Sann de Lange (1913-1999)

Miems de Bruyn (1922-2010)
September 7, 2020
Emgee Pretorius (1923-2007)
September 7, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Diegene wat die beginjare van televisie beleef het, sal die komediereeks Nommer asseblief baie goed onthou.

Een van die hoofkarakters was tant Betta, gespeel deur die veteraanaktrise Sann de Lange, wie se loopbaan oor ongeveer sestig jaar gestrek het.

Gertruida Susanna Catharina de Lange is op 4 Oktober 1913 op Koster in Noordwes gebore. Sy het reeds haar debuut in 1936 op die verhoog gemaak in die toneelstuk In die mag van Tiberuis, gevolg deur Die sewe duiwels in dieselfde jaat. In 1938 was sy te sien in Die bou van ’n nasie, die tweede Afrikaanse rolprent. Van die 1960’s tot die 1980’s het sy gereeld haar verskyning in rolprente gemaak, onder meer in Oupa en die plaasnooientjie, Tom, Dirk en Herrie, Die professor en die prikkelpop, Stadig oor die klippe, Snip en Rissiepit, Ongewenste vreemdeling en Kwikstertjie. Seker haar bekendste rol as rolprentaktrise was dié van Matilda in Tant Ralie se losieshuis, wat só gewild was dat ’n opvolgrolprent, Troudag van Tant Ralie, ’n jaar later uitgereik is.

Haar eerste televisierol was in Net ’n bietjie liefde, waarin Dana Niehaus en Esmé Euvrard die hoofrolle vertolk het. Sy sal egter veral onthou word vir haar rol in Nommer asseblief. Tant Betta was die suster van Alex Heyns se karakter Servaas de Waal, en die ma van dr. Hans Jonker, vertolk deur Klaas de Boer. Die gewildheid van hierdie reeks het daartoe gelei dat twee rolprente, Nommer asseblief-die rolprent, en Verkeerde nommer, daaruit voortgespruit het. Verskeie ander televisierolle het gevolg, onder meer in die eerste reeks van Vyfster, Die rooi komplot, Ballade vir ’n enkeling en Konings. Sy het haar laaste verskyning op televisie in 1998 gemaak toe sy in Egoli-plek van goud, te sien was.

Sann is in 1937 met ’n mede-akteur, Morné Coetzer, getroud. Drie kinders, Morné (junior), Leira en Hermas, is uit die huwelik gebore. Morné is reeds in 1971 oorlede en Morné (junior) het later ’n bekende televisieaanbieder en akteur geword. Sann is op 31 Mei 1999 in die ouderdom van 85 jaar in die aftreeoord in Roodepoort waar sy gewoon het, aan hartversaking oorlede.