Die Boere-aanval op Majuba – Deel 17: Die aanval op die Britte op die nek tussen Majuba en Nkwelo

Die Boere-aanval op Majuba – Deel 16: Herorganisering
Februarie 15, 2021
Die Boere-aanval op Majuba – Deel 18: Effektiwiteit van vuur tydens die slag
Februarie 16, 2021

Christo HC Geldenhuys

 

Gelyktydig met die herorganisering op Majuba het daar ook ’n kleiner geveg op die nek tussen Majuba en Nkwelo plaasgevind. Daar sal onthou word dat met die Britte se aanmars na Majuba die nag van 26 tot 27 Februarie 1881, twee groepe langs die pad agtergelaat is, naamlik een op die helling van Nkweloberg en die tweede op die nek tussen Nkwelo en Majuba. Dit is hierdie tweede groep, plus versterkings, wat later in ’n geveg betrokke was.

Een kompanie 92nd Highlanders (omtrent 60 man) onder Kaptein Robertson is op die nek agtergelaat, sonder duidelike bevele oor wat hulle rol was. Hulle is later versterk deur 76 man van die 3/60 Rifles, asook ’n afdeling van die 15th Hussars. Die Britte het ’n fort gebou met sooie, omtrent 1 m hoog en 50 cm breed.[1]

Foto geneem van agter O’Neil se huisie: v.l.n.r. Nkweloberg (links agter tussen die twee bome, met die begraafplaas onder tussen die bome); die rif tussen Nkwelo en Majuba; Majuba kruin (regs bo agter, sonverlig). Dit is op hierdie nek waar die kompanie 92nd se stelling was.

 

Daar is reeds in die vorige deel vertel hoe die Boere vanaf die kruin van Majuba hierdie Britse mag gesien het en dit wou aanval. Afhangende na wie mens luister, kry mens verskillende prentjies oor die afloop van hierdie aanval.

Ons luister eers na die besadigde weergawe van Kolonel Bond, wat as die Britse bevelvoerder in Mount Prospect agtergebly het, soos verval uit sy dagboek:

“Sunday, February 27

“After the movement was noticed by the Boers firing in a desultory manner was opened on both sides, and everything seemed to be progressing favourable until about one o’ clock, when very heavy firing commenced, and we could see our troops driven of the top of the hill. Although at the same time we could not make certain they were our own side or the enemy.

“Two nine-pounders with escort of two companies 92nd were ordered out by (Captain E.) Essex, staff-officer to take up position about four hundred yards in advance of camp, and they soon opened fire. In a short time it was apparent it was our own side that was defeated, and soon after we heard that the General has been killed, and gradually stragglers and wounded men began to arrive in camp.

“I was then in command and gave orders for four companies, which had been occupying a position in support of the expedition to the mountain, to retire to camp. This was accomplished, two of the companies being engaged with the enemy in the movement but without any very great loss, the guns opening fire and covering their retreat. At this time there was every sign of the intention of the Boers to advance on the camp. I telegraphed for reinforcements to Newcastle. After approaching some distance towards the camp they retired and then ambulances with hundred men and all the doctors were send out to bring in the wounded.”[2]

O’Neil se huisie, met die rif daaragter. Die sonverligte horison agter is Majubakruin.

 

Pieter C. Joubert, wat die slag vanaf Langkrans deur generaal Piet Joubert se verkyker dopgehou het, se storie is heelwat opwindender:

“Majuba-slag is bo-op die kruin beslis maar nie daar afgesluit nie. Presies 5 minute oor een – ek het op my sakhorlosie gekyk – het die Engelse teë-stand in die pannetjie begin wyfel. Daarna chaos. Binne enkele minute volg die Engelse burgers die agterste Engelse oor die kruinronding. Tot groot verbasing van die burgers val hulle oë op die twee forte wat Colley die dag tevore op die gelykte tussen Mount Prospect en Majuba laat bou het. Die forte was sommer van sooie, sterk beman en moes blykbaar dien om die Boere te stuit ingeval van ’n aanval van agter of so iets. ’n Burger, so veronderstel ek, is toe onmiddellik in alle haas met die nuus na komdt-genl Joubert gestuur en die boodskapper moet gou gespeel het, want toe ek weer sien ry ’n perdekommando uit die Nek uit in die rigting van die forte. Omstreeks drie-uur het die ruiterkommando, baie stadig, die forte tot onder skoot genader. Op vierhonderd tree egter was die Engelse vir hulle klaar en hulle los ’n kwaai sarsie. Maar toe die Britte lostrek, storm die burgers! Met dieselfde oorhaas en ratsheid waarmee hulle vriende Majuba sopas ontruim het, het hierdie kêrels hulle forte verlaat. Hals-oor-kop het hulle oor die sooimure geklouter en die rieme neergelê na die diepste klowe, verder af. Dat hulle nie van die deure of uitgange gebruik gemaak het nie, het waarskynlik toegeskrywe word aan die feit dat die oopgelê het vir die gevreesde vuur van die aanstormende burgers. Hierdie Engelse het veel kwaaier gespalk as die Majuba span en was, volgens ’n deelnemer aan daardie reisies, erg genoeg; ‘Dit het my vier ure geneem om Majuba uit te klim,’ het die segsman beduie, ‘maar binne vier minute was ek onder’. Ondanks die snelheid waarmee die manskappe uit die forte gevlug het, het dit hulle nie veel gebaat nie en baie het gesneuwel.

“Toe die Engelse nou, onder uit hul Mount Prospect-kamp, moes belewe hoedat eers Colley se leër en later die manskappe van die forte moes uitlȇ voor, het hulle met ’n mag van sowat 200 perderuiters ’n end teen Mount Prospect uitgejaag. Hierdie kêrels was blykbaar besonder haastig of ’n weinig lugtig want sonder om van hulle perde af te styg, het hulle sommer vanuit die saals vanuit die forte gevuur. Waarskynlik wou hulle die burgers van koers af bring waar laasgenoemde onverpoos die vlugtende vyand bestorm het. Dit moes hulle liewer nie gedoen het nie. Die burgers maak aanstaltes om hulle nou te kom bydam. Toe hulle opruk, spring die Engelse in hulle spore om, altwee honderds ruiters en jaar toe kamp-toe. Maar moenie glo nie. Engelsman kon die dag niks anders doen nie as gou en goed skrik. Sonder om te blik of te bloos steek die spul by hulle militêre kamp wat vol gewondes hul besonder nodig gehad het, verby die oop wêreld in. Klaarblyklik wou hulle sommer laat deurloop Newcastle-toe. Wat van hulle geword het en of beter oordeel hulle later laat omdraai het val buite my herinnering.

“Die mis het op daardie oomblik toegeval en ’n end gemaak aan die beroemde Majuba-slag. Ek het my pos verlaat en Nek-toe gery.”[3]

In hierdie geveg het die Britte ongeveer 40 verliese gely – gedood, gewond of gevang, teenoor geen verliese aan Boerekant.[4]

Die mis wat “toegeval” het …

Miskien is dit belangriker om te verstaan hoekom die slag tot ’n einde gekom het, as die fynere detail van die laaste geveg. Ons moet maar luister wat later vertel is – deur generaal Joubert in ’n onderhoud met dr. Matthews:

“‘But tell me general, how do you account for the fact that 500 English should run before 60 Boers who just had an eight-hours climb up the mountain?’

“‘I don’t wish to give any opinion,’ said the general looking seriously indeed, ‘but I am certain hand of God was with us all through.’ Then waxing quite eloquent ‘Men of mine, whom I knew were such cowards, that in (black) wars even I have set them to cook the pots, advance with determined step, impressed with work before them, actuated, I am sure, by an Almighty power.’

“Doctor Matthews continued ‘… all Englishmen may be glad that the sudden mist stopped the attached upon our camp at Mount Prospect, which general Smit told me the Boers had decided to make, or a yet more disastrous defeat would, I feel certain, have been chronicled.

“I was strongly impressed with the believe that General Joubert recognised the divine Providence in everything, as over and over again he said, ‘the hand of God was in it all.’ “I was also informed that when the sudden mist arouse, hiding our camp completely from view, that he quietly said: ‘Look at the mist, the Lord won’t allow us to go.’

Seemingly, like Cromwell, he was firm in the universality of the divine interposition and so accepted the sudden mist as a command of the Deity! ‘Thus far shalt thou go and no further.’”[5]

Regtig? Hoekom sou God ’n mis laat opkom om te verhoed dat die Boere die Britte verder verniel? ’n Moontlik antwoord op hierdie vraag kan in die volgende deel van die reeks gevind word.

 

Bronne:

Grobler, Jackie. 2018. Die Eerste Vryheidsoorlog. 1880-1881. Centurion: Kraal Uitgewers.

Marling, Colonel Sir Percival. 1931. Rifleman and Hussar. London: John Murry.

Matthews, J.W. 1887. Incwadi Yami or Twenty year’s personal experience in South Africa. London: Sampson Low, Marston, Searle & Rivington.

Pieterse, H.J.C. 1940. Volksaltare of ’n veteraan van die Eerste Vryheidsoorlog. Kaapstad: Nasional Pers Beperk.

Ward, S.G.P. 1975. Majuba, 1881: The Diary of Colonel W.D. Bond, 58th Regiment. Journal of the Society for Army Historical Research, 53(214): 87-97. Summer.

 

[1] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, p. 323-324.

[2] Ward, Majuba, 1881: The Diary of Colonel W.D. Bond, 58th Regiment in Journal of the Society for Army Historical Research, pp. 90-91. Kyk ook Marling, Rifleman and Hussar, p. 53.

[3] Pieter C. Joubert, aangehaal in Pieterse, Volksaltare, pp. 90-92.

[4] Grobler, Die Eerste Vryheidsoorlog, p. 325.

[5] Matthews, Incwadi Yami or Twenty year’s personal experience in South Africa, pp. 337-338.