Die Groot Trek – Hoofstuk 3 Deel 2

Volkskuns van die Boerekrygsgevangenes
Julie 23, 2020
Die geboorteplek van President Paul Kruger en die Steynsburg Museum
Julie 30, 2020

Sarel Feldtmann

Oosgrensboere (vervolg)

Die begin van die Oosgrensoorloë

Die Kaapkoloniegrens het verder oos verskuif en die boere wat naby die grens gewoon het, is mettertyd “grensboere” genoem. Daar was vir baie jare ’n stryd aan die Oosgrens van die Kaapkolonie weens wedersydse besetting van grond deur die Trekboere en die AmaXhosa, wat aanleiding gegee het tot nege grensoorloë, waarvan die eerste plaasgevind het in 1779 en die laaste een het geduur van 1850 tot 1853.

Net soos wat die Trekboere weiding en water vir hul troppe vee gesoek het, so het die AmaXhosa ook dieselfde gedoen. Die Trekboere het noordwaarts beweeg en die AmaXhosa suid. Die area waar hulle ontmoet het met die wedersydse uitbreidings was in die omgewing van die Visrivier.

Die eerste merinoskape word ingevoer

In 1789 word die eerste merinoskape waarvan die oorsprong in Spanje is, van Nederland af ingevoer. Dit is die begin van die winsgewende wolbedryf in die Kaapkolonie. Dit is ook ’n belangrike rede vir die gevolg van gevegte vir die inheemse bevolking, aangesien die setlaars se merinoboere meer weiveld eis vir hul troppe skape. Groot getalle AmaXhosa vestig hulle wes van die grens en veediefstal deur rowerbendes verhoog die angs by die boere. Aanvalle deur die San bly die grootste gevaar vir jagters en boere.

Die Tweede Oosgrensoorlog (1790-1793)

In 1790 begin die Tweede Grensoorlog nadat burgerkommando’s van die Graaff-Reinet-gebied die AmaXhosa-kapteinskappe oorkant die Visrivier gedwing het om die vee wat deur rooftogte gesteel was terug te besorg aan die boere. Die burgers is van mening dat hulle nie vee buit nie, maar slegs die vee wat aan hulle behoort, teruggeneem het. Die oorlog eindig drie jaar later in ’n wapenstilstand en die eis van die burgers vir meer grond was nie bevredig nie.

Drie nuwe sendelinge begin om Genadendal weer op dreef te kry

In 1791 het die burgers se eis dat die slawehandel oopgestel moes word vir private ondernemings geslaag.

Drie geordende Morawiese sendelinge, Hendrik Marsveld, Daniel Schwinn en Christian Kuehnel, arriveer by Baviaanskloof (Genadendal) in 1792 om die werk wat George Schmidt in 1737 begin het, te laat herleef. Die sendelinge vind ’n bejaarde vrou met die naam van Lena, wat ’n lid was van die oorspronklike gemeente van Schmidt. Die vier mense bou saam weer die sendingstasie op.

’n Nuwe landdros word in Graaff-Reinet aangestel

In Mei 1793 word Honoratus Christiaan David Maynier aangestel as die landdros van Graaff-Reinet. Grensboere, wat deur drie groepe, die AmaXhosa, Khoi-Khoin en San, bedreig word, word verbied om veediewe op advies van Honoratus Maynier te agtervolg.

Die São José strand by Kampsbaai met 500 slawe aan boord

Die Portugese slaweskip die São José Paquete Africa het in 1794 by Kampsbaai op die rotse geloop. Die kaptein en bemanning het almal oorleef, maar na raming het 212 van die 500 slawe wat aan boord agtergelaat is, verdrink, waarskynlik nog vasgeboei in hul boeie toe die skip gesink het.

Die Portugese slaweskip was op pad na die suikerplantasies in Brasilië, met hul menslike vrag onder die dek en wat aangehou was onder gruwelike omstandighede. Die slawe is gevange geneem in Mosambiek en aan boord van die skip by die Portugese hawe in Oos-Afrika (nou Ilha de Mozambique) geboender.

Toe die skip op die rotse geloop het, kon ’n hele aantal van die slawe gered word, maar slegs om weer in die Kaap verkoop te word. Die res kon nie gered word nie. Die skip het begin opbreek, en almal nog aan boord het verdrink saam met die sinkende skip.

Die wrak is in die tagtigerjare deur duikers ontdek, hoewel dit aanvanklik vir ’n Nederlandse handelskip verkeerdelik geïdentifiseer was. Die ware toedrag van sake van die ontdekking is eers in 2015 bekend gemaak, en ’n gedenkdiens is op Cliftonstrand gehou waartydens grond uit die slagoffers se vaderland in Mosambiek deur duikers op die wrakterrein gestrooi is.

’n Interessante feit oor die ontdekking van die São José Paquete Africa is uniek, omdat dit die enigste wrak is van ’n slaweskip wat tot hede ontdek is wat saam met sy gevangenes aan boord gesink het.

Ligging van die wrak is sowat 100 meter van die strand van Clifton af op ’n baie onstuimige plek wat duikers vergelyk met “om in ’n wasmasjien te swem”. Artikels wat van die wrak herwin is, sal binnekort in die Iziko Slave Lodge Museum te sien wees, en sommige artikels is aan die Smithsonian National Museum of African American History in Washington DC uitgeleen.

Die opstand van die burgers in Graaff-Reinet

Honoratius Maynier (wat Graaff-Reinet toe gestuur is om landdros, Moritz HO Woeke by te staan) was geneig om die meeste skuld vir alles wat aan die grens verkeerd geloop het, op die skouers van die grensboere te pak. Tog was hy ten gunste daarvan dat daar so min kontak as moontlik tussen wit en swart mense moes wees, en dat die Visrivier die definitiewe grens moes bly. Maar oor die toepassing van so ’n beleid was daar ’n groot verskil.

Die boere, wat blootgestel was aan die rooftogte van anderkant die grens, wou ’n ferme optrede hê, terwyl Maynier ’n vreedsame beleid van mooipraat en geskenke uitdeel wou volg. Hy het in sy brief aan die goewerneur artikels soos krale, messe, spieëls, koperdraad vir armringe, tabak, tonteldose, yster en vuurstene gevra om dit onder die swart mense uit te deel.

Al wat die grensboere verlang het, was behoorlike beskerming teen hul aanvallers. Maar hulle het al hoe meer besef dat daar van die afgeleefde ou Kompanjie geen heil te wagte was nie. Buitendien het een stuk nuus uit Europa op hulle indruk gemaak: die Franse Revolusie. Die grensboere het waarskynlik geredeneer dat as ander volke die reg het om van onpopulêre regerings ontslae te raak soos in Frankryk gebeur het, ook hulle daardie reg het. Buitendien het die wanbestuur veral een saak geraak waaroor elke volk en enkeling sterk voel, naamlik die beskerming van private eiendom.

In 1794 het die ontevredenheid, bitterheid en opstandigheid in Graaff-Reinet groter geword. Op 29 Januarie 1795 het ’n aantal burgers onder Adriaan van Jaarsveld naby Graaff-Reinet bymekaar gekom en ’n dokument opgestel waarin hulle verklaar het dat dit Maynier se oogmerk was om “het volk” die “spaanschen juk weder op te setten”. Dit was ’n verwysing na hul Nederlandse voorsate wat nie bereid was om onder die Spaanse juk te staan nie. Hulle het geëis dat Maynier en “zijn ontaarde cabale” van hul gesag sou afstand doen en padgee. Op 6 Februarie het die ondertekenaars die eis aan Maynier bekend gemaak, en is hy na die Kaap, terwyl die administrasie deur sy sekretaris voortgesit is.

Die antwoord wat die Graaff-Reinetters van die Kaap gekry het, het hulle nie tevrede gestel nie, en op 16 Junie 1795 het sowat 200 gewapende manne voor die landdroshof verskyn en die bestuur oorgeneem. Die Graaff-Reinetters het egter nie die eerste Afrikaanse “republiek” gestig, soos soms in later jare beweer is nie. Hulle wou nie onder die gesag van die Kompanjie staan nie, wel van Nederland.

Die burgers van Graaff-Reinet kom in opstand in 1795 en raak ontslae van die landdros, dit was weens sy onvermoë om die grensprobleme met die AmaXhosa en die San op te los. Maynier word weggejaag, volgens sommige geskiedkundiges en skaar hulle by die siening van die burgers, dat Mainier en die Kaapse Regering, nie na die eise van die burgers wou luister nie, en om hulle te beskerm teen die strooptogte en aanvalle van die San en AmaXhosa nie en dat hulle bekommerd was oor die armoede en ellende waarin baie van hulle verval het as gevolg van die beleid van die maatskappy (VOC). Hulle verloor hul kortstondige “onafhanklikheid” omdat hul nedersetting ekonomies nie lewensvatbaar is sonder die steun van die Kaapse VOC-regering nie, en die Rebellie word onderdruk met geweld.

Die VOC-bewind aan die Kaap kom tot ’n einde (1795)

Met die eerste Britse besetting van die Kaap (1795-1803) kom die bewind van die VOC daar tot ’n einde. Generaal J Craig word as bevelvoerder aangestel.

Na die oorname van die Kaap de Goede Hoop vervang Britse geweld die tirannie van die VOC. Die gewelddadige Britte het na die Slag van Muizenberg in 1795 die beheer van die Kaap oorgeneem en die tirannie van die VOC-bewind voortgesit. Trouens, die onsimpatieke Britte het die onderdrukkende gewelddadigheid jeens die Duitse en Hugenote burgery inderdaad verskerp. Hierdie stap het die grensboere nog meer ongelukkig gemaak.

In 1798 het die VOC in Nederland finaal sy deure toegemaak en ontbind.

Die tweede opstand van die burgers in Graaff-Reinet

Die dorp se stigting was vroeg in ’n wisselvallige tydperk in die Kaap se geskiedenis. In die volgende twintig jaar was daar vier regerings in die kolonie – eers die Nederlanders, wat deur die Britte opgevolg is, daarna weereens die Nederlandse Bataviërs en in 1806 weer die Britte. Die onafhanklike “Colonie van Graaff-Reinet”, wat in 1795 uitgeroep is (soms verkeerdelik die Republiek van Graaff-Reinet genoem), is ’n kortstondige episode in die dorp se geskiedenis.

Die distrik van Swellendam het ’n soortgelyke rebellie ondervind. Die opstand is onderdruk na die eerste besetting van die Kaapkolonie deur die Britte (1795-1803) kort na die Graaff-Reinetse “onafhanklikheidsverklaring”.

In 1799 was daar ’n tweede rebellie nadat Adriaan van Jaarsveld gearresteer is vir bedrog. Adriaan van Jaarsveld was oorspronklik die kommandant van die boere in die distrik en later leier van die onafhanklike Colonie van Graaff-Reinet in 1795. Die eerste Graaff-Reinet-inwoner wat in die tronk in die Kasteel in Kaapstad gesterf het.

Die Derde Oos-Grensoorlog (1799-1802)

Van 1799 tot 1802 werk die Khoi, die San en die AmaXhosa saam, en kom in opstand in ’n onsuksesvolle, maar uitgerekte opstand in die oostelike distrikte van die Kaap, wat bekend staan ​​as die Derde Grensoorlog.