Die Groot Trek: Hoofstuk 7 Deel 1
Januarie 14, 2021
Margot Luyt
Januarie 20, 2021

Sarel Feldtmann

Die moorde (vervolg)

 

Owen moes ’n brief skryf vir Retief met sy aankoms (2 Februarie 1838)

Vrydagmôre, die 2de Februarie, teen sonop, het Dingaan Owen ontbied om ’n brief aan Retief, van wie die koms na die stat bekend was, te skrywe. Sy hart was nou tevrede, so moes die brief lui, omdat hy sy beeste terugkry. Sy versoek is nou dat Retief aan al sy mense bevel sal gee om oor te kom na die hoofstat, maar sonder hul perde.

Hoe moes hulle dan kom as hulle nie met hul perde mag kom nie, wou Owen weet. Nou, dan moes hy maar skrywe dat hulle hul perde moes bring en vir hom in die middel van sy stat kom dans. Dan kon uitgemaak word wie die beste kon dans, die Zoeloes of die witmense. Hy sou vir hulle beeste laat slag langs die pad en vir hulle ’n stuk land gee. Dieselfde middag het groot groepe Zoeloes in oorlogstooi die stat binnegetrek en die oorlogshutte onder bevel van die indunas Umhlela en Tambusa betrek.

 

Retief gaan sien Dingaan (Saterdag 3 Februarie 1838)

Die volgende môre vroeg het Retief en sy geleide die stat genader. Met die gebruiklike snaphaanskote het hulle die Zoeloepotentaat begroet. Die eerste keer toe Dingaan met hierdie gebruik van die blanke kennis gemaak het, was hy hewig ontsteld, maar nou was hy al daaraan gewoond, het die geknal van die blankes se gewere hom selfs kinderlike vreugde verskaf. Die begroeting het sy ydelheid gestreel. Van sy kant kon hy sy grootheid toon deur die enorme sameloop van Zoeloekrygsvolk in hul barbaars-skilderagtige oorlogstooi.

Retief en sy mense het die stat twee-twee in gelid genader, met die agterryers en handperde agteraan en vergesel van die Zoeloe-afgevaardigdes met die gebuite beeste. Weldrae het hulle die stat ingery met die gewere in die hande. Retief het ’n kort spieëlgeveg gereël, waarskynlik op die skriftelike versoek van die vorige dag. Op hulle beurt het die Zoeloes hul vaardigheid getoon met oorlogsdanse, ruwe oorlogsang en die geklap van asgaaie op beesvelskilde.

By hierdie begroeting was Dingaan nie persoonlik teenwoordig nie. Vanaf sy sitplek onder die wildevyeboom agter sy isigodlo het hy waarskynlik die hele skouspel oorsien. Onderhandelings het plaasgevind deur middel van een van sy indunas, waarskynlik Umhlela, wat as “mond” van die koning opgetree het. Retief het die beeste afgelewer, met die boodskap dat hul ernstige wens was dat daar vrede en vriendskap tussen die Zoeloenasie en die Emigrante mag bestaan. Die Zoeloe-afgevaardigdes het verslag gedoen oor die vernedering van Sikonyella. Dingaan het hom tevrede verklaar oor die beeste, maar ontevrede oor die loslating van Sikonyella, ’n genadedaad wat vir hom volkome onbegryplik was. Hy het egter die van Sikonyella genome perde en gewere geëis. Hierdie magmiddels van die blankes het hy reeds leer waardeer en met hartstog begeer. Retief het aan die bode sy grys hare getoon en aan Dingaan laat weet dat hy nie met ’n kind te doen het nie; dat die perde en gewere nooit sy eiendom was nie en dat hy daarop geen aanspraak kon hê nie.

 

Dingaan is tevrede en Retief span uit by Hloma Amabutho

Dingaan het hom laat weet dat hy tevrede was en dat Retief en sy mense kon gaan rus. Later kon hulle met hom spreek waaroor hulle wou. Sy kapteins het hy gelas om vir die besoekers beeste te slag. Retief kon met sy perde nie in die stat bly nie en het verkies om, met die goedkeuring van die onderhandelende induna, te kampeer by ’n koppie ongeveer 150 m van die stat, oorkant die spruit en ongeveer 350 m van Hloma Amabutho. Hier het eerwaarde Owen Retief omstreeks die middaguur besoek en met hom gesels oor die tog na Sikonyella en sy ervarings by die geleentheid. Die middag is verder stil deurgebring, maar die aand het Retief en ’n paar van sy mense oorgewandel na die hartbeeshuisie van die sendeling. Op uitnodiging van Owen het hy sy voorneme te kenne gegee om met sy mense die volgende dag (Sondag) hier die godsdiensoefening by te woon.

 

Gebeure wat hierop gevolg het

Die berigte oor wat op die volgende dae gebeur het, is vaag en teenstrydig. Daarom is die relaas wat deur verskillende skrywers gegee word ook so uiteenlopend. Die betroubaarste berigte is vanselfsprekend die van die blankes wat daar aanwesig was, Owen en sy bediende Jane Bird, toe nog Jane Williams, die jong seun William Wood, wat vryelik deur die stat geswerf het, en die blankes aan wie hulle die gebeurtenisse kort daarop verhaal het: die tolk Hulley en die Amerikaanse sendelinge. Gewig kan ook geheg word aan die uitvoerige verklaring van JH Hatting wat gebaseer is op die verhaal van ’n persoonlike bediende van Dingaan wat jare lank in diens van Hatting was.

 

Gebeure op Sondag 4 Februarie 1838

Op grond van hierdie berigte kan die volgende verloop van sake aangeneem word:

Die dag na hul aankoms, Sondag, die 4de Februarie, het Dingaan laat weet dat hy nou gereed was om Retief aan te hoor. Dit het die Boereleier in ’n onaangename posisie geplaas. Liefs sou hy die dag rustig deurbring en die godsdiens bygewoon het, soos sy oorspronklike voorneme was. Daar was egter soveel op die spel dat hy dit nie goed gedink het om die Zoeloedespoot teleur te stel nie. Dat hierdie toegeeflikheid aan die wense van Dingaan ’n psigologiese fout was, soos eerw. Owen aan die hand doen, is moontlik.

Retief, egter, wat met soveel moeite sy doel nagestreef het, reeds soveel gevare getrotseer het, wou van sy kant blykbaar niks doen om deur moontlike spanning die gladde afloop van sy onderneming in gevaar te stel nie. Hy het dus dadelik aanstaltes gemaak om te gaan. Met vyf van sy metgeselle het hy ongewapend vertrek in geselskap van enige indunas, onder wie die “mond” van die koning.

Dingaan het hulle ontvang in sy stroois, waarvan die baie steunpilare sierlik omwind was met krale en die vloer bedek met matjies, wat as sitplekke gedien het. Dingaan het sy besoekers besonder vriendelik ontvang en hulle laat plaas neem op skoon matjies. Aanwesig was ook sy groot raadsliede. Nadat Retief persoonlik verslag gedoen het van sy tog na Sikonyella, het die koning verklaar dat hy nou daarvan oortuig was dat Retief die eerste keer die waarheid gespreek het. Daarna het hy hom met egte swartman-omslagtigheid onder ’n langdurige kruisverhoor geneem.

 

Retief word onder kruisverhoor geneem

Waar kom die Boere vandaan? Waarom het hulle getrek en waarom so ver getrek? Het hulle baie vee? Het hulle oorlog gemaak met Mzilikazi, en is hy dood? Waar is hy nou? Het hulle baie van sy vee geneem? Waarom het hulle nie in die land van Mzilikazi bly woon nie? – en nog baie ander van minder belang. Retief het hom kort en saaklik te woord gestaan.

Hulle kom van ’n ver land en het getrek omdat die land te klein geword het vir almal. Hulle het getrek omdat hulle nie op die koue vaal vlaktes van die Vaalrivierse wêreld wou woon nie. Hulle het Mzilikazi verdryf, maar hy is nie dood nie. Hulle het baie van sy mense doodgeskiet, want hy het dapper geveg, maar hulle wou nie in sy land woon nie, omdat hulle dit nie geruil het nie.

Daarna het Dingaan gesê dat hy die volgende dag met sy groot indunas wou raadpleeg en dan met Retief sou praat oor die afstand van grond.

 

Maandag die 5de Februarie word voortgesit met nog oorlogsdanse

Die res van die dag is deur die Zoeloes deurgebring met oorlogsdanse, wat die volgende Maandag voortgesit is om die besoekers te amuseer. Regimentsdanse met groot getalle eenkleurige osse – vierhonderd rooipoenskoppe, vierhonderd swartwitrug-osse en vierhonderd wit osse – het deel van die program uitgemaak. In die namiddag na afloop van die vertoning het Dingaan al sy regimente weggestuur, behalwe die Witskilde, wat bestaan het uit beproefde ringkoppe, en die Swartskilde, ’n regiment van jong rekrute. Hy het Retief meegedeel dat hy aan die Emigrante die land tussen die Tugela- en die Umzimvubu-rivier, ’n gebied vroeër deur Shaka verwoes, sou afstaan. Die afstandsakte sou die volgende môre geteken word.

 

Retief reël ’n klein demonstrasie van Boere-vegmetodes

Retief het nou nog ’n klein demonstrasie van Boere-vegmetodes gereël om die Zoeloeheerser op sy beurt te trakteer. Hy het sy mense laat opsaal, terwyl Dingaan onder sy wildevyeboom gaan sit het, van waar hy goeie uitsig gehad het. In twee groepe het die manskappe uitgery na ’n aangewese plek. Hier het hulle in formasie uitgedraai in een ry, man aan man langs mekaar, en op bevel drie snelle sarsies afgevuur, regsomkeer gemaak en op ’n vinnige galop na die laer by die koppie teruggery, om hier met ongeduld die môre te gaan afwag wat die voltooiing sou bring van hul taak, die vreedsame verkryging van grondgebied, om daarmee die bose belastering van hul vyande, wat hulle maar steeds beskuldig het van geweldenary en planne van geweld teen die swartmense, met ’n daad te weerlê en terselfdertyd die grondslag te lê van ’n nuwe en vreedsame toekoms.

Bo onder die vyeboom sal vreugde en angs afgewissel het in die hart van Dingaan, want hy was versot soos ’n kind op militêre vertoon en die gedonder van geweervuur, en terselfdertyd beklemd van angs oor die geheimsinnigheid daarvan.

 

Die noodlottige 6de Februarie 1838

Die more van die noodlottige 6de Februarie het skoon en helder aangebreek. Oor Hloma Amabutho het ’n paar hongerige aasvoëls rondgedraai, want al vir dae is geen ellendeling daar neergeknuppel nie. Vanuit Retief se laertjie het ’n paar man opgeruimd gestap na die hutte van Owen. Hulle gaan weldra terug na vrou en kind. Nou gaan soek hulle nog eers ’n bietjie koffie vir die heenreis, want hulle voorraad is uitgeput. Op ’n vraag van Owen antwoord hulle dat Dingaan ’n goeie hart het. Hy het aan hulle grond belowe. Netnou word die traktaat geteken. William Wood, wat daarby staan sê meteens: “Julle sal sien, hulle gaan die Boere doodmaak.” Niemand steur hom aan die snuiter nie.

In die laertjie by die koppie is alles opgeruimde bedrywigheid. Alles word ingerol en reggepak, want netnou gaan dit huis toe. Bo in die stat het Dingaan voor sy hut verskyn en hom neergesit in sy leunstoel. Om hom was geskaar twee regimente, die Witskilde en Swartskilde, aan sy regter- en linkerhand twee groot indunas.

 

Retief word verwittig dat Dingaan die saak wil afhandel

’n Boodskapper verwittig Retief dat hy nou moet kom om die saak af te handel en sommer al sy mense saambring om die koning te groet. Een of twee bediendes word gestuur om die perde aan te keer, die res, blankes en bediendes, stap die stat rustig binne. Ongewapen, want hulle wis dat niemand met wapens voor die koning mag verskyn nie. Hier en daar flikker daar argwaan in die hart op, maar Retief, trouhartig, eerlik, self van blanke opregtheid, sien nie maklik ontrou en lis in ’n ander nie. Dingaan het sy volle vertroue gewin.

William Wood, wat die môre aan Dingaan gemerk het dat hy kwaad in die skild voer, neem die kans waar toe ’n paar Boere naby hom kom om hulle aan te beveel om op hul hoede te wees, want alles was nie pluis nie. “Die koning se hart is reg teenoor ons, daar is g’n rede vir vrees nie,” was hul antwoord.