Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 6
September 16, 2020
Metodes wat die Boere gebruik het om Britse treine te vang en te ontspoor
September 21, 2020

Ras-kanonne

deur Dirk Marais

Die Ras-kanonne was die eerste kanonne wat in Suid-Afrika gebou is. Die twee kanonne is tydens die Eerste Vryheidsoorlog op die plaas Bokfontein in die Brits-distrik gebou.

Hulle is oor ’n periode van twee weke gebou deur Marthinus Nikolaas Ras, wat beskou word as die vader van die Suid-Afrikaanse artillerie, en sy neef, Eduard Dawid Ras, wat ’n talentvolle smid was.

In Desember 1880 versoek en verkry hy toestemming van generaal Piet Cronjé om terug te keer na sy plaas Bokfontein, naby Brits, om ’n kanon vir die Boeremagte te bou.

 

“Martienie”-kanon

Marthinus Ras het ’n aantal wabande by ’n handelaar in Rustenburg gekoop wat hy gesmelt het en waaruit die kanonne gegiet is.

Die eerste kanon, ’n 3-duim-kaliber, genaamd “Martienie” (vernoem na Marthinus Ras), het ’n loodbal van 7 pond uit ’n 4½ voet loop geskiet. Die sluitstuk van die kanon is egter beskadig met die afvuur van die eerste skoot, wat natuurlik aanpassings vereis het. Die beskadigde sluitstuk is vervang deur ’n versterkte sluitstuk en die kanon is op ’n klein wa-as en wiele gemonteer.

Die “Martienie”-kanon is na die front geskuif en deur kommandant Eloff teen die Britse garnisoen in Rustenburg ontplooi. Dit het tussen 8 en 9 Januarie 1881 58 skote op die Britse fort geskiet, wat gelei het tot die oorgawe van die fort.

Marthinus Ras by die “Martienie”-kanon

“Ras”-kanon

Die tweede kanon, wat later gebou is, is “Ras” genoem. Dit was kleiner as “Martienie”, ’n kaliber van 2 duim, maar met ’n langer loop van 5½ voet. Dit is ontwerp om ’n langwerpige koeëlvormige projektiel (2 duim breed en 4½ duim lank) af te vuur. Dit is egter nooit operasioneel tydens die oorlog ontplooi nie.

Na die oorlog is “Ras” as uitstalling na Europa gestuur en op die Wêreldtentoonstelling 1900 in Parys vertoon. Dit is eers ná die Anglo-Boereoorlog na Suid-Afrika terugbesorg.

Na die oorlog

Die “Martienie”-kanon is na die oorlog gebruik om die middagsein in Pretoria af te vuur.

In 1885 laai ’n mal Oostenryker met die naam Compolier die kanon met klippe, rig dit en vuur ’n skoot af op die staatspresidentswoning in Pretoria. Die skoot het die kanon ernstig beskadig en dit is toe na die nuwe Staatsmuseum verskuif. Toe die Britte in 1900 in Pretoria in neem, was dit al ’n museumstuk, anders sou dit waarskynlik dieselfde lot as die ander Boereoorlogkanonne gehad het – dit is na Engeland gestuur om gesmelt te word.

Die twee Ras-kanonne bestaan vandag nog. “Ras” word in Fort Schanskop in Pretoria vertoon en “Martienie” in Denel in Erasmuskloof, Pretoria.

 

Eerbetoon

Na die Tweede Wêreldoorlog het die 26 Veldartillerieregiment van die Suid-Afrikaanse Transvaalse Artillerieregimente hul twee senior batterye vernoem na “MARTIENIE” en “RAS”, die twee tuisgemaakte kanonne wat deur Martinus Ras gebou is. Hy is verder in 1981 deur die regiment vereer deur by ’n gedenkdiens ’n saluut af te skiet om die prestasies van die geweermaker te vier, 100 jaar na die vervaardiging van die eerste geweer.