Historiese vlae van Suid-Afrika
Oktober 2, 2020
Die Groot Trek: Hoofstuk 6 Deel 1
November 6, 2020

Sarel Feldtmann

 

Die tweede strafekspedisie (vervolg)

Maandag 6 en Dinsdag 7 November (Dag 3 & 4)

Na die eerste paar dae se geveg het die kommando verder getrek deur die Marico-vallei. Die Boere het die hoof militêre gebied van Kapain genader. Die Marico-rivier loop deur drie opeenvolgende poorte in die bergreeks wat ten noorde van Kapain lê.

Die Maandag is die kommando verder noordwaarts en het die aand by Pagskraal gelaer. Teen dié tyd het Silkaats reeds van die aanval verneem en die Boerekommando tegemoet getrek. Toe die geveg die Dinsdag te Maaierskraal voortgesit is, het die kommando te staan gekom teen die hele sterkte van die Matebelemag onder leiding van Marap Kalipi die hoofindoena en Silkaats self, terwyl uit die hele Matebele-ryk nog gedurig versterkings aangekom het. Die dag by Maaierskraal het die groot slag in aanvang geneem.

Met duisende soldate het die Matebele die beroemde Zoeloe-insluitingsbeweging (bul se horings) probeer toepas, maar telkens het die vinnig bewegende Boere die groeipunte plat geskiet terwyl die kommando gedurig vorentoe beur.

In frontaanvalle is die blokformasie in stukke gebreek en elke deel apart vernietig. Hier het die Trekker bewys dat hy ’n bobaasskut is. Voor elke skoot moes die swaar gewere eers gelaai word, intussen moes die vyand ook gedurig dopgehou word, kontak met ander Trekkers gehou word, galop, gestop en gejaag word en boonop met al die beweging gekorrel en geskiet word en dit ook nog na ’n bewegende voorwerp!

Teen die middag brand die krale by Maaierskraal (’n naam wat later gegee is omdat onder die Matebele gemaai is), die Matebele val terug en die burgers en hul perde geniet die ruspouse. Dit was net ’n kort rustyd want die geveg gaan voort en teen die aand was Maaierskraal en omgewing skoongevee en in Trekkerbesit, en moes gereël word om te oornag.

Woensdag 8 November (Dag 5)

Dit word 8 November. Nog gaan die geveg voort. Waar die Matebele in die ruie bosse terugval, moes die Trekkers die bosplate omsingel en te voet deursoek. Deur spruite gaan die geveg, langs rietbegroeide rivierwalle. By een geleentheid spring ’n Matebele uit sy skuilplek tussen die riete, korrel en gooi sy werpassegaai na Potgieter wat hom rakelings mis. Potgieter sit blitsvinnig die vlugtende Matebele te perd agterna, gryp hom agter die nek, lig hom met sy sterk arm op en gooi hom in die grond neer dat hy bewusteloos bly lê!

Die Boere se strategie was om elke poort aan te val en die Matabele aanhoudend noordwaarts te jaag. Die omgewing was soms ru genoeg om die trekkers te dwing om te voet te veg, maar of hulle te perd of te voet was, die aanvalstegniek was altyd dieselfde.

Die kommando het Silkaats by Tshwenyane (Mezeg) en Kapain (eGabeni) aangeval in wat die “Sewe Dae Slag” genoem word, afhangende van hoe dit getel word, of soms die Slag van Marikwa. In totaal het die geveg van 4 tot 12 November 1837, nege dae, geduur.

Donderdag 9 November (Dag 6)

Op Donderdag, die sesde dag van die geveg, bereik die kommando Kapain (eGabeni), die stat van die koning wat die Matebele ten alle koste wou behou. Alle versterkings het reeds aangekom en die Boer moes sy kragte meet met seker goed ’n 12 000 gedugte en desperate Matebele. (Daar word gereken dat die Matebele ongeveer 20 000 vegters gehad het.) Nogtans, tree vir tree moes die Matebele voor die doelgerigte en goedgemikte aanvalle van die Boerkommando wyk.

Op een stadium het die Matebele hul vegbeeste in die stryd gewerp. Dit was osse met skerpgemaakte horings wat deur ’n ruiter beheer is en so goed afgerig was dat hul heelparty perde verwond en selfs ’n mate van verwarring veroorsaak het. Daar was ook verse en bulle onder die vegbeeste. Een rooi vers was so goed gedresseer dat sy etlike perde lelik beseer het voordat sy platgeskiet is. Gelukkig vir die kommando het die knal van die gewere en die bloedreuk die beeste laat omruk en op loop gesit terug na hul krale toe en heelwat skade in die geledere van die Matebele self aangerig.

Dit het die Matebele-aanval laat verflou. Honderde dooies het oral in die veld gelê en teen die aand was die Matebele op vlug na die noorde terwyl die stat van koning Silkaats in ligte laaie gestaan het.

Vrydag 10 & Saterdag 11 November (Dag 7 & 8)

Nog was die Matebele nie verslaan nie en hul moes ook nie die tyd gegee word om hul weer te herorganiseer nie – die stryd gaan dus die volgende dag voort. Steeds verder noord vind die gevegte plaas, meer met die agterhoedes wat die voortvlugtendes teen hul aanvallers beskerm. Die vlugtelinge het deur die nek oor die Dwarsberge, net wes van die ontoeganklike Eerstepoort gestroom. Voor die poort het die boere vir die nag kamp opgeslaan.

Die volgende dag (Saterdag) was daar nog ’n heftige geveg by die nek, maar weer moes die vyand wyk en oor die nek vlug met die kommando op hulle hakke.

Tussen Eerste- en Tweedepoort was die terrein bedek deur tropiese plantegroei (die winterverblyfplek van Silkaats) en het dit die kommando die hele dag geneem om die afstand wat oor ’n ander terrein in ’n uur te perd afgelê kon word, deur te trek.

Sondag 12 November (Dag 9)

Die volgende môre was dit al die 12de November, die negende dag van die geveg en is die Matebele oor die rante by Tweedepoort gejaag. Dit was die laaste geveg.

Vanaf die rant kon die kommando die gedisorganiseerde en verslane Matebele-nasie na die noorde sien stroom – die verdelgers was verdelg. En daarmee het die wrede en oormoedige Silkaats opgehou om meester te wees van Transvaal. Die negedaagse slag was gelewer. 300 man (wat gedurende die hele veldtog hoofsaaklik van biltong gelewe het) het die duisende van die Matebele in hul eie domein wat onbekend was vir die Trekkers, in die oop veld verslaan sonder wa-laer, sonder kanon, maar deur die dapperheid en krygslis van ’n Potgieter, Uys en elke dapper Voortrekker wat die veldtog meegemaak het. Nie ’n enkele man of perd is in die veldtog verloor nie. Die Sondag is ’n dankdiens gehou, want is die mens alleen tot so ’n oorwinning in staat?

Silkaats het met ’n deel van sy volk die Kalahari in gevlug en hom in die streke van Ngami gevestig. Die res van sy stam het ooswaarts gevlug na die Waterberg se kant toe, en eers drie jaar later het die twee groepe weer verenig. Die verlies van die Matabeles word deur Sarel Cilliers gestel op minstens drieduisend dooies.

Potgieter word die wettige eienaar van Silkaats se grond

Dit was die soort oorwinning waarna die hoëveld Voortrekkers gesoek het, en Cilliers het opgemerk dat “Wat hulle s’n was, is nou ons s’n”.

Die aantal beeste wat gebuit was, was enorm, en die oorwinnaars het 7000 beeste bymekaar gemaak vir hulself en nog baie meer aan die Barolong-herders gegee wat die ekspedisie vergesel het.

As gevolg van hierdie slag het die Voortrekkers die wettige eienaars geword van die hele Noordelike Vrystaat, die grootste deel van die latere “Suid Afrikaanse Republiek” (ZAR) en die hele oostelike gebied van Betsjoeanaland (Botswana) tot aan die Kalahari, wat vroeër deur Silkaats verower en waarvan die oorspronklike inwoners uitgemoor is. As wapenfeit kan die negedaagse slag aan die Marico beskou word as een van die skitterendste in die geskiedenis van die Voortrek. Want waar die Voortrekkers in die meeste ander groot gevegte hul laers tot beskerming gehad het, was hulle hier die aanvallers en moes hulle in ’n oop terrein teen die vyand opruk. Ook om sy gevolge – want daardeur is Transvaal oopgestel vir blanke nedersetting – verdien hierdie slag, wat in die geskiedenis self nie eens ’n naam het nie, om beter bekend te wees.

Daarop het Potgieter die Matebele-gebied as Trekkereiendom verklaar “kragtens die regte van ’n oorwinnaar in ’n regverdige saak.”

Na die gebied sou later weer teruggetrek word nadat die Natalse geskiedenis hom afgespeel het. Potgieter het die toekoms reg voorsien!

Daar is weer ’n geskil oor die verdeling van die beeste

Noudat die gevaar verby was, nes vroeër die jaar by Mosega, het ’n stryery onder die oorwinnaars plaasgevind. Die buit het weereens ’n geskil veroorsaak oor hoe dit verdeel moes word.

Potgieter het weer die grootste gedeelte van die vee geëis en hy is deur Uys in hierdie eis ondersteun. Maritz (wat die stryd weens siekte gemis het) het egter geprotesteer dat die verliese van Vegkop alreeds na Mosega vergoed is. En hierdie keer was dit Maritz wat sy sin kon kry.

Die Strafkommando keer terug en vind van die kampe leeg

So weereens was dit ’n ongelukkige twistende kommando wat suid in die rigting van die hoof trekkerkampe naby die Sandrivier teruggekeer het. Hier het hulle gevind dat van die kampe nou leeg is. Die voortrekkers het goeie nuus van die trekkers op pad na Natal ontvang en alreeds het hulle waens na die Drakensbergpasse gestroom.

Retief het vertrek om met Dingaan te onderhandel oor grond

Retief het vroeër ’n roete oor die Drakensberg gevind en met ’n handjievol manne vertrek om ’n onderhoud met Dingaan in Zoeloeland te probeer reël. Hy het ’n boodskap gestuur vir die ander trekkers dat al die grond tussen die Tugela en die Umzimkuluriviere in Natal oop was vir nedersetting deur die trekkers.

Na die afloop van die tweede strafekspedisie het Piet Uys en Gerrit Maritz dadelik vertrek na Natal, en Potgieter het hulle met sy waens baie halfhartig gevolg. Hy was gevul met voorbode en het altyd die moeilikheid vir die trekkers in Natal voorspel en die indruk gegee dat hy nou teen sy eie oordeel optree.