Johanna Duminy (1757-1807)
September 8, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 5 Deel 6
September 16, 2020

Sarel Feldtmann

Die eerste strafekspedisie

Potgieter keer terug na Blesberg (Thaba Nchu)

Op of omstreeks 23 Oktober 1836 het ’n impi van 6000 die laer by Vegkop aangeval. Sowat 40 gewapende mans het die aanval afgeweer, maar die Matebeles het al die vee weggevoer. Met die hulp van die Barolongs, die Wesleyaanse sendeling James Archibald en Gerrit Maritz, wat intussen in Transoranje (Vrystaat) aangekom het, het die Potgieter-trek na Thaba Nchu teruggekeer.

Gerrit Maritz kom met sy trek by Thaba Nchu aan

Potgieter het na die lesse van Vegkop meer doelgerig, formidabel en meer meedoënloos geraak, en hy gee nou ’n duidelike beeld van die leier wat hy is. Hy kan aan niks anders dink as om homself op die Matabele te wreek en sy gesteelde vee terug te kry nie. En by Thaba Nchu het hy die wapen gevind waarna hy op soek was – trekkers wat kan veg.

Teen hierdie tyd het die stroom van nuwe trekkers al hoe meer momentum gekry en onder Blesberg het ’n indrukwekkende verskeidenheid waens versamel. Op 19 November het nog versterkings opgedaag toe Gerrit Maritz met honderd waens opgedaag het.

Bestuur word verkies vir die “verenigde trekkers”

’n Publieke vergadering is op die 2de Desember 1836 in Potgieter se kamp gehou. Sewe mans is deur geheime stemming verkies om uitvoerende, wetgewende en regterlike magte oor die verenigde trekkers uit te oefen.

Potgieter, wat onlangs nog so ’n ongewone vermoë getoon het om te veg, is gekies as “laerkommandant”, maar die veertigjarige Gerrit Maritz, ’n man wat die wet ken, het die nog belangriker pos van president en regter ontvang.

’n Kommando word saamgestel vir ’n strafekspedisie

Maritz het ooreengekom dat die trekkers se grootste taak was om Mzilikazi te straf, al die vee wat gesteel is van Potgieter, terug te kry en die Matabele-bedreiging vir die toekoms van die Voortrekkers in die binneland, eens en vir altyd te verwyder.

Tussen Potgieter en Maritz was hulle in staat om ’n klein leër van 107 Voortrekkers te versamel, ondersteun deur veertig Griqua-ruiters, onder meer David Davids, wat ’n persoonlike vete met Mzilikazi gehad het om te besleg en veertig Barolong te voet wat van twyfelagtige vegwaarde was, maar bedoel was om die kudde gesteelde beeste te vang en terug te bring na Blesberg.

Die eerste strafekspedisie vertrek

Potgieter se eie volgelinge het op 2 Januarie 1837 uit Thaba Nchu vertrek; Maritz se mense wat nie van plan was om direk onder Potgieter te veg nie (en rooi onderskeidende bande om hul hoede gedra het) het die volgende dag gevolg.

Die gekombineerde mag het die Vaal by Kommandodrif oorgesteek, en in plaas daarvan om direk na Mosega te gaan; het hulle weggedraai na regs in die hoop om enige Matabele-verkenners wat hulle dalk gesien het, te mislei.

Mosega het bestaan uit vyftien verskillende krale

Net naby die huidige omgewing van Pretoria het die kommando skerp weswaarts gedraai. Hulle is nou deur twee mans gelei, een was Matlaba, ’n Barolong-hoof wat onder Mzilikazi geveg het en hom gehaat het; die ander was ’n Matabele-afvallige wat by Vegkop by die boere aangesluit het.

Aan die einde van ’n rit van 500 km was die kommando binne trefafstand van Mosega. Die Matabele-nedersetting by Mosega het bestaan ​​uit vyftien verskillende krale. Almal was gebou in ’n vrugbare stuk grond wat omring was deur heuwels.

Die aanval op Mosega (17 Januarie 1837)

Sonder om gesien te word, het Potgieter se kommando op die 16de Januarie 1837 die rand van die heuwels bereik wat die krale omring. Maritz se skerpskutters het die suidelike uitgange beset terwyl Potgieter se mag onder die suidelike heuwel oornag het. Met eerste lig die volgende dag het Potgieter se ruiters die naaste kraal aangeval.

Die aanval was ’n algehele verrassing. Toe die Matabele uit hul hutte kom, was hulle een vir een afgemaai. Die Boere het op hul perde van een kraal na die ander gejaag om die aanval voort te sit; hulle het al die hutte in elke kraal afgebrand soos wat hulle daar deur is en al die oorlewendes na die noorde toe verjaag.

Al vyftien krale word afgebrand

Al vyftien krale is aangeval en vernietig. Min van die mense het ontsnap en almal is voor die voet doodgemaak, ongeveer tweehonderd …. Aan die kant van die Voortrekkers is net twee man gedood. Twee Tswanas, een deur ’n Matabele-kryger wat hom in sy hut aangeval het en die ander deur ’n boer wat hom per ongeluk aangesien het as ’n Matabele-kryger.

Die Matabele wat weggekruip het is genadeloos uitgehaal

Potgieter het omtrent 6000 beeste saam met hulle teruggeneem. Noudat die geveg oor was, was dit noodsaaklik dat die Boere die Matabele geen kans gee om te hergroepeer nie.

Voor die volgende oggend, was al die Matabele-oorlewendes van Mosega wat nog weggekruip het, genadeloos uitgehaal, en nie ’n enkele kryger was lewendig gelaat in die groot kom van Mosega nie.

’n Oorwinning kan net gesien word deur Kapain ook te vernietig

Maar hoewel Mosega vernietig is en die Matabele verneder is, het daar nie veel reg geskiet nie. Daar is weliswaar meer beeste geneem as wat by Vegkop verlore geraak het, maar die nederlaag was nie deurslaggewend nie. Die grootste Matabele-weermag was nog steeds gestasioneer by Kapain en Mzilikazi of Mkalipi was nie by die aksie betrokke nie.

’n Werklike oorwinning kan net gesien word deur die vernietiging van Kapain, en die Boere se perde was te moeg om die verdere 100 km te probeer ry na Kapain en buitendien was die hele land nou in rep en roer na die aanval op Mosega.

Ontevredenheid oor die verdeling van die herwinde trop beeste

Die sukses van die aanval op Mosega is verder verwoes deur die wrywing wat tussen die twee leiers van die strafekspedisie gevolg het. Maritz en Potgieter kon nie ooreenkom oor die verdeling van die vee nie.

Potgieter het op die meerderheid beeste aangedring om sy mense te vergoed vir hul verliese by Vegkop. Maritz het daarenteen gevra dat die buit gelykop verdeel word tussen die twee groepe van die ekspedisie. Potgieter het sy sin gekry maar daarna het hulle blykbaar nooit weer op vriendskaplike voet met mekaar verkeer nie. Dit was ’n hoogs ontevrede skare manne wat op 28 Januarie 1837 in Thaba Nchu ingery het.

Potgieter se mense, noudat hulle weer ekonomies onafhanklik was (nadat hulle hul vee terug gekry het), was woedend dat die ander trekkers nie dadelik by ’n tweede aanslag teen die Matabele in Kapain wou aansluit nie.

Die Potgieter-trek het toe weggetrek van Blesberg terug na die Vetrivier. Potgieter self het noord bly trek met die hoop om weer kontak met Louis Tregardt te maak. Maar naby die Zebediela-rivier het hy verneem dat Tregardt die Zoutpansberg reeds verlaat het en op pad was na Delagoabaai. Potgieter was ’n bietjie hartseer daaroor, maar het toe weer teruggekeer na die Vetrivier waar die ander groep van sy trek uitgespan was.