Die Groot Trek: Hoofstuk 6 Deel 2
November 17, 2020
Jacques Loots (1925-1991)
November 26, 2020

Sarel Feldtmann

 

Die Trek na Natal: Op pad na Port Natal

  

Die Piet Uys Trek wou nie deel wees van die “Verenigde Trek” nie

Op 24 Augustus 1837 het Retief ’n brief, geteken deur Piet Uys en 169 ander, ontvang; “dit was vir ons heeltemal vreemd” skryf Erasmus Smit. Dit was niks ander as ’n ultimatum nie. Uys het laat weet dat hy en sy gevolg voortaan niks met die “Verenigde Laer” te doen sou hê nie. Hulle sou wel na Port Natal gaan, maar hulle sou daar hul “nedersetting inrig op dieselfde grondslae van vryheid soos die wat aangeneem is deur die Verenigde State van Amerika”. Retief het hierop gepleit en vermaan, maar sonder gevolg. Na nog ’n ontstuimige volksvergadering wat ook op niks uitgeloop het, het iemand vir Piet Uys gevra: “Waar gaan die trek nou heen?”. Piet Uys het geantwoord: “Elkeen gaan sy eie rigting, die een voor en die ander in sy eie rigting, niemand sal ’n ander volg nie.”

Retief wou nie langer vir Maritz wag nie

Maritz is op 18 Julie na Suikerbosrand (Transvaal) en het later met Potgieter en Uys se kommando teen die Matabeles opgetrek. Maritz het afgespreek om Retief op 1 Oktober by die Drakensberg te ontmoet, maar het eers teen middel Desember in Natal aangekom.

Retief het op Maritz gewag om by hom aan te sluit, maar op 5 Oktober besluit Retief om met veertien man en vier waens te ry om onderhoude met die Engelse setlaars by Port Natal te doen en dan daarna die Zoeloe-koning Dingaan te besoek.

Die volgende dag het Retief teen die berg afgery met die sogenaamde Steppepas (Retiefpas) wat deur wild uitgetrap was met hul jaarlikse migrasie na hul winterweidingsgebied. Hy het sy stiefseun, Abraham Greyling, agtergelaat om die negentien waens wat toe nog by sy klein laertjie by Kerkenberg gebly het, na Port Natal te begelei.

Piet Retief se laer span uit onder die berg by Doornkop in Natal

Op 14 November 1837 het Abraham Greyling met hul waens aan die Natalse kant van die Drakensberg begin aftrek en teen sononder het die eerste 18 waens aan die voet van die berg aangekom. Vanaf begin Januarie tot begin April 1838 het Piet Retief se geselskap by Doornkop uitgespan.

Retief kies koers na Port Natal

Toe Retief op 7 Oktober op die “nek van die Drakensberg” kom, het hy vir die eerste keer die land gesien waaroor daar soveel twis was. “Soos ’n reusagtige landkaart lê Natal daar voor hom uitgesprei: bosryke klowe en laagtes, vrugbare vlaktes, trotse berge. Hier en daar blink vreemde rivierwaters in die sonlig en kronkel soos ’n silwer lint deur die heuwelsee wat van die bergvoet af wegrol in bloue afstand tot waar hemel en aarde bymekaar kom; en daar anderkant moet ook die see wees – die see wat vryheid sou aanbring van die verdrukker.” ’n Begeerlike mooie land moet dit gelyk het! Natalia die Republiek! Hier sou die vryheid gebore word.

Wat in Retief se gemoed omgegaan het toe hy al hierdie prag aanskou, weet ons ongelukkig nie. Retief het tog met ’n swart man ’n brief teruggestuur en gesê dat hulle “van de hoogte dezes bergs de schoonste landstreken gesien hebben die Zijn Ed ooit in Afrika gesien heeft.”

Intussen het Retief koers gekies met sy waens na Durban. Dit is asof hy geweet het dat daar in ’n baie kort tyd baie gedoen moes word. Daar is ook ’n vermoede dat Retief angstig was om sy eie mense se aanspraak op die beste grond in Natal te waarborg voordat Piet Uys met sy onstuimige volgelinge daar opgedaag het.

 

300 Beeste van Dingaan word gesteel

Vroeg in Oktober was Retief baie bekommerd om so gou as moontlik Dingaan te ontmoet, sy trekkers is deur ’n onverwagte gebeurtenis in gevaar gestel; ’n groep ruiters met gewere en in Europese klere geklee, het daardie week ’n Zoeloe-veepos onder die berg aangeval en 300 beeste van Dingaan gesteel.

Terwyl die stropers die vee aangejaag het, het hulle aan ’n paar van Dingaan se mense wat op ’n afstand was, geskree “dat die groep mense wat hulle aangeval het, Boere is en ’n ander groep is al klaar op pad na Durban. Dingaan kan verwag dat die Zoeloes deur die trekkers behandel sal word net soos Silkaats behandel was.”

 

Die Engelse by Port Natal

Die Engelse handelaars en jagters wat in Port Natal gewoon het, was net soos die trekkers in twee faksies verdeel. Hulle was almal op “slegte voet” met Dingaan en kon net in die omgewing naby hul nedersetting bly. Die een party was angstig om Britse gesag te aanvaar. Die ander faksie onder leiding van Alexander Biggar en John Cane het uitsien na die sekuriteit van ’n Afrikaner-besetting van Natal.

Retief se waens was die eerste om die rit van die berge na die see af te lê. Daar was ongeveer dertig Engelse by Port Natal, en hulle het Retief op ’n vriendelike wyse ontvang en hom ’n adres aangebied. In sy antwoord het hy onder andere gesê: “Ek twyfel dan ook nie dat die Almagtige Bestuurder van alle dinge dit sal bewerk dat ons met mekaar sal verenig tot ons gemeenskaplike welsyn.” Kragtige woorde hierdie as ’n mens dink aan wat die Voortrekkers in die Kolonie te verduur gehad het. Retief was verlig om te ontdek dat Port Natal nie deur die Britse regering geannekseer is soos hy gevrees het nie, en oor die algemeen was die verwelkoming wat hy van die setlaars ontvang het bevredigend genoeg.

Retief skryf ’n brief aan Sir Stockenström

Die reis van die berg af na die see was besonder moeilik. In ’n brief aan Stockenström (gedateer 23 Oktober 1837), geskrywe in Port Natal, sê hy: “Gedurende my hele reis van ses maande het ek dit nie so swaar gehad as met hierdie laaste rit van negentig uur te perd nie. Van Drakensberg af tot by Port Natal moes ek vyf byna loodregte banke af: die eerste het ons ses ure met die waens geneem, die ander minder. Op sommige plekke moes ons die perde baie vermoei met heen en weer ry om ’n pad te soek en ook met die deurgaan van groot riviere en vleie wat soms vir groot distansies onpasabel was; en aangesien ons gedurende al die tyd geen lewende siel ontmoet het nie, moes ons maar opsukkel so goed ons kon.”