Francois van Heyningen (1935-2015)

Emgee Pretorius (1923-2007)
September 7, 2020
Jannie Herbst (1948-2020)
September 8, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Francois van Heyningen was ’n bekende Afrikaanse sanger, radio-omroeper en akteur.

Hy is op 23 Mei 1935 op die Vrystaatse dorp Theunissen gebore en het op ’n plaas in die distrik van Bultfontein grootgeword. Hy het in 1958 by die SAUK in Kaapstad as omroeper vir die Afrikaanse radiodiens begin werk en deur die jare was hy by omtrent al die radiostasies van die SAUK betrokke. Hy het ook veertien maande lank as omroeper by Radio Wêreldomroep in Hilversum gewerk. In 1969 het hy die SAUK verlaat om hom voltyds aan sy sangloopbaan, vryskutwerk en nagraadse studie te wy. Die vorige jaar het Francois sy debuut as platekunstenaar gemaak en in dieselfde jaar het die twee lede van die sangpaar Groep Twee, Gert van Tonder en Sias Reinecke vir Francois en die sangeres Lucille Ackerman aan mekaar voorgestel, waarna hulle in voorprogramme vir Groep Twee begin optree het. Lucille het die aandag van die orkesleier Hendrik Susan getrek toe sy net twintig jaar oud was en hy het haar genooi om as gaskunstenaar op te tree op ’n langspeelplaat wat hy wou opneem. Hy is kort daarna oorlede.

Francois en Lucille het al hoe meer saam begin sing, en liedjies soos “Een enkel roos”, “Lente in die ou Transvaal”, “Die laaste wals” en geestelike liedere soos “Nader my God by U”, “Kom tot die Heer” en “Aan die kruis van Golgota” opgeneem. Hulle is in 1978 getroud. Francois het Springbok Radio se dramadepartement bestuur. Hy het omtrent twaalf radiovervolgverhale geskryf, onder meer Agent nul-dubbel-nul-ag, Huis Vergeet My Nie en Kringloop van die lewe. Sy stem is in vervolgverhale soos Die banneling, Ongewenste vreemdeling, My liedjie van verlange en Uurglas gebruik, asook vir die oorgeklankte televisiereeks Die meisie van Avignon. Hy het ook rolle in rolprente soos Dr. Kalie, Die banneling, Sien jou môre en Zebra vertolk.

Francois se seun Charl het self bekendheid as akteur en sanger verwerf, terwyl Charl se dogter, Emma, onder die naam Emma van Heyn besig is om opgang as sangeres te maak. Francois is op 14 Oktober 2015 op tagtigjarige ouderdom aan longontsteking oorlede.