Die monument op die hoekerf

Die “taal” in hospitaal …
Desember 10, 2020
Simon van der Stel se soektog na die Koperberge
Desember 10, 2020

deur Elizma Smith

Ek het onlangs Graaff-Reinet besoek. Die dorp het ’n indruk op my gemaak. Soveel huise en ander geboue uit ’n lank vergete era wat mooi bewaar gebly het en in stand gehou word in skrille kontras teen die verval op ander dorpe. Dit laat ’n mens moed skep. My erfenis is vir my mooi, het die Psalmdigter gesê.

Die Groot Kerk aan die bopunt van die hoofstraat laat my ’n ruk stilstaan in verwondering. Ja, dit is so, dink ek, die kerk herinner nogal aan die Salisbury Katedraal in Engeland. Op daardie stadium weet ek dit nog nie, maar my verdere verkenningstog deur Graaff-Reinet sal later die hartseer van die plein agter hierdie mooi kerk blootlê.

Ek stap deur die woongebied en daar tussen die huise, op ’n gedeelte van ’n hoekerf staan ’n monument. Hoekom hier op ’n woonerf wonder ek? Monumente is destyds opgerig op openbare ruimtes soos dorpspleine en op koppies waar hulle prominent is en nie tussen woonhuise nie.

’n Paar weke later ontvang ek ’n dokument van een van die Kultuurnetwerklede op Graaff-Reinet met die boodskap “Oortuig jy gaan dit interessant vind”. In ’n plaaslike nuusbrief, Uurglas, verskyn ’n artikel van Johannes Haarhoff oor die einste monument op die hoekerf.

Die monument, bekend as die Anglo Boereoorlog-monument en baie jare gelede die Gideon Scheepers-monument, is ’n huldeblyk aan agt Boeresoldate wat tydens die Anglo-Boereoorlog op die kerkplein in Graaff-Reinet tereggestel is. Dít is op 2 Desember 1908 onthul voor ’n groot skare. Die beeld, bestaande uit ’n staande figuur met ’n geweer en ’n gestorwe soldaat, is in Italië uit marmer gekap. Buiten dat die staande figuur se geweer se skouerband en geweerloop nie meer daar is nie, het die beeld baie mooi detail. Foto’s van generaal Christiaan de Wet en Gideon Scheepers, een van die agt mans wat tereggestel is, is na Italië gestuur vir onderskeidelik die staande figuur en die gestorwe soldaat. Hierdie twee mense is duidelik herkenbaar in die besonderse beeld wat op ’n hoë voetstuk gemonteer is.

Die monumentkomitee wou die monument destyds op die kerkplein oprig waar die teregstellings plaasgevind het, maar die versoek is in 1908 deur die stadsraad geweier omrede ’n politieke klimaat ná die oorlog, wat die plaaslike owerheid huiwerig gemaak het om erkenning te gee aan mense wat as rebelle beskou is. Een van die komiteelede en ook die stigter van Graaff-Reinet se bekende poppefabriek, Jurie H Laubscher, het toe ’n gedeelte van sy erf geskenk vir die oprigting van die monument.

Dit is hoekom daar vandag ’n baie mooi Anglo Boereoorlog-monument op ’n woonerf by die kruising van Somerset- en Donkinstraat in Graaff-Reinet staan.