Metodes wat die Boere gebruik het om Britse treine te vang en te ontspoor

September 18, 2020
Toeka se Pretorianers skep vermaak in pioniersdorpie
September 25, 2020

deur Tian Schutte*

 

Gebruik van klippe

Die pak van klippe op spoorlyne was nie effektief gewees nie. Daar was wel een insident op 15 November 1899 waar klippe effektief gebruik was om ’n pantsertrein by Chieveley naby Frere in Natal te ontspoor. Kommando’s van Carolina, Middelburg en Krugersdorp het onder leiding van genl. Piet Joubert langs die spoor in die rigting van Weenen getrek toe hulle die pantsertrein vroeg die oggend sien. Die Boere-artillerie, onder bevel van adjudant Roos wat deel was van die regterflank, het op die trein begin skiet digby Chieveley-stasie met twee kanonne en ’n pom-pom. Die masjinis het die hinderlaag gesien en besluit om na Frere terug te keer. Hy vermeerder spoed om weg te kom, maar teen ’n afdraende met ’n draai aan die onderkant, het die Boere ondertussen klippe en grond tussen twee spoorstawe, die sogenaamde gidsstaaf en gewone spoorstaaf, ingekap. ’n Oop trok en twee pantsertrokke ontspoor om die draai, maar die lokomotief wat in die middel van trokke geposisioneer was, was nog staande. Die masjinis sit die lokomotief, wat intussen onder artillerie en geweervuur deurgeloop het, in trurat, en onttrek met ’n klomp gewonde soldate weg van die toneel af.

 

Verwydering van spoorstawe en “fish-plates”

Om spoorstawe te verwyder, moes “fish-plates” eers losgeskroef en verwyder word. Alhoewel daar insidente plaasgevind het waar dit wel geslaagd was, soos byvoorbeeld noord van Frederikstad, het die Engelse soggens eers voet- of beredepatrollies uitgestuur om spoorlyne te inspekteer. Waar spoorstawe wel verwyder was, het die Royal Engineers hierdie spoorbreke spoedig herstel.

Voorbeeld van ‘n “fish-plate” wat deur die Boere verwyder is

Gebruik van metaalwiggies

Op die Oosterspoor het die Hindon-korps snags wanneer die koue spoorstawe gekrimp het, staalwiggies tussen die spoorstawe ingeslaan – verkieslik om ’n draai. Wanneer die stawe bedags uitsit weens die opbou van hitte, het hulle krom getrek en soms het van die dwarslêers losgetrek en opgelig. Hierdie metode was ook nie doeltreffend vir ’n voorgenome aanval op ’n bepaalde plek of tyd nie. Treine wat vroegdag vertrek het, het ongeskonde oor die plekke voortgestoom, terwyl spoorpatrollies wat later uitgestuur was, treine betyds kon verhoed om die spoorlyne te gebruik.

 

Sny of ontkoppeling van treine se vakuumremme

Westinghouse-rem

Volgens Engelse en Australiese koerantberigte was dit die Boere se gunsteling truuk om swaar gelaaide treine teen skuinstes in te wag en uit te jaag, en die Westinghouse-rem op die agterste trok te verstel of af te sny, wat veroorsaak dat die vakuumremme aanslaan. Boere wat gewoonlik in koppies bokant die spoorlyn geskuil het, kon onmiddellik die inisiatief neem en die Engelse soldate onder hewige geweervuur vaspen en sodoende enige Engelse

Vakuumpype

opposisie neutraliseer en die trein oorneem. In een geval wat wel opgeteken is, wou kapt. Carel Trichardt die vakuumrem se pyp ontkoppel nadat die spoormyn nie afgegaan het op Teutfontein (222), oos van Middelburg nie. Voordat hy dit kon doen, het die myn wel afgegaan en die trein is oorrompel. Die Engelse het later vals Westinghouse-remme op alle treine aangebring en ook maxim- of Colt-masjiengewere op die agterste trokke geïnstalleer.

 

Carl Cremer se spoormyn

Foto: Carl Cremer se pa, prof. August Hermann Cremer 

Om spoorlyne met dinamiet op te blaas, was ook nie effektief nie, want die ontploffing kon ver gehoor word waarna Engelse troepe of pantsertreine met konstruksietreine uitgestuur is om ondersoek in te stel en die skade so gou moontlik te herstel. Carl WH Cremer (*1868) is gebore in Ostönnen, Westphalia, Duitsland. Hy was die seun van prof. August Hermann Cremer, ’n bekende Duitse Protestantse teoloog. As lid van kapt. Jack Hindon se verkennerskorps, was hy die eerste ontwerper van die IED (improvised explosion device) of voorloper van die landmyn in die wêreld. Dit was met hierdie spoormyn waarmee kapt. Jack Hindon en lt. Henri Slegtkamp verskeie treine suksesvol opgeblaas of laat ontspoor het op die Oosterspoor. Hy sneuwel tydens ’n aanval op ’n trein op die Noorderspoor naby Naboomspruit te Hartbeeslaagte op 10 Augustus 1901 onder vreemde omstandighede nadat hy reeds oorgegee het.

Die sneller of meganisme wat die myn afgesit het, was niks anders as ’n Martini-Henry-geweer waarvan die loop afgesaag en die kolf verwyder is nie. Die beul is ook weerskante van die sneller afgesaag sodat die sneller ontbloot is. Die meganisme word in ’n langwerpige houtkassie geplaas waarvan die kante oop was wat 4 duim (10 cm) in breedte was. Die lading het bestaan uit ’n loskruitpatroon waarvan die koeël en pluisie verwyder was en ’n sakkie met dinamiet wat vasgemaak was om die stuk van die geweerloop wat oorgebly het. As die sneller wat direk onder die spoorstaaf geposisioneer was, afgedruk word deur die gewig van die trein, slaan die skoot in die dinamiet wat dan ontplof het.

Foto: Martini-Henry-geweer waarvan die loop afgesaag en kolf verwyder is om as snellermeganisme vir Carl Cremer se myn te dien (Foto-erkenning: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke)

Die eerste spoormyn is op 6 September 1900 op die proef gestel onder ’n spoor op die plaas Doringkop (vermoedelik Doornbult (530) GPS: 25° 53′ 43.99″ Suid & 29° 05′ 30.45″ Oos) sowat 8 myl oos van Balmoral-stasie. Dit was ’n verlate plaas waarvan die eienaar reeds in diens van die Engelse was. Daar het ook 30 varke rondgeloop wat hulle kosvoorraad aangevul het. Die groepie wat die myn gaan stel het, het bestaan uit lt. Henri Slegtkamp, Carl Cremer, Lucas Johannes van As en Max Beuster. Die treinspoor is in die nag genader en terwyl een die perde vasgehou het, het die ander al op graspolle langs beweeg om nie spore agter te laat nie.

Nadat die myn gelê is, het hulle die plek verlaat. Hulle het die aankomende trein gehoor en kort daarna die ontploffing. Die toestel het gewerk! Die volgende aand ry hulle weer nader en doen navraag by swartes wat daar naby gewoon het wat gebeur het. Hulle vertel dat daar ’n geweldige ontploffing was wat soos ’n kanon geklink het waarna die trein omgeslaan het en dat daar baie Engelse seergekry het. Dit het hulle aangespoor om dadelik tot aksie oor te gaan en meer myne te maak. Die lokomotief en vyf trokke het ontspoor. Die Engelse het versterkings vanaf Brugspruit-stasie na die toneel gestuur waar die soldate wat in die ontploffing betrokke was, hulle met whiskey getrakteer het. Vyf soldate was so besope dat hulle almal tot ’n jaar tronkstraf gevonnis is deur ’n krygshof.

 

*Uittreksel uit die boek: Treinvernielers – Boere-aanvalle op en vernietiging van treine, stasies en spoorlyne in die ZAR tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 deur Tian Schutte en Peet Coetzee