Historiese vlae van Suid-Afrika

Trekleier: Pieter Daniel JACOBS (1780-1845)
September 28, 2020

Strydvlag (1899-1902)

Gedurende die einde van die Anglo-Boereoorlog het baie burgers gevoel dat aangesien die strewes van die twee Boererepublieke dieselfde was met ’n gemeenskaplike vyand, hulle ’n vlag wil gebruik wat beide die Transvaal en die Vrystaat verteenwoordig. ’n Oranje baan is toe aan die onderkant van die Vierkleur vasgeheg. Hierdie vlag het bekend gestaan as die “oorlogsvla” of die Taung Vyfkleur. Soos wat die Boere sekere dorpe in die Vrystaat en Noord-Kaapland oorwin het, het hulle hierdie vlag voor die munisipale kantore van elke dorp gehys. Dit staan dan as die Vyfkleur bekend.

 

Stellaland (1883-1885)

Stellaland was vanaf 1882 tot 1885 ’n onafhanklike republiek in die noordelike deel van die destydse Kaapkolonie en nou deel van Suid-Afrika.

Vandag word die naam steeds gebruik om die streek aan te dui wat die dorpe Vryburg, Stella en Reivilo insluit, asook kleiner plekke soos Bray, Tosca en Vostershoop.

Die naam kom van Stella, die Latynse woord vir ster en is blykbaar gekies omdat daar ’n komeet in die nagruim sigbaar was tydens die gevegte wat aanleiding gegee het tot die stigting van die republiek. Daar is ook ’n dorp met die naam Stella naby Vryburg.

Die republiek het ontstaan nadat Boere betrokke geraak het by ’n konflik tussen twee swart stamme, die Batlaping en die Korannas. Albei groepe het wit huursoldate gewerf. David Massouw, die leier van die Korannas, het aan die Boere plase beloof. Toe die konflik in Julie 1882 beëindig is, het 416 van die Boere wat plase ontvang het, hulleself as vryburgers beskou en Stellaland op 26 Julie 1882 as hulle eie onafhanklike republiek uitgeroep.

Vryburg, die hoofdorp, is toe uitgelê op ’n plek wat die Tswanas as Huhudi (Tswana vir “lopende water”) ken.

Gerrit Jacobus van Niekerk (1849-1896) was die eerste (en enigste) president van die republiek wat in Augustus 1883 formeel geproklameer is.

Stellaland het ’n eenvoudige administrasiestelsel ontwikkel en op 23 Februarie 1883 ’n Volksraad in plek gestel. Die grondwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek is aanvaar.

Op 11 Oktober 1883 sluit Stellaland en Goosen, ’n naburige onafhanklike gebied, ’n voorlopige ooreenkoms om saam te smelt om die “Verenigde State van Stellaland” te vorm, maar dit is nie uitgevoer nie en hulle het aparte state gebly. Stellaland wou met die Transvaalse Republiek verenig, maar die Britse regering het dit teengestaan en wou hê dat die westelike grens van die Transvaal gehandhaaf moet word. In Februarie 1885 het ’n Britse ekspedisiemag onder Sir Charles Warren die dorp ingeneem en op 30 September 1885 die gebied by Brits-Betsjoenaland ingelyf, wat toe in 1895 deel van die Kaapkolonie geword het. In 1910 het die Kaapkolonie die Kaapprovinsie (een van die vier provinsies van die Unie van Suid-Afrika en later die Republiek van Suid-Afrika) geword.

 

Goosen Land (1883-1885)

Goosen (vernoem na die Bybelse Land van Goosen) was ’n Boererepubliek met ’n kortstondige bestaan van 24 Oktober 1882 tot 7 Augustus 1883; dit was geleë in ’n deel van Brits-Betsjoenaland, wes van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek. Die hoofsetel van die republiek was Rooigrond aan die Transvaalse westelike grens.

Op 7 Augustus 1883 verenig dit met Stellaland om die Verenigde State van Stellaland te vorm. In 1885 stuur die Britte egter ’n militêre mag onder Sir Charles Warren na die gebied, en word die republiek vervolgens afgeskaf op 30 September in die selfde jaar en heringelyf en die gebied word weer deel van Brits-Betsjoenaland.

Die vlag van Goosen was ’n vierkleur soortgelyk aan die vierkleur van die ZAR met die blou band vervang met ’n swart band. Die stigting van Goosen was gemik op die vestiging van ’n band tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en Duits-Wes-Afrika en die vlag kan gesien word as ’n kombinasie van die Transvaalse vlag en die vlag van Duitsland op daardie tydstip. Die groen in die vlag staan vir hoop en jeug.

 

Natalia (1839-1843)

Die Natalia Republiek was ’n Boererepubliek met ’n kortstondige bestaan. Dit is in 1839 deur Natalse Voortrekkers gestig kort na die beroemde Slag van Bloedrivier. Die republiek was geleë aan die kus van die Indiese Oseaan, oos van die Oos-Kaap en is te vore Natalia gedoop deur Portugese seevaarders. Die republiek is in 1843 deur Brittanje beset en geannekseer.

Die Britte het die Voortrekkers as hulle onderdane beskou en was gekant teen die idee dat hulle onderdane kon wegtrek na grondgebied wat buite hulle beheer was. Na die Britse anneksasie van die Natalia Republiek het die meeste van die Voortrekkers noord na die Transoranje en Transvaal getrek. Die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier is later ook deur Brittanje geannekseer as die Oranjerivier-Soewereiniteit voordat dit later omskep is in die Oranje-Vrystaat Republiek en die Zuid-Afrikaansche Republiek in die Transvaal gevestig is.

 

Kruisvlag

Die vlag van die hertog van Boergondië was ’n rooi oorhoekse St. Andrews kruis op ’n blou agtergrond. Hierdie vlag is moontlik deur die Franse Hugenote na Suid-Afrika gebring en het dan ook as die “Kruisvlag” bekend gestaan. Dit het later ook as die Voortrekker-, Potgieter- en Schoemanvlae bekend gestaan. Daar is bewerings dat die naam “Boer” van die staat Boergondië afkomstig is. Alhoewel daar nie van vlae by die Voortrekkers melding gemaak word nie, kan juis die benaming “Voortrekkervlag” aanduidend wees daarvan dat hierdie vlag moontlik deur die Voortrekkers gebruik is. Hendrik Potgieter was ’n groot voorstander van hierdie vlag en sou dit sonder twyfel by hom op trek gehad het. Later het Stephanus Schoeman dit ook in Soutpansberg gebruik. Die Genootskap van Afrikaner Simbole het besluit dat die vlag “Die Voortrekkervlag” sal heet aangesien dit die mees neutrale naam van die vier is en dat die naam Voortrekker dan daardeur in ons heraldiese geskiedenis bewaar word.

 

Nederlandse Driekleur 1630

Die Driekleur van Nederland is die oudste driekleur en het sy eerste verskyning in 1572 as die Prinsevlag in oranje-wit-blou gemaak. Die meer bekende rooi-wit-blou het mettertyd begin verskyn — daar kan nie vasgestel word waarom oranje met rooi vervang is nie. Na 1630 was die rooi-wit-blou die mees algemene vlag. Die Nederlandse Driekleur het as inspirasie gedien vir verskeie nasionale vlae waaronder dié van Rusland, Indië, New York Stad, Suid-Afrika (die Unie-vlag van 1928-1994) en Frankryk waarna die gebruik van die driekleur selfs verder versprei het. Die vlag van Nederland is ook die enigste vlag in die wêreld wat aangepas word vir sekere gebruike soos wanneer ’n gebeurlikheid betrekking tot die Nederlandse koningshuis het word ’n oranje lint aan die vlag toegevoeg.

 

Vrystaatse Vlag (1857-1902)

Die nasionale vlag van die Oranje Vrystaat is in 1856 aangeneem. Die OVS se nasionale vlag het bestaan uit oranje en wit horisontale strepe wat mekaar afwissel (3 oranje en 4 wit met die wit strepe aan die buitekant), met ’n weergawe van die Hollandse vlag (oorspronklik gebruik by Graaff-Reinet en Swellendam in 1795) in die inkwartier. Die vlag is ontwerp deur die Nederlandse koning Willem III na ’n versoek van die bevolking van die Oranje Vrystaat. Die voormalige nasionale Vlag van Suid-Afrika (vanaf 1927 tot 1994) het die vlag van die OVS wat vertikaal hang, ingesluit in die sentrale wit streep van die vlag.

 

Transvaalse Vierkleur (1857-1874, 1875-1877, 1881-1902)

Die Transvaalse Vierkleur was die amptelike vlag van die Zuid-Afrikaanse Republiek en is deur ds. Dirk van der Hoff ontwerp. Die vlag het amptelik as die ZAR se landsvlag gedien vanaf 1858 tot 1902, met periodes waar die ou Voortrekkervlag (1874-75) en die Union Jack (1877-1881) as amptelike vlag gehys is.

Die rede vir die kleure is nie heeltemal bekend nie, maar dit word algemeen aanvaar dat ds. Van der Hoff in gedagte gehad het dat die Nederlandse vlag nie geskik sou wees vir die nuwe republiek nie. Die oranje in die Nederlandse vlag is dus deur rooi vir die Boererepubliek vervang, terwyl ’n vertikale groen streep bygevoeg is.

Die vlag is die eerste keer op 6 Januarie 1857 in Potchefstroom en op 23 Februarie 1857 in Pretoria gehys. Op 18 Februarie 1858 het die Volksraad die Vierkleur tot die amptelike vlag van die Zuid-Afrikaanse Republiek verklaar.

Na die Britse anneksasie van die ZAR in April 1877, het die Eerste Vryheidsoorlog ’n aanvang geneem en in 1880 is Heidelberg tot tydelike hoofstad verklaar en is die Vierkleur weer op Geloftedag van 1880 daar gehys.

Op 31 Mei 1902 is die Vierkleur en die Vrystaatse vlag gestryk, maar is tog later geïnkorporeer in die vlag van die Republiek van Suid-Afrika van 1928 tot 1994.

 

Prinsevlag 1572

Die Prinse vlag is deur Prins Willem van Oranje gebruik in sy stryd teen die Katolieke Kerk. Op 5 April 1566 het Lodewyk van Nassau namens Nederlandse Protestante ’n versoekskrif aan Margareta van Parma oorhandig. Dit word vertel dat die landvoogde by haar nadering van die groep edeles aan een van haar raadgewers gevra het wie die groep besoekers is en dat sy in Frans geantwoord het: “Dit is slegs ’n klomp bedelaars!” Hierdie minagtende uitlating het spoedig bekend geword en van toe af noem almal wat teen die regering is hulself “geuse”, wat “bedelaars” beteken. Kort hierna is ook Hollandse hooggeplaastes wat petisies gehou het in die Hof van Barliamont vir Hollandse historiese regte, uitgeskel as “’n klomp bedelaars”. Patriotte wat ter see teen Spaanse en Rooms-Katolieke oorheersing geveg het, het hierdie beledigende aanmerking ook as eretitel aangeneem en hulself die “Waterbedelaars” of “Watergeuse” begin noem. Toe hierdie “Watergeuse” 1572 die hawe van Den Briel annekseer, en met vlieënde vaandels van oranje, blanje, blou die stad binnevaar, het openlike rewolusie losgebars. Dit het die weg gebaan vir verdere opstande wat uiteindelik tot gevolg gehad het dat die regte van die Calvinistiese Protestante erken is. Van toe af het die Prinsevlag “hunne gewone vlag” (volksvlag) geword in teenstelling met die rooi, wit en blou wat uitsluitlik ’n koningsvlag was. Dus is hierdie vlag, die oranje, blanje, blou Prinse vlag die oudste volksvlag ter wêreld.

 

Unie en Republiekvlag (1927-1994)

Na die Anglo-Boereoorlog het die Unie van Suid-Afrika (1910) tot stand gekom. Die nuwe unie het egter geen amptelike nasionale vlag gehad nie. Na ’n lang en uitgerekte parlementêre stryd in 1927/28 oor die vlagkwessie word besluit dat die Prinsevlag as basis sal dien vir ’n nuwe Unievlag, maar dat die vlae van die twee Boererepublieke en die Union Jack op die wit vlak aangebring sal word. Op Maandag 24 Oktober 1927 word die vlag aanvaar en as volg beskryf deur die parlement: Drie horisontale bane ewe wyd, van bo na onder oranje, wit, blou; in die middel van die wit baan die vlag van die Oranje Vrystaat vertikaal ten volle oopgesprei afhangende, met die Union Jack horisontaal daaraan grensende ten volle oopgesprei in die rigting van die vlagpaal, en die Transvaalse Vierkleur horisontaal daaraan grensend ten volle oopgesprei weg van die vlagpaal af, op gelyke afstand van die kante van die wit baan. Die vlae sal almal ewe groot wees, en hul vorm sal proporsioneel dieselfde as die van die nasionale vlag wees, en die breedte van elk gelyk aan een derde van die breedte van die wit baan.