Die “taal” in hospitaal …

Interessante internasionale nalatenskappe van die Anglo-Boereoorlog
Desember 10, 2020
Die monument op die hoekerf
Desember 10, 2020

deur Alana Bailey

In 2019 het AfriForum ’n peiling onderneem om te probeer bepaal hoe sterk mense oor die taal voel waarin hulle gesondheidsorg kry. AfriForum wou weet of ’n dokter of tandarts se taal byvoorbeeld sou bepaal of mense hom of haar gaan kies wanneer hulle hulp nodig het, asook wat sou gebeur wanneer iemand nie ’n keuse het nie en die gesondheidspraktisyn ’n ander taal as die pasiënt praat.

In Suid-Afrika is nog min navorsing hieroor gedoen. In die buiteland is daar wel studies hieroor. Veral lande met groot immigrantebevolkings, byvoorbeeld Kanada en die VSA, ondersoek die tema toenemend. Van die interessante bevindings is dat verkeerde diagnoses toeneem wanneer die pasiënt en die gesondheidsorgpraktisyn nie dieselfde taal praat nie. Mense verstaan nie altyd die voorgeskrewe behandeling reg nie en dus is die kans dat hulle vinnig en volkome sal genees, slegter as vir diegene wat wel die medici se taal praat. Kommunikasieprobleme veroorsaak verder dat hulle baie spanning ervaar, wat ook negatiewe gevolge inhou.

AfriForum se studie se resultate het met hierdie bevindings ooreengestem. Van die 1 024 deelnemers aan die peiling, verkies 83% om diens in hulle moedertaal te kry en 19,5% het aangedui dat misverstande al weens taalprobleme ontstaan het. Hulle het dieselfde knelpunte genoem as die pasiënte wat aan die Kanadese en Amerikaanse studies deelgeneem het, naamlik dat hulle nie simptome behoorlik kon verduidelik nie, nie die diagnose verstaan het nie en nie die behandelingsprosedure kon begryp nie.

Uit dié groep wat hierdie probleme gehad het, moes 13% lewensgevaarlike gevolge te bowe kom, 13% het maande lank geneem om te herstel en 8% het lewenslange nadelige gevolge oorgehou. Dit is ’n groot persentasie waarvan pasiënte, medici én versekeraars in die mediese veld kennis moet neem. Dit dui verder op die risiko’s wat ontstaan wanneer dokters in die buiteland gewerf word, soos wat Suid-Afrika met Kubaanse dokters doen. Die taal van die praktisyn kan in sommige gevalle letterlik net so belangrik as sy of haar kwalifikasies wees.

Hoewel hierdie bevindings met moderne peilingsmetodes gemaak is, is die boodskap oor behoefte aan mediese sorg in eie taal alles behalwe nuut. Daarvan is die Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH), in Muckleneuk, Pretoria, ’n pragtige voorbeeld.

ZAH is die oudste algemene, nie-winsgewende privaathospitaal in Gauteng. Die hospitaal se voertale is Afrikaans en Engels. Dit word gereeld as een van die twintig beste hospitale in die land aangewys.

Die oorsprong daarvan is ryk aan geskiedenis. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het nie net mense op plase in die Transvaal en Vrystaat swaar onder die vernietigende gevolge van die stryd deurgeloop nie. Ook in dorpe en stede het armoede geheers en was daar groot behoefte aan onder meer goeie mediese sorg.

Die Boeregeneraals, insluitend CF Beyers, JH de la Rey en CR de Wet, het hulle onvermoeid beywer daarvoor om hulle mense se lot te verlig. Hulle het verneem dat Afrikaners wat hospitaalsorg benodig, ongemaklik gevoel het in die Britse militêre atmosfeer wat in die bestaande hospitale geheers het. Mense het groot behoefte gehad aan verpleging in eie taal. Daar is dus met fondsinsamelings vir ’n eie hospitaal begin.

In 1904 het generaal Beyers sy huis in Sunnyside vir die doel geskenk en ’n sesbed-verpleeginrigting is daar gevestig. Dit is aanvanklik “Het Hollands Hospetaaltje” genoem.

Nadat ’n rentevrye lening van £75 bekom is, is die hospitaal in 1912 na die hoek van Berg- en Walkerstraat verskuif. Die naam is na “Het Zuid-Afrikaans Hospitaal en Diakonessenhuis” verander. In Nederland was dit destyds gebruiklik vir diakonesse om siekes en armes te versorg en met “Diakonessenhuis” het die hospitaal die Christelike aard daarvan aangedui.

Die behoefte aan sorg het saam met Pretoria se inwonertal gegroei. In 1936 het die destydse burgemeester van die stad, EF Bourke, 34 erwe in Muckleneuk aan die hospitaalbestuur verkoop. Om dit te kan bekostig, het hulle ’n lening van £3 400 aangaan. Die koste van die gebou wat daar opgerig is, het £20 000 bedra. Steeds is van donasies gebruik gemaak om die ontwikkeling te befonds – dit was werklik ’n volksprojek. Een van die donateurs was byvoorbeeld die digter, JFE Celliers, wat £1 000 bygedra het – ’n reusebedrag in daardie jare. Die nuwe gebou het reeds dieselfde jaar geopen en vandag nog is die hospitaal daar geleë, hoewel dit al dikwels gemoderniseer is. Teenoor die 139 beddens van vandag, het dit in 1936 plek vir 32 pasiënte gehad. Daar was ook ’n operasieteater en X-straalfasiliteit, wat besonder modern vir dié tyd was.

Unieke argitektoniese kenmerke van die hospitaal is die brandglasvensters, mosaïekvloere en gewels. Pasiënte en besoekers kan rustig in die tuin of op die lang stoepe kuier. Historiese foto’s, borsbeelde en gedenkplate bring hulde aan eertydse personeel en historiese figure soos genl. Beyers vir hulle aandeel aan die oprigting van die hospitaal.

Deesdae vind Engels ’n groter vastrapplek by ZAH. In 2014 het ek ook daaroor geskryf en was die webwerf nog in Afrikaans én Engels beskikbaar. Nou is dit skynbaar net Engels en word die interessante oorsprong van die hospitaal in slegs een sin opgesom, wat jammer is. Dit is ook die geval by vele ander hospitale wat ’n ewe ryk geskiedenis het.

Erkenning aan die historiese wortels van instellings maak daarvan iets meer as net gesondheidsorgfasiliteite. Afrikaners wat byvoorbeeld van ZAH se oorsprong weet, sal nie net opgeneem word nie, maar ook kultureel tuiskom.

Ewe belangrik is die taal in die hospitaal ‒ ’n mens kan net hoop dat meer gesondheidsorgfasiliteite kennis sal neem van die voordele daarvan om pasiënte sover moontlik in hulle eie taal te versorg.