Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 8
Oktober 22, 2020
Coert Steynberg (1905-1982)
November 10, 2020

Die Trek na Natal – Kerkenberg

 

Inleiding

Na die slag van Kapain, waarin die Matebele oor die Limpopo verdryf is, het Potgieter ’n proklamasie uitgevaardig waarin hy as skadeloosstelling vir die swaar verliese wat die Voortrekkers in lewe en goedere gely het, besit neem van al die grondgebied waaroor Silkaats tot op daardie stadium aanspraak gemaak het en wat hy ten tye van die aanspraak ontruim het. Die proklamasie is uitgevaardig kragtens die regte van ’n oorwinnaar in ’n regverdige saak.

As in gedagte gehou word dat Potgieter ook die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier van die nieblanke opperhoof, Makwana, gekoop het, kan besef word dat die hele Wes-Transvaal, Sentraal-Transvaal en Noord-Vrystaat vir die blanke beskawing verseker was. Onder leiding van Hendrik Potgieter is dus twee-derdes van die latere Voortrekkerrepubliek bewoonbaar gemaak. Slegs Natal moes nou nog verkry word as woonplek vir die Voortrekkers. Die rol wat Hendrik Potgieter as Voortrekkerpionier vervul het, kan moeilik oorskat word.

Wie was in Natal voor die Voortrekkers?

Oos van die Drakensberg in Natal het Dingane oor die magtige Zulu regeer. Ten suide van Zululand was die gebied tussen die Tugela en die Mzimvubu feitlik ontvolk.

Behalwe die inboorlingstamme, was daar ook blankes wat reeds voor die Groot Trek die land binnegetrek het. Na die trekboere wat in die suide van die Transoranje gewoon het, is reeds verwys. Dan was daar ook verskeie reisigers en handelaars wat die binneland besoek het. By Port Natal was vanaf 1824 ’n aantal Engelse handelaars gevestig nadat Shaka ’n stuk grond rondom die hawe aan hulle verkoop het.

Die bekendste onder hulle was die leier FG Farewell, asook JS King, Henry Fynn, John Cane, Henry Ogle, Alexander Biggar, WH Davis en Thomas Halstead. Op 17 Augustus 1824 het Farewell die Britse vlag by Port Natal gehys en die gebied wat hy van Shaka verkry het as eiendom van die Britse kroon verklaar. Die Britse regering het hierdie transaksie nooit erken nie.

In Junie 1835 het die Britse handelaars ’n nuwe dorpsuitleg beplan en dit Durban genoem ter ere van die nuwe Goewerneur aan die kaap (D’Urban). Daarna het hulle ’n petisie tot die regering in Brittanje gerig waarin hulle versoek het dat Durban en die omliggende gebied, wat deur hulle Victoria genoem is, tot Britse grondgebied verklaar moes word. Die Kaapse Goewerneur, D’Urban, het hierdie versoek gesteun, maar dit is deur die Britse Minister van Kolonies van die hand gewys.

Toe die Cape of Good Hope Punishment Act – waarvolgens alle misdade deur Britse onderdane ten suide van die 25ste breedtegraad begaan deur die Kaapse howe strafbaar sou wees – in 1836 aanvaar is, het Lord Glenelg ingestem dat kaptein Allen Gardiner as vrederegter in Port Natal aangestel word. Die ander Britse setlaars in Natal het hierdie aanstelling nie aanvaar nie en Gardiner het nooit die gesag wat hy ontvang het, uitgeoefen nie.

 

 

 

Sendelinge

Op die vooraand van die Groot Trek was daar ook verskeie sendelinge van verskeie sendinggenootskappe wat onder die inboorlinge gewerk het van wie slegs enkeles hier genoem word. So byvoorbeeld het die Metodiste ’n sendingstasie by Thaba Nchu gehad waar eerwaarde James Archbell onder die Barolong van Moroka gearbei het. In 1833 het Eugene Casalis en Arbousset van die Paryse Sendinggenootskap ’n sendingstasie by Morija opgerig en sendingwerk onder die Basotho van Moshsweswe begin. Drie Amerikaanse sendelinge is in 1836 deur Mzilikazi toegelaat om by Mosega met sendingwerk te begin. Hulle was dr. Wilson – sy vrou was die eerste blanke vrou wat in die Transvaal gesterf het – eerwaarde Venable en eerwaarde Daniel Lindley. Laasgenoemde het later ’n predikant van die Voortrekkers in Natal geword. Eerwaarde Francis Owen het op sy beurt weer tevergeefs probeer om sendingwerk onder die Zulu by Dingane se stad te doen.

 

 

Potgieter bly in die Transvaal, Retief besluit op Natal

Min van die Voortrekkers wou in die Vrystaat bly. Dit was te na aan die Kolonie en die Engelse Regering. Die uitgestrekte vlaktes het daar buitendien kaal en onherbergsaam uitgesien en die koue van die winternagte het hulle laat verlang na ’n ander oord.

Potgieter wou na Transvaal gaan. Die Matabele-gevaar het nie meer bestaan nie. Afgesien van enige Bapedi langs die Olifantsrivier en Bawenda by Soutpansberg, was Transvaal leeg en onbewoon. Die groot voordeel van Transvaal was dat dit ver buite die bereik van die Engelse se soldate en skepe was, die enigste nadele was dat dit geen seehawe het nie en dat die koors daar lastig was (malaria).

Retief was ten gunste van Natal. Natal is beskryf as ’n land vloeiende van melk en heuning, daar was volop goeie gras, volop hout en geen koors, geen ryp nie, behalwe aan die voet van die Drakensberg, en ’n voldoende reënval. Dit het ’n goeie hawe en met die oog op handel, is dit van groot belang.

 

Die besware teen die trek na Natal

Daar was drie groot besware teen die trek na Natal:

  1. Sou hulle ooit oor die Drakensberg kom. Tot op hierdie tyd het niemand daarin geslaag om met waens oor die lang reeks berge, wat uit die Kolonie noordwaarts strek, te gaan nie.
  2. Wat omtrent die klompie Engelse by Port Natal? Die Voortrekkers het gehoor dat ’n Magistraat daar aangestel is. (Die inligting was korrek, dit was Gardiner, kragtens die “Cape of Good Hope Punishment Bill”.)
  3. Wat sou Dingane se houding wees? Om Natal sommer goedsmoeds van hom te vat, het niemand aan gedink nie. Die vraag was of Dingane bereid sou wees om die onbewoonde grondgebied af te staan.

Retief vertrek vanaf Winburg (6 Julie 1837)

Piet Retief het met 54 waens op 6 Julie 1837 uit Winburg-omgewing vertrek. Hulle het die platorand by Kerkenberg eers op 7 Oktober bereik, die afstand is omtrent 240 km en weens verskillende omstandighede, het hulle op slegs ses en twintig dae getrek waarvan een op ’n Sondag was (1 Oktober). Op 30 September is hulle deur die Elandsrivier. Barend Liebenberg het twee dae tevore vooruit gery om na ’n geskikte kampplek te soek, en hy het terug laat weet dat twee skofte verder daar ’n goeie streek was, met brandhout vir twee maande. Vuurmaakgoed was so skaars in die Vrystaat se grasvlaktes dat die Voortrekkers wildebeesmis moes gebruik, en dit is dus geen wonder dat goeie brandhout spesiaal genoem word nie.

Gedurende die volgende paar dae het meer waens van agter bygekom, en op 7 Oktober het Abraham Greyling, die laerkommandant, ’n laer van dertig waens in ’n ronde kring laat trek. Buitekant was vier en twintig waens wat nie in die kring wou staan nie. Later het nog twaalf waens aangekom.

Die kampplek was aan die voet van Kerkenberg, aan die Onderbergspruit, ’n paar kilometer van waar die Voortrekkers oor die Drakensberg gegaan het. Dit is ’n streek van golwende heuwels met hoë, losstaande koppe op of naby die platorand, wat die Drakensberg genoem word. Hier het die trek vir vyf weke lank gestaan, nl. vanaf 7 Oktober tot 14 November, onderwyl Retief in Natal was om die area te verken.

Retief kom by Kerkenberg aan

Toe Retief by die platorand aankom, het hulle gekamp by ’n plek wat goeie beskerming gegee het teen wind en weer. Hulle het die plek “Kerkenberg” genoem, want die berg het in die verte soos ’n kerk gelyk.

By die platorand bo op die berg, het Retief die landskap voor hom beskou en dit was soos om ’n nuwe wêreld te sien. ’n Pragtige landskap wat bestaan ​​uit baie waterstrome en vrugbare weiding, die landskap val van terras op terras tot by die see, maar vermeng met duisende heuwels en beboste valleie.