Interessante internasionale nalatenskappe van die Anglo-Boereoorlog

Audrey Blignault (1916-2008)
Desember 8, 2020
Die “taal” in hospitaal …
Desember 10, 2020

deur Alana Bailey

 

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het wêreldwyd mense se verbeelding aangegryp. In sommige gevalle het buitelanders selfs hulle lot aan die kant van die Transvalers en Vrystaters teen die magtige Britse Imperiale Ryk kom ingooi. Vandag sien ons nog herinneringe aan hulle, byvoorbeeld in straatname soos De Villebois Mareuil in Pretoria, vernoem na die Franse graaf wat op 6 April 1900 by Boshof in die Vrystaat aan Boerekant gesneuwel het.

In Suid-Afrikaanse museums is ook verskeie voorbeelde van buitelandse hulde aan die Boere. Die bratina wat tans in Krugerhuis in Pretoria te sien is, is een daarvan. ’n Bratina is ’n seremoniële broederskapbeker of -kom waarin drank soos wyn tydens spesiale geleenthede bedien word. In Rusland het elke militêre regiment destyds ’n eie bratina gehad. Die kom in Krugerhuis is sowat twee meter hoog. Die basis is met silwer, emalje, smaragde en robyne versier en die bokant sluit onder meer ’n silwer beeldhouwerk van ’n perderuiter in. Toe die nuus van generaal Piet Cronjé se oorgawe aan die Britte in 1900 bekend raak, is ’n massaveldtog in Rusland gereël om skenkings in te samel sodat ’n geskenk uit meelewing aan Cronjé gestuur kon word. Die bratina is toe met dié doel gemaak en met die handtekeninge en welwillendheidsboodskappe van sewentigduisend Russe na Afrika gestuur. Na vele omswerwinge het dit in 1921 uiteindelik in die Transvaal aangekom.

In Rusland, maar ook elders, byvoorbeeld in België en Nederland, is buurte, strate en geboue na dorpe, slagvelde en Boerehelde vernoem. Russiese Mennoniete het selfs twee van hulle dorpe na Pretoria vernoem ‒ een naby die Oeralberge, die ander aan die Terekrivier.

In Nederland is sogenaamde Transvaal- of Afrikanerbuurte of -wyke in verskeie Nederlandse stede gevestig. Sodanige buurte word in Amsterdam, Arnhem, Baarn, Den Haag, Dordrecht, Haarlem, Leeuwarden, Leiden, Vaassen, Vlaardingen, Zaandam, Nijmegen, Hengelo en Rotterdam aangetref. Meestal was dit goedkoop buurte met eenvoudige wonings vir die werkersklas. Meer onlangs is sommige strate na anti-apartheidstryders hernoem. In Amsterdam het Pretoriusplein byvoorbeeld Steve Bikoplein geword. Die meeste van die oorspronklike name het egter behoue gebly.

Rotterdam was die eerste stad met ’n Afrikaner- oftewel Transvaalbuurt. Daar is ’n besondere ontdekking in die laat 1960’s in ’n ou teatergebou gemaak. Onder muurpapier is ’n versameling historiese tablo’s en afbeeldings van Boerehelde gevind. Dit is op panele bestaande uit ’n totaal van 2000 teëls geskilder. Die teater is in 1899 in Rotterdam gebou en weens die simpatie met die Boere, Transvalia-teater genoem. Die eerste eienaar daarvan het opdrag aan die kunstenaar Cornelius de Bruin gegee om die teëls te skilder sodat die teater se voorportaal daarmee versier kon word. Later is die teater gemoderniseer en die panele met muurpapier bedek. Na die ontdekking daarvan is dit versigtig van die mure verwyder, gerestoureer en na Suid-Afrika gestuur. Tans is dit in Bloemfontein in die Anglo-Boereoorlogmuseum te sien.

Benewens hierdie teater en straatname, is borsbeelde onder meer van vyf Boereleiers op die fasade van ’n gebou op die hoek van Bloemfontein- en Bothastraat opgerig. Onder die beelde is “Honor Cui Honor” (Vereer wie eer toekom) in goue letters geskryf. In 2013 is die gebou gesloop. Die beelde het uit die openbare oog verdwyn. In Januarie 2020 het die party, Leefbaar Rotterdam, ’n soektog daarna op tou gesit. Hulle het ook verwys na ander, soortgelyke beelde in die buurt wat nie meer daar te vinde is nie. Volgens Leefbaar Rotterdam is die stille verdwyning van hierdie beelde ’n teken van die agteruitgang van mense se bewustheid van kultuur en tradisies. Hulle het aan die publiek verduidelik dat die buurt vernoem is na ’n volk wat aan Nederlanders verwant is en wie se kultuurgeskiedenis gekoester, bewaar en beskerm moet word. Verder meen die party dat die bewaring van hierdie erfenis ter versterking van die bande tussen Afrikaners en Nederlanders moet dien, “veral noudat Afrikaners weens geweld en rasgebaseerde wetgewing ’n onsekere toekoms in die gesig staar”.

In reaksie op berigte oor Leefbaar Rotterdam se soektog, skryf die kunskurator Siebe Thissen in Februarie vanjaar dat daar in totaal veertien beelde in die buurt was. Ses word sedert 2000 in Rotterdam geberg, drie is in 2015 teruggeplaas in geboue in Bloemfonteinstraat en Brede Hilledyk, twee is vernietig omdat hulle in so ’n swak toestand was dat restourasie onmoontlik was, terwyl die res steeds bo die ingang van Café Arena in Martinus [sic] Steynstraat is. Volgens Thissen het die beelde nie juis waarde as kunswerke nie, maar hulle belang is in hulle historiese betekenis geleë. Hy stel voor dat hulle as groep saam in die buurt uitgestal word. Dit sal interessant wees om te sien of dit inderdaad sal gebeur.

Leeuwarden se “Transvaalwijk” is waarskynlik een van die mooistes in Nederland. Dit word aan die een kant deur die stadsgrag begrens, wat beteken dat pragtige openbare ontspanningsareas met reusebome, grasperke en blombeddings daaromheen lê. Volgens die sensus van 2012 was daar 2 645 mense woonagtig. Die buurt is besig om te moderniseer en baie van die huise word tans gerestoureer. Dit is aangrypend om daar in Steijn- [sic], De Wet-, Cronjé-, Natal- en Transvaalstraat te loop en te beleef hoe ons verlede op hierdie wyse nog in die vreemde herdenk word, terwyl dit in Suid-Afrika so maklik verag of vergeet word.

121 jaar na die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is daar nog steeds debatte oor die wyse waarop en redes waarom dit nasionaal en internasionaal herdenk moet word. Pres. MT Steyn het op die vooraand van die aanvang van die oorlog verklaar: “Ek verloor liewer die onafhanklikheid van die Vrystaat met eer, as om dit deur oneer of ontrou te behou.” Blyke van waardering soos bo beskryf bewys dat die verlies van die Boererepublieke met eer en trou geskied het. Die taak is nou in ons en komende geslagte se hande om hierdie nalatenskap met eer en trou te bewaar.

Bronne:

https://www.wereldwyd.co.za/en/transvaalwijk-leeuwarden/