Randall Wicomb (1949-2015)

Leila Reitz (1887-1959)
September 8, 2020
Mabel Jansen (1889-1979)
September 8, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Randall Wicomb was ’n Afrikaanse sanger wat baie gedoen het om volksmusiek te laat opteken, en prof. Hans du Plessis se Griekwapsalms getoonset en opgeneem het.

Randall Charles Wicomb is op 30 Januarie 1949 in Kaapstad gebore en het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikuleer en in die skool se koor gesing. Sy musiektalent is al op ’n jong ouderdom raakgesien en ’n onderwyser het hom gestuur om deeltydse sanglesse aan die Universiteit van Kaapstad te neem. Nadat hy sy BSc-honneursgraad in ekologie behaal het, het hy by die Hoërskool Durbanville en die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch skoolgehou. Hy het egter besef dat die onderwys nie die regte loopbaan vir hom was nie. Hy het sy militêre diensplig aan 1 Valskermbataljon in Bloemfontein verrig; die snit “Gammat in die aeroplane”, wat op sy debuutalbum, Kleur, ingesluit is, het hier ontstaan.

Benewens sy musiektalent het hy hom by Pieter van Dijk se ateljees in Kaapstad as kopersmid bekwaam; sy loopbaan was die inspirasie agter sy komposisie “Die kopersmid”. Randall was van 1975 tot 1977 elke jaar die wenner van die ATKV Crescendo-kompetisie, maar in daardie jare was ’n platekontrak nog nie ’n uitgemaakte saak vir die wenner nie. In sy studentejare was hy ’n lid van die universiteitskoor, en hy en ’n medekoorlid, Koba de Swart, is in 1971 getroud.

In 1978 het prof. Pieter Grobbelaar, die hoof van die departement Afrikaanse kultuur- en volkekunde vir Randall op die spoor van Afrikaanse volksmusiek gesit; in die program Die volk as digter, wat daardie jaar vir die eerste keer deur die Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai is, het luisteraars met Randall en Koba kennis gemaak. Dit was die oorlede radio-omroeper en sportkommentator Pierre Marais wat Randall aangeraai het om in Afrikaans te sing. Randall het “Kleur”, waarvoor Tientjie du Toit die woorde geskryf het, in ’n televisieprogram gesing; dit het daartoe gelei dat Edwill van Aarde, die aanbieder van Afrikaanse Treffers, ’n afdruk daarvan aangevra het. Edwill het dit in 1978 by sy program ingesluit en die publiek het dit baie goed ontvang. Dit het gelei tot die uitreiking van Randall se debuutalbum met dieselfde titel in 1980. Dié album het ’n aantal treffers opgelewer, soos “Opelugkafeetjie”, “Jonge Dupree”, “Ou sontjie sak mos weg” en “Snoektyd in die Kaap”.

Die een album wat egter hul grootste deurbraak was, was Die boerklong se baadjie staan punt in die wind, wat in 1985 vrygestel is. Hoewel “Die witbroek”, “Ghoema”, “Gantang toe”, “Apie se bruilof” en “Agt jollie kêrels” treffers was, het een snit kop en skouers bo die res uitgestaan. Die eg tradisionele “Duitsweswals” was ’n reusetreffer; dit was aanvanklik bekend as “Ek is my mamma se enigste kind”, terwyl Dawid de Lange, van wie Randall in dié liedjie gesing het, dit as “Hannatjie wals” opgeneem het. Randall en Koba se album Hartland, wat drie jaar later verskyn het, het die treffers “Graaff-Reinet”, “Riversdal se heide” en “Platteland o hartland” opgelewer. Hoewel hierdie snitte Randall se ernstige kant gewys het, het die album ook komiese snitte soos “Die hond se naam is Flaai” en “Ou sekekoenie” bevat. Dieselfde jaar het Randall met Boetie Kallis en sy orkes saamgespan vir die album Jêmkoek, waarop snitte soos “Marico se blom”, “Die darling wals” en “Olie olie van die druiwe” voorgekom het.

Randall se grootste suksesverhaal was egter seker die twee albums waarop hy toonsettings van prof. Hans du Plessis se Griekwapsalms gesing het, naamlik Hie’ neffens my en Hie’ langes my. Op eersgenoemde album het toonsettings van Psalm 42 (“Hie’ neffens my”), Psalm 84 (“Hoe lieflik is U se hys”) en “Skawagter” (Psalm 23) voorgekom en op laasgenoemde snitte soos “Boegoe vannie liefde” (Hooglied), “Wees bly” (’n toonsetting van Filippense), “God is die Woord” (Johannes 1), “Voordat ek mens was” (Psalm 139) en “Skrou hy se Naam” (Psalm 100). Albei hierdie albums het treffers geword.

Randall se liefde vir poësie het baie sterk na vore gekom op sy laaste album, Êrens is jy, wat toonsettings van Antjie Krog (die titelsnit), Eugene Marais (“Winternag”), C. Louis Leipoldt (“Wys my die plek”), Breyten Breytenbach (“Rooiborsduif”) voorkom, asook “Opelugkafeetjie”, wat hy ook op sy debuutalbum opgeneem het.

Randall se lewensverhaal is in dr. Amos van der Merwe se biografie, Kleur: my lewe, my lied, opgeteken. Randall is op 27 Desember 2015 in die ouderdom van 66 jaar aan kanker oorlede.