Jacques Loots (1925-1991)

Die Groot Trek: Hoofstuk 6 Deel 3
November 26, 2020
Bosman di Ravelli (1882-1967)
Desember 2, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Wie onthou nog die beswaarde Genis van Koöperasiestories?

Jacques Loots het met hierdie rol, as een van die drie hoofkarakters in dié gewilde televisiereeks van PG du Plessis, ’n legende geword. Willem Jacobus Loots is op 24 Oktober 1925 gebore en het op Koster in die hedendaagse Noordwes grootgeword. Hy het sy BEd-honneursgraad aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf en daarna lank as joernalis by Die Transvaler onder die redakteurskap van die latere eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, gewerk. Hy was van 1967 tot 1969 as lektor aan die Potchefstroomse Universiteit verbonde. Hy was ook verantwoordelik vir die regie van verskeie radiodramas by die Afrikaanse Radiodiens van die SAUK.

Hy het reeds op sewejarige ouderdom sy debuut as akteur gemaak toe ’n toneelgeselskap op sy tuisdorp Koster op soek was na ’n seuntjie om ’n rol te vertolk. Die toneelgogga het hom gebyt, en van toe af was hy byna die heeltyd op die verhoog of voor die kameras. Onder die verhoogstukke waarin hy te sien was, was Ampie van Jochem van Bruggen, Germanicus van NP van Wyk Louw, Don Juan onder die Boere, Charly se tante en Putsonderwater, almal deur Bartho Smit en Send for Dolly, die Engelse vertaling van ’n Seder val in Waterkloof deur PG du Plessis.

Die eerste rolprent waarin hy te sien was, was Rip van Wyk, waarvan Jamie Uys die regisseur en draaiboekskrywer was. Later was hy te sien in Die kandidaat, waarvan Jans Rautenbach die regisseur was en in 1968 vrygestel is. Dit was ook die laaste rolprent waarin Gert van den Bergh gespeel het voordat hy oorlede is. In 1970 het hy saam met Gé Korsten en Mitsi Stander in Lied in my hart verskyn; hierin het hy die rol vertolk van ’n ouderling wat beswaar gemaak het teen ’n Rooms-Katolieke lied wat Gé Korsten se karakter, ’n predikant in die NG kerk, op ’n troue gesing het. Net voor die tyd was hy te sien in Jannie tot siens, nóg ’n Jans Rautenbach-rolprent. Onder die ander rolprente waarin hy te sien was, was Kooitjie Emmer, Dirkie, Boetie gaan border toe, Elsa se geheim, Tawwe tienies en Liewe hemel, Genis, gebaseer op Koöperasiestories. Nadat hy sy rol in Koöperasiestories vertolk het, was hy te sien as Hendrik se pa in Willie Esterhuizen se gewilde komediereeks Orkney snork nie. Hy is in 1990/91 vir ’n Vita-toekenning benoem vir sy rol in die rolprent Nag van die 19de.

Hy het in die 1940’s erotiese gedigte onder die skuilnaam Ella Meyer geskryf; dit is beskou as besonder vernuwend vir hul tyd. JC Kannemeyer het dit later beskryf as gedigte met ’n benouende siening van die stad , die naakte realisme van ’n seksueel vrysinnige lewe en ’n uitbeelding wat soms aan die surrealistiese grens, met woordgebruik wat vir die destydse Afrikaner skokkend sou wees. Toe hy die oorspronklike manuskrip vir sy digbundel Eenhoring aan ’n uitgewer voorgelê het, het ’n keurder dit as loutere pornografie beskryf. Die bundel is twintig jaar later gepubliseer, nadat dit erg geredigeer is om by die norme van die tyd aan te pas. As vertaler was hy betrokke by die vertaling van Vernon Sylviane se komedie As long as they are happy, wat in Afrikaans as Doller as kop-af bekendgestaan het. Dit het ’n suksesvolle verhoogstuk geword wat verskeie opvoerings landwyd beleef het. Toe hy as lektor gewerk het, het hy die bundels Radiodramas en Ses kortverhale vir die radio saamgestel.

In sy later jare was hy die eienaar en bestuurder van Die boekwinkel, ’n koffie- en boekwinkel op Bethulie in die Vrystaat. Hy was getroud met Wilma en ’n seun en twee dogters is uit die huwelik gebore. Hy is op 3 Oktober 1991 in die ouderdom van 65 in sy huis op Bethulie oorlede. Hy het lank met emfiseem gesukkel, maar ’n embolus in sy longe het sy dood veroorsaak.