Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 5
September 10, 2020
September 18, 2020

Sarel Feldtmann

Thaba Nchu

Blesberg

Blesberg is ’n berg met ’n bergpiek wat wit gevlek is met aasvoëlmis en is geleë naby die Barolong-dorpie Thaba Nchu. Die Barolong speel ’n verrassend belangrike rol in die storie van die Groot Trek. Hulle is regeer deur ’n opperhoof genaamd Moroka en het in die verlede ook erg deurgeloop in die strooptogte van die Matabeles.

Moroka was die trekkers goedgesind en het hul tydelik verwelkom in sy gebied. Sy gebied was weer aan hom gegee deur Koning Mosjes van die Basotho’s nadat hulle by hom beskerming kom soek het teen die aanvalle van die Matabeles.

Terselfdertyd het Moroka geweet die Voortrekkers sal hom beskerm ingeval van ’n aanval deur die Matabeles. Die Barolong het daagliks goedere aan karwei of met osse by die Voortrekkerkampe aangebring, soos mielies, sorghum, pampoene, aartappels, groenbone, ens.

Die gebied wat deur Mzilikazi geskep is as “Niemandsland”

Met die Mfecane het Mzilikazi seker gemaak dat hy alle moontlike vyande in en om sy gebied verwilder of doodgemaak het; dit is die rede vir die groot “Niemandsland” wat om sy gebied ontstaan het. Dit is die area waar die Voortrekkers hulle wou vestig. Van die ander stamme wat moes vlug vir Mzilikazi het weer teruggekeer na hulle oorspronklike areas toe nadat Mzilikazi verslaan is deur die Voortrekkers en oor die Limpopo verdryf is in die rigting van Zimbabwe.

Verskille ontstaan oor die eindbestemming van die Trek

Potgieter was bekommerd oor die lot van die “voorste mense” en nog steeds angstig om die verslaande Matabele by Kapain die nekslag toe te dien. Maar hy sou ’n bietjie langer moes wag vir al hierdie gebeure.

Na die welslae wat Potgieter by Vegkop en Mosega behaal het, het al hoe meer trekkers van die Kolonie by Thaba Nchu (Blesberg) in die winter van 1837 aangekom en daar vergader. Teen hierdie tyd was daar al meer as 1000 waens bymekaar.

Maar erger verskille het ontstaan ​​oor die eindbestemming van die trekkers. Potgieter het gereeld in die hoofkamp rondgery en beweer dat die hoëveld oorkant die Vaal die land “Kanaän” was wat deur die Here vir die trekkers bestem het, dat die Transvaal buite die grense van die Kaapse strafwette lê en dus heeltemal vry van Britse beheer sal wees.

Maritz se belangstelling was verdeeld oor die eindbestemming

Potgieter het ook geglo dat Natal een of ander tyd oorgeneem sou word deur die Engelse omdat daar alreeds Engelse handelaars in Port Natal se hawe gevestig was.

Potgieter het gesê dat hy die Zoeloes nie vertrou nie, maar aangesien hy ondervinding van Mzilikazi se krygers gehad het, was dit in elk geval baie veiliger om op oop land in die hoëveld te boer as om in die heuwelagtige land van Natal te boer wat hom daartoe geleen het tot hinderlaag en verrassingsaanvalle.

En so het die argument gedraal en geen vaste besluit is deur die trekleiers geneem nie. Maritz se belangstelling was verdeeld, hy het Natal verkies, maar terselfdertyd het hy geglo dat die Matabele-bedreiging in die noorde eers verwyder moes word en die hoëveld deeglik ondersoek moet word voordat hulle definitief hulself tot ’n gebied verbind.

Die Moses wat die Here gestuur het, was op pad

Die trekkers het elkeen aan sy eie leier geglo en teen dié tyd was dit onmoontlik vir die Voortrekkers om bymekaar te bly sonder om kant te kies, hetsy Potgieter of Maritz.

Dit is toe dat verligting gekom het, nuus is ontvang in April 1837 dat ’n man uit die Winterberg-distrik, wat meer prestige as enige van hul huidige leiers besit het, in aantog was na Blesberg met 400 volgelinge en ’n konvooi van 100 waens. Hier is die Moses wat deur die Here gestuur is om hulle te lei – Piet Retief.

Piet Retief word verkies tot goewerneur en opperbevelhebber

Intussen het Piet Retief se trek by die ander aangekom. Sy persoonlikheid het al die ander oorskadu, en toe daar in die winter nuwe leiers gekies is, is Potgieter, die leier van ’n aansienlike trek, wat intussen ook naam gemaak het deur sy skitterend geslaagde ekspedisie teen Silkaats, heeltemal oor die hoof gesien.

Retief is verkies tot goewerneur en opperbevelhebber van die Maatschappij (Regering) te Blesberg. Met hul verkiesing van ’n goewerneur het die Afrikaners in werklikheid hul verhoudings met die Britse Kroon geskrap en hul toewyding aan ’n nuwe staatshoof oorgedra.

Potgieter was glad nie gekies in die nuwe “regering” nie

Maar hulle kon dit nie doen sonder om grootliks aanstoot te gee aan sommige van hul eie landgenote nie. In die reëlings wat getref is, het Maritz sy posisie van regter behou en voorsitter geword van ’n Politieke Raad.

Dis moontlik dat daar toe al sprake was om na Natal te trek en dat Potgieter hom nie verkiesbaar wou stel nie omdat hy hom in Transvaal wou gaan vestig. Potgieter is nie verkies om in enige posisie in die nuwe “regering” te dien nie. Hoe dit ook al sy, die Trek se eenheid was iets van die verlede.

Piet Uys sluit by die Trekkers aan

Kort hierna het Piet Uys, ’n man met honderd aanhangers, hoofsaaklik familie, by die Verenigde Laers aangekom en hulle nog meer verdeeld gemaak. Uys het bloot geweier om die “Nege Artikels” van Retief te aanvaar. Hy het dit ook duidelik gemaak dat hy nie van Retief se toenemende belangstelling in “Natalland” gehou het nie, want ná Uys se suksesvolle Kommissietrek daarheen, het hy dit as iets van sy eie, ’n soort van gesinsbewaringsarea beskou.

Uys het uiteindelik teruggekeer van die hoof-Voortrekkerlaer om sy eie kamp op die oewer van die Caledonrivier te vestig en daar het hy opgewonde verdere gebeure van die trekkers afgewag.

Retief demonstreer sy diplomatieke talente

Retief het daarna die tyd gehad om sy diplomatieke talente te demonstreer deur formele verdrae met die hoofmanne Moroka, Moshes en Sekonyela te maak, wat sy kommunikasielyne in die suide verseker het.

Op 6 Junie is immers besluit oor die naam van die nuwe land wat hulle sou stig: “Die Vrye Provinsie van Nieu-Holland in Suid-Oos-Afrika.”

Retief se verkenners het teruggekeer van die Drakensberg met die nuus dat hulle vyf moontlike roetes oor die berg geïdentifiseer het. Dit was voorheen beweer dat die enigste roete om die berg was, en hulle kon nou twee maande korter trek na Natal.

Retief reël ’n vergadering om Natal te bespreek

Op die 13de September 1837 het Retief ’n vergadering gereël om die Natal-projek te bespreek. Hy het gehoop dat hy die dispuut oor waarheen hulle moes trek, kon oplos met Piet Uys en die Potgieters aan die een kant en hyself (Retief) aan die ander kant.

Voorspelbaar het Potgieter sy voorneme om op die hoëveld te bly, bevestig, terwyl Piet Uys die kwessie verwar het met die aankondiging dat hoewel hy klaar is met die “Verenigde Laer”, hy bereid was om te help met ’n tweede strafekspedisie teen die Matabeles.

Retief vertrek met ’n paar waens na Kerkenberg

Van al die belangriker trekleiers was dit trouens net Potgieter wat skynbaar van die begin af die verre noorde as bestemming gesien het, naamlik ’n ruimte agter Delagoabaai. Al die ander het al voor die vertrek uit die Kaap of die oop veld tussen die Oranje en die Vaal in die oog gehad of Natal.

En so terwyl Retief met ’n paar waens vertrek het na die Drakensberg by Kerkenberg, met die vertroue dat die hoofmassa Voortrekkers hom sou volg, het Uys en Potgieter hul voorbereidings vir die finale vereffening van die rekening met Mzilikazi gemaak.

Die eenheid van die Maatschappij (Regering) was nou onherroeplik gebreek, die groot droom was gefragmenteer in twee of meer onderdrome, en die Groot Trek was nie meer so groot nie.

Die Napier-verdrag (1838)

NB: Hierdie stukkie het betrekking op die area, maar later sal meer duidelikheid daaroor gegee word.

In 1838 het die Kaapse goewerneur Napier en Mosjes, die Napier-verdrag onderteken, wat die meeste van die gebied wat Mosjes erken het, ingesluit het. Dit het ingesluit die land wat deur die Rolong, die Taung, die Kora, die Tlokoa en die Boere beset was. Die probleem was dat die Rolong, die Tlokoa en die Boere nie bereid was om Mosjes se gesag oor die gebied te aanvaar nie.