Volkskuns van die Boerekrygsgevangenes

Die Groot Trek – Hoofstuk 3 Deel 1
Julie 21, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 3 Deel 2
Julie 27, 2020

deur Ben Raubenheimer, met spesiale erkenning aan Dawie Jansen

Die handwerk wat deur Boerekrygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog in kampe in verskeie wêrelddele gemaak is, vorm ’n unieke en besonder interessante bydrae tot volkskuns in Suid-Afrika. Die Boerekrygsgevangenes is eers in kampe in Suid-Afrika gevange gehou, soos by Ladysmith, Simonstad en Groenpunt in Kaapstad, maar later is hulle na kampe in ander dele van die Britse ryk gestuur, soos die Bermuda-eilande, die eiland St. Helena, Indië en Ceylon (die huidige Sri Lanka). Teen die einde van die oorlog was daar ongeveer 27 000 Boerekrygsgevangenes in kampe gehuisves.

Die grootste probleem waarmee die krygsgevangenes te doen gehad het, was om die lang, ledige ure mee te verwyl en om die verlange na hul vaderland en geliefdes te stil. Pionierseienskappe soos aanpassingsvermoë, vindingrykheid en berusting het hulle goed te pas gekom. Daar het gevolglik verskeie bedrywighede in die kampe ontstaan, soos godsdienstige byeenkomste, sportbeoefening, konserte waar musiek gemaak en toneelstukke opgevoer is, debatsaande, die uitgee van kampkoerante en allerlei soorte handewerk. Dit klink vreemd, maar die Boere is toegelaat om sakmesse te besit. Veral die “Joseph Rodgers” uit Sheffield, Engeland, was ’n baie gewilde mes. ’n Man het sy knipmes goed opgepas, op ’n spesiale slypklip of slypplank geslyp en dit nie uitgeleen nie.

CR Kotzé, wat sy ondervindings as Boerekrygsgevangene opgeteken het, gee ’n lewendige beskrywing van die handwerkindustrie op die eiland St. Helena. Hy sê die Boere het begin om aan hulle “Bully-beef” blikkies en melkblikkies te slaan en te sny totdat hulle op ’n manier koppies en bekers geword het. Ander woel met die knipmes aan die houtkiste waarin die “Bully-beef” en melk vervoer is en maak rakkies, dosies en staandertjies. Dit was vir die Engelse offisiere en eilandbewoners wonderlik dat die Boere ook iets kon produseer. Hulle het dit by die Boere gekoop en aan hulle vriende en geliefdes gestuur, wat so baie van “The Boers” in koerante gelees het.

Die krygsgevangenes is soms vir kort rukkies op parool vrygelaat en dan het hulle oral rondgesoek vir stukkies draad, yster en hout. Van die stokke het hulle wandelstokke gemaak. Sommige Boere het klein slangdosies gemaak, waar die kromnekslang uitkom en pik op die vinger wat die deksel oopskuif. Ander het pragtige portretrame, pype, kandelare, hartvormige

Slangdosies

dosies met ’n geheime opening, kissies van allerlei groottes, soms met een of albei die wapens van Transvaal en Vrystaat netjies op die deksel uitgesny. Sommige Boere slaan en sny halfkrone en pennies tot medaljes, met die Republikeinse wapens of die presidente se beelde daarop.

’n Ene Jooste het ’n windmeul aan die hoek van sy huis vasgemaak en dit met ’n draaibank in die huis verbind. Sommer gou is sy voorbeeld gevolg en was daar ses sulke windmeulens verbind aan draaibanke. Die Boerekrygsgevangenes het van hout, horings en bene die mooiste ringe, penstele, slaaimesse en vurke, servetringe en borsspelde vervaardig. Hulle het ook glase, kelkies en eierkelkies met staanders van horings gemaak. Die horingpunte kom onder aan die punte van wandelstokke en met stukkies been is wapens en Presidentsbeelde in kissies se deksels ingelê. Uit die geraamte van ’n walvis wat hulle op die eiland gekry het, het hulle snuifdosies en poeierdosies gemaak.

Die woorde “Krygsgevangenschap, St. Helena” is sonder uitsondering op alle produkte wat hulle vervaardig het, uitgesny. Van die penhouers wat op die draaibank gemaak is, is met kerfwerk versier. Bekende volkskunsmotiewe soos harte, ankers, perdeskoene, voëls en wilde diere is gebruik. Die geskiedskrywer Gustav Preller, wat in Indië krygsgevangene was, het in sy dagboek geskryf dat die gewildste ontwerpe ’n hartjie of dubbele hartjies met ’n pyl daardeur was en van een of ander spreuk voorsien, die Transvaalse en Vrystaatse wapen, arende met uitgespreide vlerke, leeukoppe en die perd.

Voorbeelde van die volkskuns van die Boerekrygsgevangenes

Juwele

Die verlange na geliefdes ver in die vaderland het gelei tot die maak van liefdesgeskenke. Die Boere het uit been, horing, hout, klip en selfs perdesterthare juweliersware soos ringe, borsspelde, armbande, halssnoere en hangertjies gemaak. In die borsspelde is die naam van ’n geliefde soms ongelooflik fyn en netjies uitgesny, terwyl ou volkssimbole soos die hart, anker, perdeskoen, groetende hande en duiwe gebruik is.

 

 

Kieries

Daar was ’n groot aanvraag na kieries, daarom is daar baie kieries vervaardig. Krom stokke is oor die vuur reguit gebuig en knoetse as versiering gebruik. Die handvatsels is op allerhande maniere versier met motiewe soos honde-, bees-, perde- en slangkoppe, wildsbokke en perdepote. Die motiewe het soms simboliese betekenis gehad, soos ’n eier (wat die Boererepublieke simboliseer) wat deur ’n slang (wat Brittanje simboliseer) ingesluk word, of ’n eier (Boererepublieke) wat deur ’n klou (Brittanje) vermorsel word.

 

 

Kissies

Die Boerekrygsgevangenes het graag kissies vir hul verloofdes of eggenotes gemaak. Omdat goeie hout skaars was, was die kissies gewoonlik klein. Die name of voorletters van die skenker en ontvanger kom feitlik sonder uitsondering op die kissies voor. Soos op alle liefdesgeskenke was daar ’n voorliefde vir die hart as motief. Ander gewilde motiewe op kissies was die wapens van die Boererepublieke en die gesigte van oorlogshelde soos presidente Kruger en Steyn en Boeregeneraals soos genl. De Wet.

 

 

Portretrame

Portretrame was van die gewildste aandenkings wat deur krygsgevangenes gemaak is. Een rede daarvoor was dat smal stukkies hout daarvoor gebruik kon word, maar waarskynlik het dit ontstaan uit ’n begeerte om foto’s van geliefdes en familie te kon raam. Daar het gou ’n aanvraag na rame ontstaan. Die meeste rame is reghoekig en met eenvoudige geometriese kerfwerk versier, soos hieronder. Op ’n besonder dekoratiewe raam met plek vir drie foto’s, is ’n lewensboom in ’n pot uitgekrap en wit gekleur.

 

 

Pikturale volkskuns

Daar was ook verskeie kunstenaars en amateurkunstenaars onder die krygsgevangenes, soos Erich Mayer, wat op St. Helena gevange gehou is, en die amateurkunstenaar Friedrich Erns Otto Mörs, wat voor die oorlog ’n boekbinder by die Staatsdrukkery in Pretoria was. Van hom het ’n pragtige, in leer gebinde en versierde album bewaar gebly het. Die titel van die album is “Uit mijn Krijgsgevangeneschap op Ceylon 1900 – 1902”. Hieronder is ’n afskrif van die album se eerste bladsy.

Die palmtak is ’n simbool van roem en oorwinning.

Die ou gewoonte om nuwejaarskaartjies aan geliefdes te gee, is ook onder die krygsgevangenes voortgesit.

Verskeie dagboekies van krygsgevangenes het behoue gebly.

Weens die toenemende verstedeliking en industrialisasie in die twintigste eeu het volkskuns in Suid-Afrika, soos dit in die negentiende eeu beoefen is, net soos in Europa en Amerika gekwyn, hoewel dit in afgeleë dele van die land nog vir enkele dekades lank beoefen is.

 

Bronne
1. Die geskiedenis van Volkskuns in Suid-Afrika deur J. Celestine Pretorius
2. Boer war memorabilia, The collectors’ guide deur Pieter Oosthuizen