Jannie Herbst (1948-2020)

Francois van Heyningen (1935-2015)
September 8, 2020
Leila Reitz (1887-1959)
September 8, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Die stigter van die Suid-Afrikaanse motortydskrifte Wiel en Leisure Wheels, Jannie Herbst, is op 19 Augustus 2020, op sy 72ste verjaardag oorlede nadat hy twee weke tevore ’n beroerte gehad het.

Jannie het sy joernalistieke loopbaan in 1966 begin toe hy sy pa gehelp het om die Alberton Courier uit te gee, waarna hy hom by die Afrikaanse dagblad, Die Transvaler, aangesluit het. Hy is aangestel as redakteur van die tydskrif Die Motor, wat in 1977 sy deure gesluit het en die volgende jaar het hy die Afrikaanse motortydskrif Wiel gestig. Sy besluit om dié tydskrif te stig, is nie met groot geesdrif deur die motorbedryf begroet nie, en hy het erken dat dit ’n groot risiko was, maar hy het met groot geesdrif daarmee voortgegaan. Hy is in 1984 as die Suid-Afrikaanse Gilde vir Motorjoernaliste se eerste Joernalis van die Jaar aangewys.

Wiel het baie toekennings gewen, nie net as gevolg van vindingryke beriggewing nie, maar ook uitsonderlike fotografie. Hy het die tydskrif in 1989 verkoop, maar betrokke gebly tot 1995. Die tydskrif het meer as een keer van eienaar verwissel, totdat die laaste uitgawe in Februarie 2011 deur Ramsay Media uitgegee is. Jannie het Leisure Wheels in 1997 gestig, en in 2008 het dit ’n maandelikse publikasie geword. Hy het by die tydskrif betrokke gebly totdat hy in 2017 afgetree het.

Jannie sy bydrae tot motorjoernalistiek het ’n aantal Afrikaanse motorterme wat vandag amptelik erken word, ingesluit en in 1990 het die FAK hom erken vir sy bevordering van Afrikaans. Hy was ’n uitstekende fotograaf en sy humorsin het duidelik in sy beriggewing na vore gekom. Hy het baie gedoen om motorsport te bevorder en gereeld profiele oor bekende renjaers geplaas toe hy redakteur van Wiel was.

Hy laat sy vrou, Maryke, die suster van die Afrikaanse sangeres Carike Keuzenkamp en twee seuns, Carel en Jan, agter.