De Zuid-Afrikaan
November 12, 2020
Die Groot Trek: Hoofstuk 6 Deel 3
November 26, 2020

Die Trek na Natal – Retiefpas en ander passe oor die Drakensberg

 

Ander trekkers volg Retief in die rigting van Natal

Groot hoeveelhede Trekkers het Retief daarna stadigaan gevolg in die rigting van die Drakensberg. Maar selfs Retief se eie gevolg het al kleiner geword hoe nader hulle aan die Drakensberg gekom het. Die mense het ’n afwagtende houding ingeneem, en agtertoe het die waens streep-streep bly staan. Van die 1000 waens wat in April by Vetrivier was, het slegs 54 aan die begin van Oktober die berge bereik.

Retief het sy laertjie by Kerkenberg gelaat en op 5 Oktober met veertien man en vier waens vooruitgegaan om ondersoek in Natal in te stel en om te bewys dat sy beleid die regte een was.

 

Die trek na die berg vorder baie stadig

Die vordering van die Trekkers was stadig, omdat daar groot hoeveelhede vee by betrokke was. Die trek na die platorand het in die winter plaasgevind, en soos gewoonlik wat gebeur gedurende die wintermaande, was daar groot veldbrande wat die gras afgebrand het. So daar was nie genoeg weiding beskikbaar nie, en die trekkers moes ook nog meeding met groot troppe wild wat op hul jaarlikse migrasietogte was. Die trekkers moes dus wag vir die eerste somerreëns sodat die veld kon herstel, voordat hulle verder kon trek.

Dit het die jaar vroeg gereën en die veld was pragtig. Erasmus Smit vertel in sy dagboek van “de zeer fraaie bloemen uit dit bloemrijkoord, van vele door onze ogen nooit geziene bloemen, zodat ik proponeerde de plaats Bloemendal of Roderozendal te noemen, overwegende de uitmuntende grote rozenrode bloemen die hier in grote menigde gevonden worden.” Die blomme deur Smit beskryf is vandag heeltemal onbekend. Dit is seker deur grasbrande totaal uitgeroei.

 

Die laer verskuif vanaf Bloemendal na die hang van Kerkenberg

“Bloemendal” het met die swaar reëns te nat geword, en op 10 Oktober en weer op 21 Oktober is die laer ’n paar kilometer langs die Oudebergspruit op verskuif na ’n plek teen die hang van Kerkenberg, aan ’n “fonteinwater in een aangename landowe.” “Deze uitspanplaats,” skryf Smit, “is genaamd Kerkenberg. Hier zagen we op een bergheuvel weer een wonder der natuur, namelik een of twee lossen bergen op of aan die hoge berg waarvan de ene als een donkere spelonk was. Drie aangrenzenden ruimten, die als wij hier langer gebleven waren, met weinig moeite tot een kerk of plaats van godsdienstige bijeenkomst konden gemaakt zijn. Ziedaar de reden waarom wij deze legerplaats Kerkenberg genoemd hebben.”

 

Verskeie geselskappe het gaan jag

Verskeie geselskappe het uitgegaan om te jag en baie wildsvleis na die laer teruggebring. Een geselskap het bv. vyf elande geskiet, terwyl ’n ander meer as twintig seekoeie geskiet het (seker in Oudebergspruit en Wilgerivier). Leeus was egter baie lastig, en dikwels is beeste en perde deur hulle gevang. Een Sondagmôre was daar byna geen mense in die kerk nie – almal was uit om ’n leeu te skiet wat die vorige nag ’n perd gevang het!

 

’n Donderstorm bars los oor die laer by Kerkenberg

Op 26 Oktober het ’n vreeslike donderstorm losgebars. Smit skryf daarvan: “Heden hadden we een zeer vreeslik omweer. God bewaarde ons en is onze zielen genadig geweest om di in het leven te behouden. Ik heb nooit in mijn leven op aarde zulke zware en aanhoudende en hard klaterende donderslagen gehoord. Op mijn tweejarige zeereis in 1802 en 1803 heb ik aan de westkust wel swaar donder gehoord, maar niet zo vreeslik geducht en hard aanhoudend, als heden een uur van Drakensberg zijnde in Zuidoost Afrika. Eintlik viel er naar Gods welbehagen, ‘n zware stortregen op onze tenten, gevolg door hagelbuien en een meer aangenaam rollende donder. De slagregen sloegen door onze wagens en veldtenten, doch in de nanacht bedaarde het weder.”

 

Smit besoek die Liebenbergs en van der Merwes

Dit moes ’n “uitgesoekte jaar” in die Oos-Vrystaat gewees het, en hoe vol ontberings die laerlewe ook al was, die Voortrekkers het ongetwyfeld die rustyd geniet. Smit het op 30 Oktober gaan kuier by die Liebenbergs en Van der Merwes, wat twee uur (per ossewa) van Kerkenberg af was. Hy sê dat hulle gery het deur “vrughtbaar gras en bloemrijke streken totdat we in ’n vallei van riet en zoetgrasvelden bij onze vrienden aankwamen. We bezoghten al onze vrienden die hier als herders in ’n getal van 18 wagens gelegerd zijn met hunne vette kudden die zij bij zich hebben.”

 

Die Trekkers hou “vakansie” in ’n pragtige omgewing

Daar was niks wat die Voortrekkers tydens hul verblyf by Kerkenberg kon verontrus nie. Voor die Mfecane was hierlangs baie Basotho’s, maar nadat die hordes uit Natal mens en vee uitgeroei het (1822–1833), was die streek onbewoon en verlate. Die veld was geil en groen, die vee vet, wild volop en die klimaat baie aangenaam. Sondae is gereeld kerk gehou. Die kinders het by Erasmus Smit skoolgegaan en hy het ook ’n katkisasieklas gehad. Weekliks is ’n biduur gehou, “om zegen en voorspoed en een veilige leiding en Goddelike bewaring voor onze waardige Goewerneur (Retief) op zijn ondernemingsreis naar het land van Dingaan.” Dit was vir die Trekkers ’n heerlike “vakansie” in ’n pragtige omgewing.

 

Van die mans het wilde soetwortels geëet wat hulle siek gemaak het

Op 24 Oktober het ’n aantal mans, onder leiding van Abraham Greyling, begin met die aanlê van ’n pad oor die “nek van Drakensberg” d.w.s. aan die oostelike hang van die berg. Op die tweede dag het dit nie te voorspoedig met die padmakers gegaan nie. “Twaalf van hen,” sê Erasmus Smit “hadden bijna een groot levensgevaar. Zijn aten allen van een zoete wortel, die hun bij de verwerking des wagenpads in de hand kwam. Deze wortel was zoet in hun mond maar brandende en bitter in de ingewanden. Doch Gode zij dank! Zij kwamen allen behouden door.”

Piet Retief stuur verblydende nuus

Eindelik, op 11 Oktober, het Coenraad en Piet Meyer met briewe van Piet Retief en B Liebenberg uit Natal in die laer aangekom met die verblydende nuus dat alles in orde was en dat die waens die berge kon afgaan.

Die volgende dag het Debora Retief haar vader se naam en die datum met groen verf binne op die wand van die “wonder der natuur,” aangebring waarvan Smit melding maak. Smit skryf dat sy vrou en C Liebenberg die plek die volgende dag besoek en die naam daar gesien het. Smit skryf daarvan: “daar deze rots verwulfsgewijze naar binnen overhelt, zal het (die naam) niet licht uitregenen of uithagelen.” Hy het gelyk. Die naam is vandag nog duidelik te sien.

Ongelukkig is rondom dit baie name van offisiere en burgers van die Bethlemse kommando gedurende die Engelse Oorlog geskrywe, maar gelukkig het “P. Retief, Den 12 Novr. 1837 “, ongeskonde gebly. Dat Debora, en niemand anders nie, werklik die naam op die rots geskrywe het, blyk baie duidelik as ’n mens dit vergelyk met voorbeelde van haar handskrif wat bewaar gebly het.

Die trek verlaat Kerkenberg en span drie ure verder uit vir die dag

Die “vakansie” van vyf weke was verby, en op Maandag, 13 November, is die trek verder. Om tienuur in die oggend het hulle Kerkenberg verlaat en het drie ure verder uitgespan in ’n suidoostelike rigting op die rand van die Drakensberg. Vanaf Kerkenberg tot op hierdie plek waar die waens die grens van Natal bereik het, is die terrein betreklik gelyk. Daar is geen steiltes waar die waens moes uitsukkel nie – dit is moontlik om met ’n motor te ry (die laaste ent sommer deur die veld) tot waar die waens die berg af is.

Die eerste waens trek die berg af met die Retiefpas

Dinsdagmôre, 14 November, het die eerste waens afgegaan. Smit skryf dat hulle die oggend die osse voor die 23 waens ingespan het. Na groot gesukkel en 20 remhoogtes (party met twee kettings, een aan die voorwiel en een aan die agterwiel om die wa te rem) het hulle met 18 waens teen sononder aan die voet van die Drakensberg aangekom. Net een ossewa, dié van W Prinsloo het by die eerste hoogte waar hulle afgegaan het, omgeslaan, en ’n netjiese stel stoele het in die slag gebly, maar gelukkig geen skade aan mens of dier nie.

Woensdag het ses waens afgegaan, Donderdag dertien, Vrydag weer dertien en Saterdag sestien. Altesaam is daar ses en sestig waens van hierdie groep Trekkers by hierdie pas af. Twee waens het omgeslaan en ’n ander een se disselboom het gebreek – dis al ongelukke wat daar voorgekom het. Die vyf “wegopsoekers” het hul opdrag goed uitgevoer en Abraham Greyling en sy padmakers, hoewel heeltemal ongeskoold in hierdie opsig, was praktiese mense wat geweet het hoe om ’n ossewa te bestuur.

Dit is ’n baie styl afdraand. Daar is geen kranse nie, alleen terrasse (Smit noem dit remhoogtes) wat nie baie hoog is nie. Hoe lank hierdie pas in gebruik gebly het, is nie bekend nie. Op die kaart van die Oostelike Vrystaat deur die Franse sendeling Daumas in 1847 geteken, word dit “Chenmin du pas de Pieter Retief” genoem. Gedurende die eerste paar maande van die Anglo-Boereoorlog het ’n gedeelte van die Harrysmith kommando die ou Voortrekkerpas bewaak. Die skanse wat toe gebou was, is vandag nog te sien. Piet Uys se trek is ook by hierdie pas af.

Ander passe oor die Drakensberg

Ander Voortrekkers het gebruik gemaak van Bezuidenhoutspas en Tintwapas. Maritz en Potgieter is by De Beerspas af – destyds bekend as Potgieter se trekpad. Hulle het uit die noordweste gekom na afloop van die tweede strafekspedisie teen Silkaats. De Klerk noem nog ’n pas, nl. Kwagganek, so genoem omdat in die winter duisende kwaggas daaroor getrek het vanaf die Vrystaat na die warmer Natalse veld. Daar is ’n Kwagganek (teenoor Majuba) ongeveer 100 km noord van De Beerspas, maar dit is so ver weg van die koers van die Voortrekkers na Natal dat dit nie die pas kan wees wat De Klerk bedoel het nie. Miskien is dit die pas wat vandag die Tintwa genoem word – aan die voet daarvan is ’n plaas met die naam Kwaggahoek. Voor die uitroeiing van die wild in die Vrystaat in die jare 1870-71 het groot troppe wildebeeste, kwaggas, ensovoorts in die winter na Natal getrek, en op verskillende plekke was daar voetpaaie die berge af deur die wild oopgetrap – voetpaaie wat seker tot hulp was vir Retief se vyf “wegsoekers” toe hulle ’n pas vir die waens moes soek.

Op bogenoemde kaart van Daumas word, behalwe Piet Retiefpas, ook Bezuidenhoutpas en De Beerspas aangetoon. Van al hierdie passe is laasgenoemde die minste steil, en mettertyd het die ander verval en is dit alleen gebruik – ook deur die Voortrekkers – toe hulle in 1843 en 1848 Natal verlaat het.

 

Van Reenenspas is deur mnr. Frans van Reenen ontdek. Hy was ’n Kapenaar wat na die Vrystaat getrek het en in 1852 op die plaas Sandspruit aan die voet van die pas gaan woon het. Hy is in 1914 op die ouderdom van 89 oorlede. Dit was op sy aanbeveling dat die pas in 1856 deur die Natalse Regering gemaak is. Die pad is in 1926/27 deur die Unieregering verlê, soos dit nou is. Dit is ’n ou pad wat vandag deur baie aangesien word as die pad wat deur die Voortrekkers gebruik is. Oliviershoek het veel later tot stand gekom, nl. in 1871.