Die Groot Trek – Hoofstuk 3 Deel 5
Augustus 12, 2020
Casparus de Wet (1887-1959)
Augustus 17, 2020

deur Ben Raubenheimer

 

Laurika Postma is in 1903 gebore en was die vierde van tien kinders van Willem en Susanna Postma. Haar vader was ’n Dopper-dominee wat ook bekend geraak het as dr. O’Kulis. Sy woorde van wysheid is in Di Patriot gepubliseer.

Haar broers het dikwels in die veld rondgeloop en voëleiertjies uit nessies gehaal en Laurika het saamgegaan. Toe sy egter eendag in ’n voëlnes loer en die pragtige blou spikkeleiertjies so saamgenestel in die rustigheid van die nessie sien lê, het die werklikheid van die skepping onmiddellik haar gemoed geraak en ’n weersin in haar aandeel het in haar binneste opgewel – sy sou nooit weer voëleiertjies uit ’n nessie kon neem nie. Sy het bewus geraak van die volmaaktheid van die natuur, het die hand van die Skepper daarin gesien en in die lewe wat verborge in die perfekte ronding van die eiers lê, die begin van die ontstaan van die heelal.

Op Ladybrand het Laurika soggens vroeg opgestaan en vir haar ’n rushoekie in die tuin gaan soek waar sy met oorgawe na die gekoer van die tortelduiwe geluister het. Die geluide van die natuur was vir haar die pragtigste musiek en sy kon verstaan hoe haar pa hom tot die Here kon wend, hoe hy sy stem tot die eer van God kon verhef. Die geloof het vir haar ’n werklikheid geword, ’n deel van die alledaagse lewe, ’n opheffing van die siel en wese na iets groter as die nietigheid van die mens self.

Sy het smiddae kuns- en musieklesse geneem, maar haar potloodsketse was so goed dat die onderwysers gesê het dat hulle haar niks meer kon leer nie. Sy het ’n sterk aanvoeling vir kuns gehad, maar beslis ontevrede gevoel met haar prestasie om goeie en bedrewe potloodsketse te maak.

Laurika het van haar twaalfde jaar af haar eie klere gemaak en, namate sy ouer geword het, het sy ook vir haar jonger sussies naaldwerk gedoen. Sy het in verskeie fasette ontluik en was met so baie talente bedeeld dat sy nie geweet het wat sy eintlik wou doen nie.

Net soos die ander Postma-kinders het Laurika die lewe, die skepping van God, liefgehad. Die lewe was ’n avontuur, ’n ervaring waarin mens op God vertrou en dag vir dag jou kragte inspan om die werk wat God jou voor die hande gelê het, so goed moontlik af te handel. Alle mense moes vir hul bestaan werk en eers nadat die werk afgehandel was, kon hulle dié dinge doen wat hulle die naaste aan die hart gelê het: kuns, musiek en lees.

Na haar pa se dood in 1920 was die gesin skielik brandarm en kon Laurika verdere studie glad nie oorweeg nie. Sy het by ’n tante in Bloemfontein gaan bly en binne drie maande haar tik- en snelskrifeksamen afgelê. Sy het ’n pos by ’n prokureursfirma gekry maar dit glad nie geniet nie. Die volgende jaar het sy ’n tiksterspos by die Grey Universiteitskollege gekry teen die koninklike bedrag van £7 per maand. Sy het smiddae na werk ekstra kunsklasse geloop, maar is spoedig meegedeel dat hulle haar niks meer kon leer nie.

Laurika het vasberade gedroom oor ’n toekoms wat haar die geleentheid sou bied om kuns voltyds oorsee te bestudeer. Toe sy hoor dat haar een neef ’n beurs gekry het en met ’n Duitse boot na Holland vertrek, het sy besef dat dit ’n kans is wat sy nie maklik weer sou kry nie – om saam na Europa te reis. Sy het haar planne aan haar familie voorgelê en almal was bereid om haar te ondersteun mits sy die geld in die hande kon kry om vir die reis te betaal.

Die registrateur van Grey Universiteitskollege het voorgestel dat hulle ’n sekere Graaf von Dürchheim, self ’n professor en aan ’n universiteit verbonde, nader. Hy was met ’n prinses getroud en het in Kiel gewoon. Hulle het Laurika hartlik uitgenooi om na hulle te kom en haar aangeraai om kuns in Berlyn te gaan studeer. Die registrateur het besluit om haar ’n jaar onbetaalde verlof te gee mits sy belowe dat sy dan na haar werk sou terugkeer.

‘n Voorbeeld van Laurika Postma se sketse. Dit is deel van ‘n reeks wat ‘n dogtertjie uitbeeld wat klavier speel.

Met al haar spaargeld wat sy bymekaar kon skraap, ’n tas vol klere en ’n folio van al haar beste teken- en skilderwerk het sy vroeg in 1935 saam met haar neef Willem Snyman per skip na Duitsland vertrek. Sy is soos ’n adellike ontvang deur die baron en sy vrou en hulle het haar na Berlyn gestuur. Daar is sy vriendelik ontvang deur ’n vriendin van die Von Dürchheims, ’n barones wat ook ’n skilderes was. Die barones het haar voorgestel aan die bekende beeldhoudster Milly Steger, wat na haar werk gekyk het wat sy saamgebring het. Toe Milly die foto’s sien van die beeldjies wat Laurika as vyftienjarige dogter gemaak het, het sy die mening uitgespreek dat Laurika nie ’n kunsskilder is nie, maar wel ’n beeldhouer. Sy nooi haar toe uit na haar ateljee om na haar beeldhouwerk te besigtig. En hier het Laurika besluit om haar op die beeldhoukuns toe te spits. Milly het Laurika dadelik as student aangeneem.

Laurika het ook baie ure in die Pergamon-museum deurgebring waar sy na hartelus studiesketse gemaak het. Sy het private opdragte gekry wat sy van die hand gewys het omdat sy haar daarop wou toelê om te leer. Sy het dan ook anatomie- en beeldhoulesse by die skilder Ernst Balz gaan loop. Sy het ook te doen gekry met beroemde kunstenaars soos Gustav Schroeter, Helmut Ammann en Aschenborn, wat haar op een of ander wyse beïnvloed het.

Sy sou toegelaat word as kunsstudent aan die Akademie vir Beeldende Kunste in München indien sy die nodige toelatingseksamen kon slaag. Deur die toedoen van Ammann is sy toegelaat om van die beeldhou-ateljee van die Adedemie gebruik te maak en sy het met mening begin aan die leervakke vir haar toelatingseksamen. Haar jaar verlof het verstryk net nadat sy dit voltooi het en sy is terug Suid-Afrika toe soos sy belowe het, waar sy haar werk hervat het.

Sy het in ’n ruim kamer bo-op ’n winkel vir haarself ’n gerieflike werk- en slaapplek ingeruim, waar sy na werk beelde gemaak het. Vriende en familie het kom kuier om haar werk te bewonder en in verwondering te luister hoe sy binne ’n jaar vir haar naam gemaak het in Europa.

Hier is Laurika tussen ‘n paar van die beelde wat sy gemaak het.

Sy het haar eerste betalende opdrag van die kerk gekry – ’n borsbeeld van ds. JD Kestell (die beroemde Vader Kestell) – en die geld is dadelik gespaar vir die dag wat sy na Europa sou teruggaan om kuns te gaan studeer. Daaropvolgende opdragte het ingesluit borsbeelde van oudpresident MT Steyn, van haar vader dr. Willem Postma, vir die Hoërskool Willem Postma en van oudpresident Josias Hoffmann.

Toe sy van die Oranje-Meisieskool in Bloemfontein die groot opdrag kry om ’n Voortrekkermeisie te maak, en sy besef dat dit die eerste monument in die land sou wees wat deur ’n vrouekunstenaar ter ere van ’n meisie gemaak sou word, het sy onmiddellik besluit dat sy dit net in München kon maak waar al die fasiliteite was om die beeld in brons te giet nadat dit in klei gemodelleer is. Niks kon haar keer nie: dit moes ’n voorstelling wees van ’n meisie wat moedig voorwaarts stap en vasberade, kop omhoog, die toekoms tegemoet gaan, met haar voete in velskoene, stewig op Afrikaanse bodem geplant.

Haar studiefonds is aangevul deur lenings van ’n paar vriende en familielede en was voldoende nadat sy haar pensioengeld onttrek het. Sy is in 1938 terug München toe waar sy as student aan die Akademie geregistreer het. Sy het onder prof. Bernhard Bleeker, skepper van die bekende Duitse “Onbekende soldaat”, studeer, wat alles in sy vermoë gedoen het om haar studies te bevorder.

Voordat Laurika die beeld van die Voortrekkermeisie kon voltooi, breek die oorlog uit en sy ontvang opdrag uit Suid-Afrika dat sy haar studies in Duitsland moes staak en terugkeer huis toe. In Den Haag hoor sy dat sy eers oor twee maande ’n passaat na Suid-Afrika kon kry en skryf dadelik in by prof. Ingen Hourzt om die hamer-en-beitel-tegniek te bestudeer. Na ’n maand het sy ingeskryf by die Akademie in Brussel en onder prof. Jespers interessante kliptegnieke en -metodes bemeester.

Sy het in haar leeftyd daarin geslaag om haar volk daadwerklik te dien deur haar gevoelvolle uitbeeldings van volkskarakter en kultuur. Sodoende het sy gehelp om haar volk se agterstand op die gebied van die beeldende kunste in te haal en op gelyke voet te stel met die beste wat deur Europa opgelewer is. As toegewyde kunstenares het sy ons inheemse beeldhoukuns tydens ’n kritieke tydperk van ons geskiedenis doelbewus bevorder.

Hierdie paneel beeld die moord by Bloukrans uit

In Oktober 1940 het die Sentrale Volksmonumentekomitee vier kunstenaars aangestel om die geskiedkundige panele vir die Voortrekkermonument te maak: Laurika Postma, Hennie Potgieter, FJ Kruger en dr. P Kirchhoff. Laurika was verantwoordelik vir die ontwerp en modelleer van agt van die panele, nl. Die moord op Dingaan, Dirkie Uys, Debora Retief, Die aankoms van Pretorius, Die gelofte van Celliers, Die moedelose mans, Bloukrans en Marthinus Oosthuizen se heldedaad. Nadat die modelle in hul uiteindelike, werklike grootte voltooi is, moes hulle na Italië gestuur word om in marmer uitgekap te word deur een van die grootste moderne beeldhouers, prof. Romano Romanelli van Florence. Laurika en Hennie Potgieter is na Italië gestuur om toesig te hou en te verseker dat geen onafrikaanse elemente in die werk insluip nie. Die finale marmerkapwerk sou dan ook deur Laurika en Hennie gedoen word.

Hulle het in Desember 1947 na Italië vertrek. Die aflewering van marmer is soms vertraag en dan het die Afrikaners studietoere deur verskeie lande op eie onkoste onderneem. In 1948 is Laurika se wens om deur Noorweë en Swede te toer, verwesenlik. Aan die einde van 1948 het die Afrikaners teruggekeer na Suid-Afrika en ’n jaar later is Laurika se eerste tentoonstelling van beeldhouwerk in Pretoria geopen deur prof. dr. HM van der Westhuisen, wat met groot lof van haar werk gepraat het.

Laurika het opdrag van die kerk gekry vir die kinderhelde van Suid-Afrika vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Sondagskoolgebou in Bloemfontein – wat beslis as die hoogtepunt van haar loopbaan beskou kan word. Die agt panele van die kinderhelde is ’n reeks sensitiewe uitbeeldings, reliëfpanele ná aan die hart en smart van die volk.

Afgesien van ander beeldhouwerk, het Laurika haar laaste groot werk in Pretoria geskep. Dit was die standbeeld van Paul Kruger, twee maal lewensgrootte en op ’n voetstuk van 3.4 meter, wat in Pretoriuspark te Krugersdorp opgerig is. Met die woorde van Jan FE Celliers in gedagte: “Soos ’n berg ongebuk, Breed bonkig van stuk, dis hy!” stel sy hom voor soos hy in die fleur van sy lewe, toe hy die eerste keer president geword het, gelyk het.

Toe Laurika in die latere jare van haar lewe weens swak gesondheid nie meer beeldhouwerk kon doen nie, het sy haar weer tot die verfkwas gewend en pragtige stillewes en blomstudies geskilder.

Sy is op sestigjarige ouderdom na Parys vir ’n opknappingskursus. Terug in Suid-Afrika sluit sy haar aan by haar suster Sophie in ’n woonstel in Sunnyside.

Laurika het ’n baie vol en produktiewe lewe gelei en haar bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns is in Junie 1975 op gepaste wyse erken toe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n Besondere Erepenning aan haar toegeken het.

 

 

Laurika Postma ontvang die erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

BRONNE
1. Laurika Postma, ’n biografie deur Naka Pilman
2. Man en Monument, die lewe en werk van Gerard Moerdijk deur Irma Vermeulen