins o’er en weer makaar los.”

Hy vertel ook:

“Mar ons agterste kerels van di middelste rant af (kruinrant, tweede terras) en Ferreira syn manskap hou di Engelse so warm, dat hulle ni durf uitkom om behoorlik korl te vat op ons ni.” Mens noem dit “vuursteun”![8]

Luitenant Ian Hamilton het later die volgende aan Churchill vertel:

“Suddenly, quite close, darting forward here and there among the rocks and bushes of the donga – Boers! Fire on them, then. The Gordons’ rifles spluttered accordingly, and back came the answer hot and sharp – a close and accurate musketry fire pinning the little party of Regulars to the earth behind their flimsy shelters. No one could show his head to fire. Soldiers would hold a helmet up above the sheltering stone and bring it down with two and three bullets through it.”[9] Mens noem dit “wen van die vuurgeveg”!

“… hulle ni durf uitkom om behoorlik korl te vat op ons ni” en “no one could show his head to fire.” – Dit is ’n mondvol! Dit verklaar gedeeltelik hoekom die Britte aanvanklik minder as die Boere geskiet het en die Britte se vuur onakkuraat en oneffektief was; hoekom die Britse verliese aanvanklik so laag was; hoekom dit nodig was vir die Boere om “nader te gaan”; en les bes, saam met die terrein, hoekom die Boere kon nadergaan, sonder om hoë verliese te lei.

Die uiteindelike effek van die Boerevuur tydens hulle aanval op Majuba, was grafies beskryf deur luitenant Fornes M’Bean. Hy was een van die offisiere wat deel was van ’n Britse “burial party” wat op 28 Februarie 1881 na Majubakruin gestuur is. Hy beskryf wat hy gesien het as volg:

“The top of Majuba was a horrid sight. The first thing that I saw was a long row of dead men – some 40 or 50 of them. There were also numbers of wounded men lying about, most of them frightfully wounded. I went towards the edge of the hill where many of the 92nd had been killed. There the grass was a mass of blood and brains and red all over… the dead were all shot above the breast; in some men’s heads I counted five or six bullet wounds. Helmets were riddled … Eventually the grave was dug and the men put in three layers. Some Boers helping us. To the best of my recollection, we put 75 bodies in. We then went further down the hill, collecting another 14 bodies, and buried them there. Five or six of them had been alive when we went up in the morning.”[10]

Cromb verskaf die volgende weergawe:

“Major Macgregor, as we have previously said, was on General Colley’s staff, and his particular duty was to detail the men to their posts on the top of the hill. He had, therefore, special opportunities of judging of the nature of the position the British troops were to hold ‘for three days.’ He practically declares it to have been untenable.

“The defense of such a position as that of the Majuba Mountain, he says, can be imagined when you understand that the sides most liable to attack were as thoroughly exposed to the fire of the enemy as the glacis of a fortress would be from the bottom without any more cover than individuals could collect for themselves in the shape of a few stones sufficient to cover their heads, and that not even the centre of the position was protected from the enemy’s fire, as from the very commencement bullets were constantly striking the very centre of the position, and that not a dropping fire from a long range, but all from a few hundred yards distance.

“The few casualties at the commencement were owing to the light fire of the enemy or the extended order of the defenders. As soon, however, as the Boers had made all their necessary dispositions, their fire was so overwhelming compared to that which could be delivered by the small number of the defenders (General Schmidt himself, who commanded the attack, having acknowledged to 2 000 rifles being levelled from the ridge on the Western and Northern slopes), that very soon after the heavy firing began there were few men on the Western and Northern slopes left unwounded, and there were not many, owing to the extended position occupied, left to reinforce and fill up the gaps.”[11]

Nota: Dit is ’n besonder groot kompliment vir die Boere se skietvernuf, dat die storie van “2 000 rifles” wat van die kruinrant van die eerste plato sou vuur, deur hulle geglo is. Die werklike getal is sekerlik minder as 10 keer soveel. Dit gebeur bitter min, dat die vyand se getalle so erg oorskat of geglo word!

Nou hoe nou? Hoe is dit moontlik dat ’n mag van militêr onopgeleide burgerlikes, met ’n groot verskeidenheid gewere, sommige erg verouderd, met minder as die helfte soveel ammunisie as hulle professionele beroepsoldaat-vyand, telkens die vuurgevegte kon wen? Ja, taktiese benutting van terrein en vuurkrag; gebruik van dekking; manier van oorlogmaak – die Britte wat hulle gewere as areawapens aanwend teenoor die Boere wat een-skoot-doodskoot-kom-ons-gaan-haal-die-bok-skuts was. Was daar dalk nog ’n rede? Kom ons kry eers weer ’n oorsig oor die Britse vuur se akkuraatheid en effektiwiteit.

 

Akkuraatheid en effektiwiteit van die Britse vuur

Elke Britse skutter moes 70 rondtes ammunisie saamneem na die Majubakruin. Indien daar aanvaar word dat daar 350 Britse gewere op Majuba was, was daar dus 24 500 rondtes op die kruin beskikbaar. Dit is onbekend hoeveel hiervan gevuur is, maar dit moes baie duisende gewees het. Dit het blykbaar net sewe verliese veroorsaak (ses indien aanvaar word dat een verlies aan Boerekant deur “vriendelike vuur” veroorsaak is). Verreweg die meeste skote is gevuur binne die effektiewe aanwendingsafstand van die Martini Henri-geweer (400 m), baie daarvan op kort afstand (40-50 m).

Alhoewel die Britte se vuurtempo by tye laer was as dié van die Boere, het hulle baie geskiet.

Lady Florence Dixie het Majuba in April 1881 besoek. Sy verskaf ’n interessante perspektief:

“I wandered over the plateau and across the ground where the gallant 92nd made their determined stand; cartridge cases lay thickly strewn along the brow, and impromptu fortications were still left standing. One stone in particular, about half the size of a man’s body, was seared and scarred with bullet marks, and presented a strange appearance. This had evidently been a hot corner, and the pile of empty cartridges testified to the determined stand which must have been made by the occupier.”[12]

Ons weet nie of hierdie klip dié een is waarna Lady Florence Dixie verwys nie. Dat dit agter hierdie klip op Hamilton-koppie egter ’n “hot corner” was, is seker …

 

Killian het vertel: “… die Engelse het ons kwaai onder die lood gesteek.”[13]

Daar is reeds daarop gewys dat daar selfs na die tyd beweer is dat die Britte se ammunisie opgeraak het, maar dat feite dit weerlê. Daar is baie geskiet … en baie mis geskiet …

Die Britte het soms amper raakgeskiet (met die Boere net so goed):

Die aanvang van die geveg, word deur Killian so vertel:

“… ons hardloop onder die vyand se koeëls vorentoe om by ons makkers te kom waar ons van agter die krans op die rooibaadjies begin te vuur. Dit was geen maklike taak nie want op ’n distansie van omtrent vier honderd tree kon ons die Engelse, wat daar bo tussen die gras sit en lê, nie mooi onder skoot kry nie.”[14]

Ook toe Killian te perd van die berg af wegjaag om versterkings te gaan kry:

“Gedurig gons Martini-koeëls nog rondom my.”[15]

Soos wat die Boere egter nadergaan, skiet die Britte al hoe misser.

Vanaf die kruinrant van die tweede terras het die Boere ’n vuurgeveg met die Britte gevoer. “Ons het agter die bank gelê en skiet met tweehonderd versier, so naby was ons” maar “… die Engelse skiet al oor ons want ons was agter ’n bank.” Piet Roos word deur sy broer teruggestuur na onder om die vuursteungroep by die kruinrant van die eerste terras te gaan haal. “Piet Roos moes deur die koeëls na onder en weer terug na ons.”[16]

Ook Stephanus Roos vertel dat die Britte te hoog geskiet het tydens die vuurgeveg wat die Boere vanaf die tweede terras se kruinrant gevoer het:

“Di twede rant of afset beryk ons dan oek in tamelik korte tyd en sonder enige nadeel deur di pylskote wat o’er ons koppe vliig, en op di maniir later een van ons manne gedood het, naamlik Johannes Bekker, en 6 gewond het; ni van ons voorste mense ni, maar van ons agterste, sodat ons voorste manne ni eens daarvan geweet het ni. (En dis al ons verliis van di dag).”[17]

Die Britte het gedink hulle vuur is akkuraat, maar in werklikheid skiet hulle te hoog. Eers tydens die laaste vuurgeveg op Majubakruin, besef die offisiere dit en probeer dit regstel:

Die Britte het te hoog geskiet …

Die belangrikste rede waarom die Britte te hoog geskiet het:

“I myself saw, during my stay amongst the Boers, that many of the rifles captured on this occasion were sighted at 200, 300, and in some cases 500 yards.”[18]

En:

“A couple of months after the storming of Majuba, I, together with a friend, had a conversation with a Boer, a volunteer from the Free State in the late war, and one of the detachment that stormed Majuba, who gave us a circumstantial account of the attack with the greatest willingness. He said that when it was discovered that the English had possession of the mountain, they thought that the game was up, but after a while bolder counsels prevailed, and volunteers were called for to storm the hill. Only seventy men could be found to perform the duty, of whom he was one. They started up the mountain in fear and trembling, but soon found that every shot passed over their heads, and went on with greater boldness.”

En:

“This man also told us that the majority of the rifles they picked up were sighted for 400 yards, whereas the latter part of the fighting had been carried on within 200.”[19]

Die versuim om hulle gewere se visiere tydens gevegte van die Eerste Vryheidsoorlog te stel (spesifiek tydens die slae van Bronkhorstspruit en Majuba), was waarskynlik een van die kleinste flaters, met die grootste gevolge, wat ooit deur die Britse Leër begaan is. Dit het hulle waarskynlik die oorlog gekos.

 

Hoeveel te hoog het die Britte geskiet?

Tydens die Eerste Vryheidsoorlog het die Britte van die .577/450 Martini Henry-geweer (Martini Henry Rifle Rolled Case Mark III) gebruik gemaak. Die ammunisie wat waarskynlik gebruik was, was die “Cartridge S.A. Ball”.

Dit was gelaai met omtrent 5,5gr. (85 grein) swartkruit en het ’n koeël van 31.1 gram (480 grein) teen 400.8 m/s (1 315 vt/s) gevuur. Die koeël was 12 dele lood, een deel tin en het ’n ronde neus gehad.

In vandag se terme was die koeël ’n swaar, stadige, rondeneuskoeël, wat dui op swak ballistiese eienskappe. Dit is nie moontlik om die koeëltrajek presies te bereken nie, aangesien die ballistiese koëffisiënt van die koeël nie beskikbaar is nie. Gebaseer op die trajekte soos weergegee, kan ’n berekening gemaak word dat die gemiddelde ballistiese koëffisiënt van die koeël omtrent 0,34 moes wees. Die syfers wat hieronder verskaf word, is dus “na beraming”. Mens kan egter steeds insiggewende afleidings vanuit hierdie data maak.

Luitenant Ian Hamilton het die afstand vanaf die kruinrant van die eerste terras tot by sy stelling net voor die bergkruinrant as “less than 500 yards” geskat. Die werklike afstand was 400 m (437 treë) indien mens reguit sou skiet. (Gemeet met ’n laser afstandsmeter in Desember 2020 deur Christo Geldenhuys.)

Nota: lesers sal onthou dat Roos se vuursteungroep aanvanklik van hierdie kruinrant van die eerste terras vuursteun gegee het en dat die Boere ’n ent oor die eerste terras moes hardloop, wat nie in dooie grond was nie.

Ian Hamilton:

From this position (“… a point less than 500 yards from the picquet” – die kruinrant van die eerste terras) they opened a most accurate fire, under cover of which small parties advanced in rushes across the open ground into the dead ground immediately below. (“… across the open ground …” – oor die eerste deel van die tweede terras).[20]

Mens kan met redelike sekerheid aanvaar dat Hamilton se manne se geweervisiere op 500 treë gestel was. Die werklike afstand was 437 treë. Maak 63 treë ’n verskil? Dit doen! 135.6 cm! Dit is soveel te hoog die Britte sou skiet (met “perfekte” skote).

Indien ons aanvaar dat die Boer lank was (1.8m), en net 20 cm – voete en enkels – deur die kort gras op die eerste terras bedek was, en kiertsregop oor die eerste terras sou hardloop, sou die teiken waarheen die Britte gevuur het 1.6 m gewees het. ’n Perfekte skoot, gemik in die middel van die sigbare teiken, sou dus 55.6 cm bo-oor die kop van die Boer wees. Dit is net amper raak! Natuurlik hoe nader die Boer gekom het soos wat hy oor die eerste terras gehardloop het, hoe hoër sou die skote oor sy kop wees.

Volgens Hermann het die Boere by die kruinrant van die tweede terras met “200 visier geskiet”. Behalwe as hulle afgemik het, of die korrel fyn gevat het, sou hulle ook hoog geskiet het. Met slegs kop en skouers wat sou uitsteek, sou albei kante hier mis geskiet het (te hoog – met geweervisiere op 200btreë of verder gestel).

Gebaseer op die data oor die werklike koeëltrajek is die volgende bereken m.b.v. ’n ballistiese program. Selfs op kort afstand sou die verkeerde stelling van geweervisiere tot misskote gelei het. Met visiere op 400 treë gestel, sou die koeëltrajek as volg gewees het:

VISIERE GESTEL OP 400 tree (366 m)  
AFSTAND TUSSEN GEWEER EN TEIKEN HOOGTE VAN KOELTRAJEK
25 m 33.2 cm
50 m 65.8 cm
75 m 92.8 cm
100 m 11.4 cm
150 m 146.2 cm
200 m 154.8 cm
300 m 98.2 cm

Uit bogenoemde kan die volgende afleidings gemaak word, indien ’n geweervisier op 400 treë gestel is:

  • Indien ’n Burger (1.8 m) regop is en sy hele liggaam sigbaar is, op ’n afstand van omtrent 75 tot 300 m, en daar word in die middel van die teiken gemik, sal die skoot bo-oor wees.
  • Indien die Burger 50 m weg is, met net ’n kop en bors sigbaar en daar word in die middel van die sigbare teiken gemik, sal die skoot bo-oor wees.
  • Indien ’n Burger 25 m weg is, met net sy kop sigbaar en daar word in die middel van die sigbare teiken gemik, sal die skoot bo-oor wees.

 

Bogenoemde beteken dat met die hewigste vuurgevegte by Majuba, soos met die Boere op die kruinrant van die tweede terras en die Britte op die bergkruin (vuurafstand 100-200 m), sowel as met die nabygevegte (bv. die Boere op die bergkruinrant en die Britte by die rif op die bergplato), die Britte voortdurend te hoog geskiet het. Hierdie verklaar die groot verskil in verliese gelei tussen die twee kante.

Die skrikwekkende is egter natuurlik dat die Britte nie goeie skuts was nie. Met net ’n effense bewe of kompensering (“flinch”), skiet ’n mens sommer maklik laag …

Deur die late of geweervisiere tydens die geveg te verstel, het beslis daartoe bygedra dat die Britte baie mis geskiet het.

Die uiteinde van die verskil in effektiwiteit tussen Boere- en Britse vuur. Die Britse grafte op Majubakruin. Hierdie manne was in ’n situasie veroorsaak deur hulle land se nasionale waardes en benadering tot oorlog asook die flaters van hulle offisiere. ’n Hartseerplek …

 

Bronne:

Bristish Governement Publication. The London Gazette. TSO (The Stationery Office) under the superintendence of Her Majesty’s Stationery Office (HMSO), part of The National Archives. (Datum van publikasie soos in die voetnota aangedui.)

Butler, W.F. 1899. The life of Sir George Pomeroy-Colley K.C.S.I C.B. C.M.G. 1835-1881. Including services in Kaffraria, in China, in Ashanti, in India and in Natal. London: John Murray.

Churchill, Winston Spencer. 1900. Ian Hamilton’s march. London and Bombay: Longmans, Green and Co.

Cromb, James. 1891. The Majuba disaster. A story of Higland heroism told by officers of the 92nd Regiment. London.

Cromb, James. 1902. The Highland Brigade: its battles and heroes. Edited and brought down to the end of the Boer war, and other essays, by David L. Cromb. Sterling: Eneas Mackay.

Dixie, Lady Florence. 1882. In the land of misfortune. London: Richard Bentley and Son.

Haggard, H. Rider. 1900. The Last Boer War. London: Kegan Paul, Trench, Trubner Co. Ltd.

Hamilton, Ian B.M. 1960. The happy warrior. A life of General Sir Ian Hamilton, GCB, GCMG, DSO. London.

Hermann, H.B.K. 1981. Slag van Laingsnek en Amajuba 1881 soos opgeteken deur H.B.K. Hermann. Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr. 1881 – 27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie.

Jordan, Rob. 1980. The Battle of Majuba: Telegrams of 27 February 1881. The South African Military History Journal, December, 5(2). Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging.

Kilian, J.D. 1975. Laat ons veg. Johannesburg: Perskor Uitgewery.

Neville, John Ormond. 1900. Boer and Britisher in South Africa. Chicago: Thomas & Thomas.

Norris-Newman, Charles L. 1882. With the Boers in the Transvaal and Orange Free State in 1880-1. London: WMH Allen and Co.

Pretoriana. Tydskrif van die Genootskap Oud-Pretoria. Majuba 100 jaar. 27 Febr. 1881 – 27 Febr. 1881. Nr. 81 Julie 1981.

Roberts, Deon B.S. 1959. Die rapportryer van Majuba. Historia Junior, Desember. Beskikbaar by: https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/?p=13117

“S” (Skrywer onbekend). 1896. Die Slag van Amajuba, Ons Klyntji, Deel 1, No. 1. Maart. Paarl: D.F. du Toit en Co. Beperk, Drukkers en Uitgewers.

Watson, Fredrick. 1915. The story of the Highland Regiments. London: A. & C. Black.

Weilbach, Kommandant J.D. en Du Plessis, C.N.J. 1882. Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog. Kaapstad: Saul Solomon & Co.

 

[1] Fraser in The London Gazette, May 8, 1881, p. 2106.

[2] Kommandant Ferreira aangehaal in Weilbach en Du Plessis, Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog, p. 269.

[3] Mevrou Hendriena Joubert, aangehaal in Pretoriana Majuba 100 jaar, 1881, p. 27.

[4] Neville, Boer and Britisher, p. 92-93.

[5] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, p. 387.

[6] Butler, The life of Sir George Pomeroy-Colley, pp. 391-2.

[7] Jordan, The Battle of Majuba: Telegrams of 27 February 1881, Military History Journal.

[8] Stephanus Roos in Ons Klyntji, p. 12.

[9] Churchill, Ian Hamilton’s march, p. l.

[10] Cromb, The Highland Brigade: its battles and heroes, pp. 294-5; kyk ook Watson, The story of the Highland Regiments, p. 210.

[11] Cromb, James. The Majuba disaster, pp. 23-24.

[12] Dixie, In the land of misfortune, p. 59.

[13] Killian, aangehaal in Roberts, Die rapportryer van Majuba, p. 11.

[14] Kilian, Laat ons veg, p. 25.

[15] Kilian, Laat ons veg, p. 25-26.

[16] Hermann, Pretoriana Majuba 100 jaar, p. 10.

[17] Stephanus Roos in Ons Klyntji, p. 12.

[18] Norris-Newman, With the Boers in the Transvaal and Orange Free State in 1880-1, p. 301.

[19] Haggard, The Last Boer War.

[20] Hamilton, The happy warrior, p. 42.