Toeka se Pretorianers skep vermaak in pioniersdorpie
September 25, 2020
Trekleier: Jan du Plessis (1803-1877)
September 28, 2020

Sarel Feldtmann

Die tweede strafekspedisie (Deel 1)

Matabeles word deur Dingaan aangeval by Kapain

Die Matabele militêre mag was teen die middel van 1837 ver van gebreek. Hulle het in Julie ’n reeks aanvalle suksesvol verdedig wat uitgevoer is deur Dingaan die Zoeloekoning, wat gehoor het van die Voortrekkers se aanval op Mosega in Januarie 1837 en wou die verswakte Matabele-mag totaal verslaan. Silkaats het die aanval afgeweer met swaar verliese en sy magte hergroepeer by eGabeni (Kapain).

Beplanning gaan voort vir die tweede strafekspedisie

(Uittreksels van ’n Artikel geskryf deur N. Dreyer (IVO-TOD): Die wedervaringe van die trekgeselskap van Andries Hendrik Potgieter)

Potgieter het sy kamp verskuif na die Suikerbosrand- (Heidelberg-) omgewing om hom voor te berei vir die finale aanslag teen die Matabeles om hulle vir goed uit die “Transvaal”-omgewing te verdryf.

Maritz het hom by Potgieter aan die Suikerbosrand gaan voeg met die oog op die tweede veldtog teen Silkaats en hy is later deur Piet Uys gevolg. Hierdie veldtog is aanvanklik vir Juniemaand beplan, maar moes noodgedwonge uitgestel word weens onder andere gerigte oor bedreigings van die kant van die Griekwa en Koranna wat strooptogte beplan het om die Trekkers se vee te steel. Aandag moes eers aan die Griekwaprobleem gegee word, om dit uit die weg te ruim.

Met die beplanning van die veldtog was dit duidelik dat dit ’n onderneming sou wees van die “Verenigde Trekkergemeenskap” onder leiding van goewerneur Retief. Mettertyd het dit egter geblyk dat Retief voorkeur gegee het aan ’n spoedige oortog oor die Drakensberge na Natal en hy het nie veel aandag gegee aan die beplanning van die tweede strafekspedisie nie.

’n Besoek van Andries Pretorius

Terwyl die groep trekkers gestaan het by die Suikerbosrand, het Andries Pretorius, die latere held van Bloedrivier, met enkele man daar opgedaag. Hy was op ’n inspeksiereis met die oog daarop om hom moontlik ook self later in die binneland te kom vestig.

Finale besluit oor waarheen getrek moes word

Intussen, om die meningsverskil uit die weg te ruim (oor waarheen finaal getrek moes word), is ’n “grote bijeenkomst des volksop 13 September in die laer van Retief, suid van Tafelkop byeengeroep, maar daar is weer nie tot ’n finale besluit gekom nie. AIle voor- en nadele is weer sorgvuldig oorweeg en die meerderheidskeuse was Natal “en in weinig tyd was alles aan het trekken na Natal”. Potgieter het egter volstaan by sy plan om eers die Matebele-mag te breek en die gebied noord van die Vaal bewoonbaar te maak vir die trekkers, en hierin het Maritz en Uys aan Potgieter hul steun beloof.

Die finale reëlings vir die Slag van Kapain (eGabeni)

Die kommando vir die tweede strafekspedisie het uit 330 man bestaan, en dit was saamgestel uit omtrent soveel Voortrekkermans as wat destyds in Suider-Afrika gevind kon word, rowwe manne, “manne van murg en been”. Volgens Hendrik Potgieter moes daar hierdie keer nie ’n onbetwiste uitslag wees nie.

Hendrik Potgieter het nou die kenmerk van ’n suksesvolle bevelvoerder gekry – hy het ’n algehele oorwinning beplan, ’n oorwinning wat hom oorheersing oor die hoëveld sou gee. Daar moes geen los ente wees soos daar was na die slag van Mosega nie. Kapain, die hoofstad self, moet vernietig word en die Matabele heeltemal verdryf word van die hoëveld.

Buiten die manne, het die kommando bestaan uit ’n aantal osse- en perdewaens, asook deur ongeveer 50 Griekwa-ruiters wat as vegters en as veewagters gebruik is; hulle kon nes die boere ook ’n vuurwapen goed hanteer. Dan was daar ’n paar Barolong-kapteins wat as gidse gebruik was om die weg aan te wys na Kapain en wat moes help met die terugbring van die gebuite beeste, waarin hulle ook gedeel het. Hierdie Barolong-kapteins was oorspronklik van die Maquassie area, voordat Silkaats hulle verdryf het, en hulle het die gebied redelik goed geken.

Maritz word siek en kan nie die strafekspedisie meemaak nie

Tot groot teleurstelling van Maritz het hy kort voor die vertrek van die kommando siek geword, moontlik aan longontsteking of koors en moes hy bevel neem om die families en eiendom van dié wat op kommando was, te beskerm. Andries Pretorius het saam met die kommando opgetrek maar iewers op pad was hy een van die dertig man wat agtergebly het om die walaer, waar die meeste voorrade en vee agtergebly het, teen rondloperbendes te beskerm. Die Vegkommando het van daar vertrek na Kapain.

Die kommando trek ’n laer ’n paar kilometer voor Enzelberg

Met die 330 man en ’n paar ligte waens, is die reis verder voortgesit in ’n noordwestelike rigting, dit is so vinnig as moontlik afgelê in die rigting van die huidige Zeerust. Die landstreek was woes en wild en geen lewende siel is raakgeloop nie, selfs toe hulle die Mosega-vallei binnegegaan het, was nog geen spoor van die Matebele te sien nie – wat ’n verrassing was, was dat die toegang tot die woongebied by Kapain heeltemal onbewaak was, nie ’n spioen of kryger was gesien nie. Silkaats het blykbaar gedink dat die vyand hom nie daar sou probeer aanval nie.

Eers is daar vasgestel deur die trekkers of daar nie vyandelike magte aan hul flanke of agter hulle was nie, en toe is gereed gemaak om die vyand te verras. Mosega was nog steeds in puin soos wat die trekkers dit afgebrand het in Januarie; die kommando het verbygehou verder noord. Die aand van die 3de November sien hulle die groot kop bekend as Enzelberg, en aan die noordelike voet daarvan, so verneem hulle, Iê die grootste Matebelekraal Mezeg. Potgieter het voor Enzelberg tussen ’n klomp doringbome kamp opgeslaan en ’n laer getrek.

Mezeg was oorvol mense, aangevul deur die vlugtelinge vanuit Mosega. Almal wat oorleef het van die vorige aanvalle deur die trekkers, asook die aanval van Dingaan in Junie daardie jaar. Van die mense wat hierdie aanvalle oorleef het, het daarheen gevlug, nadat 15 van hul krale afgebrand was in die eerste strafekspedisie in Januarie. Verder noord Iê baie kleinerige kraaltjies tot by Kapain, die hoofsetel van die koning Mzilikazi se koningstat, 48 km verder.

Krygsraad word gehou in die maanskyn

Die aand word krygsraad gehou in die maanskyn, enkele lanterns en ’n paar vure in die omgewing het dit effe verlig. Elke faset van die aanval word noukeurig bespreek, want nie alleen die kommando se veiligheid nie, maar ook dié van hulle gesinne, hang van hul sukses af. Daarna word die planne bekend gemaak, doen Sarel Cilliers ’n gebed en almal, behalwe die wagte, skenk hul liggame wat reeds ver gery het, die rus wat hulle in die volgende dae so nodig sou kry.

Die aanval begin op Saterdag 4 November 1837 (Dag 1)

Vanaf die plek waar die laer gestaan het, het die reusagtige Enzelberg twee ure noordwaarts gelê. Vroeg Saterdag 4 November, voor sonop, ry die kommando uit om die geveg te begin, terwyl ’n dertig stuks met die swart helpers by die verewaens agterbly. Met sonop word die slapende Mezeg aangeval. Soos met ’n dromslag donder 300 roers en andermaal soek die Matebele verward na hul wapens en probeer ’n veglinie opstel maar verniet, die heftige en onverwagte aanval is hulle oor. Toe die eerste statte aan die brand slaan, val hulle na die volgende statjies terug. Vir een of ander rede was Silkaats se veggeneraal, Kalipi, nie teenwoordig met hierdie eerste aanvalle nie, en was hulle by Kapain.

Mezeg, die grootste kraal van Silkaats, was geleë aan die voet van die Enzelberg. Vandaar oor ’n afstand van vyftig km het ’n kronkelende streep krale gestaan, tot waar Kapain (eGabeni) tussen die Klein- en die Groot-Silkaatskop digby die Marico gelê het in betreklik oop veld, dun begroei met soetdoring. Sowat 20 km noord van Silkaatskop kry ’n mens die Dwarsberge, die eerste van drie bergreekse waardeur die Maricorivier stroom.

Dit vorm die Eerstepoort, wat selfs vandag nog onbegaanbaar is. Sowat ’n uur te perd verder kry ’n mens Tweedepoort en 15 km verder Derdepoort. Die rivier vloei hier deur digte bosse en ruie bosklowe. Tussen Eerste en Tweedepoort het Silkaats nog ’n stat gehad by Lotteringskop. Dit was sy geliefkoosde winterverblyf. Die hele gebied van Enzelsberg en Kapain was so ruig en woes dat Silkaats nie eintlik bang was vir vyandige aanvalle nie. Vandaar dat hy geen wagte uitgesit het nie en dus nie op sy hoede was nie.

Sondag 5 November (Dag 2)

Stat na stat is ingeneem en honderde Matabele-krygers is doodgeskiet. Die vrouens en kinders het die berge en bosse in gevlug. Tussen die brandende krale het die Boerekommando daardie nag geslaap en die volgende dag (Sondag) die geveg voortgesit. Die Matabeles het hulle krampagtig om Mezeg vasgeklem en is eers teen die aand uit die omliggende streek verdryf.

Alarm word vooruit gestuur maar alles is verniet, die een stat na die ander val voor die Boeremagte. Honderde vegters word in die agtervolging doodgeskiet. Daarna in die donker van die nag, kon die ligkolle van die brandende statte nog gesien word. Dapper verdedig die Matebele hul stat Mezeg, maar teen die aand was dit ook in Boerebesit.