Die Groot Trek – Hoofstuk 2 Deel 3

Wena Naudé (1905-1978)
Julie 13, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 3 Deel 1
Julie 21, 2020

Sarel Feldtmann

Trekboere (vervolg)

In die nag is die vee na ’n veilige plek geneem

Die boere het altyd na die beste weiding of water in die veld getrek, dan hier en dan daar. In die nag is die vee na ’n veilige bestemming of kraal geneem waar daar beskerming was teen wilde diere. Daar is dan ook dikwels ’n hutjie van gras of takke gemaak waar twee of drie veewagters veilig kon oornag.

Veeposte word meer gereeld bewoon

Met verloop van tyd is daar egter veeposte opgerig wat min of meer gereeld bewoon is. Dit het nou saamgehang met die omstandigheid dat veeboere wat nie eiendomsgrond besit het nie, langsamerhand ook van weilisensies begin gebruik maak het.

Reeds in 1706 was daar onder die lisensiehouers van daardie jaar ’n aantal boere wat geen vaste woonplekke besit het nie en op die basis van tydelike weilisensies geboer het.

Leningsplaasbewoners sonder eiendomsgrond

Elke jaar het hierdie klas lisensiehouer toegeneem en teen die einde van die agtiende eeu was die oorgrote meerderheid leningsplaasbewoners mense wat nie eiendomsgrond besit het nie. Na gelang die weilisensie mettertyd die uitsluitlike basis van die ekstensiewe veeboerdery geword het, het daar ook meer permanentheid in die gebruik van die veepos gekom.

Die veepos was nou nie meer bloot ’n tydelike aanvulling van die eiendomsplaas nie, maar dit moes in ’n permanente behoefte aan weiveld voorsien, aangesien die ekstensiewe veeboer sy vee pal in die binneland moes laat bly.

Die hernuwing van weilisensies

Gevolglik het heel gou die gebruik ontstaan om weilisensies te hernu. In 1706, toe weilisensies nog maar meestal vir ses maande uitgereik is, vind ons byvoorbeeld dat 16 uit die 44 weilisensies in dieselfde jaar weer hernu word. Selfs boere wat dwarsdeur die jaar op die basis van tydelike weilisensies wat gereeld hernu is, geboer het, sou natuurlik nog dikwels met hul vee getrek het.

Tog sou daar langsamerhand by hulle die begeerte ontstaan het om vaste familiewoonplekke te hê waarheen hulle altyd weer kon terugkeer. Dit het selfs al onder die rekbare stelsel van weilisensies daartoe aanleiding gegee dat bepaalde punte min of meer gereeld bewoon is, en op hierdie manier het die veepos in die veld met verloop van tyd die blywende woning van baie boerefamilies geword.

Boere begin hul veeposte ontwikkel

’n Ander faktor wat die gereelde bewoning van veeposte in die hand gewerk het, was die feit dat boere dit mettertyd begin bebou het. Reeds voordat die boere nog ’n begin gemaak het met die gebruik om weilisensies uit te neem, het hulle al op die veeposte wat hulle op eie houtjie in die binneland opgerig het, “huisen, hokken en coralen” gebou.

Die behoefte hieraan was natuurlik groter by die trekboer, wat nie eiendomsgrond besit het nie as by die gevestigde landbouer wat ’n vaste woonplek in bewoonde streke gehad het. Sodra ’n boer verbeterings op ’n veepos aangebring het, het dit meer aanleiding gegee om gereeld daarheen terug te keer, al het hy dit af en toe tydelik verlaat.

’n Boer moes spesiaal toestemming kry om op ’n veepos te saai

Ook het trekboere – en waarskynlik veral diegene wat nie eiendomsgrond besit het nie – al gou ’n neiging openbaar om hul veeposte te bewerk en om darem ten minste hul eie broodkoring te wen. Die reg om op ’n veepos te saai, het aanvanklik nie vanself uit die weilisensie voortgevloei nie. As ’n boer die grond wou bewerk, dan moes hy spesiaal verlof daarvoor aanvra.

Bewerking van veeposte bring meer bestendigheid

Dit is af en toe uitdruklik in die weilisensie vermeld en soms is daar selfs gesê hoeveel sakke graan gesaai mag word. Maar na gelang meer en meer boere sonder eiendomsgrond begin het om die veeposte te bewerk as vanselfsprekend beskou en is dit nie meer spesiaal in die weilisensie vermeld nie. Boere wat wou saai en plant kon egter nie al te veel rondswerwe nie, en dus moes die bewerking van veeposte meer bestendigheid in die bewoning daarvan gebring het.

Grond met goeie water het ’n permanente pos geword

As ’n boer grond ontdek het met goeie water, was dit voldoende aanleiding om daar ’n permanente pos op te rig waarheen hy gereeld kon terugkeer. Die belangrikheid van hierdie faktor het al hoe groter geword namate die veeboere dieper en dieper die binneland ingetrek het.

Plase word name gegee waaronder dit bekend sou staan

Gaandeweg het dit ’n vasstaande gewoonte geword om aan elke afsonderlike lisensiehouer ’n definitiewe plek aan te wys waarop hy met sy vee kon gaan wei. Heel vroeg in die agtiende eeu het dit ’n gewoonte geword om vir die betrokke plek ’n naam te gee waaronder dit in die toekoms by die regering en publiek bekend sou staan.

Hierdeur was dit moontlik om later uit te vind waar ’n bepaalde lisensiehouer met sy vee gestaan het, asook om te verhoed dat die regering onwetend aan ’n boer die reg gee om ’n veepos te gebruik wat nog deur iemand anders bewoon was.

Boer sit ’n baken op waar hy sy opstal wil hê

Die boer wat weiregte vir sy vee wou hê, het gewoonlik self die plek uitgesoek waar hy sy opstal wou aanlê. Later het dit gewoonte geword om sodra iemand ’n geskikte plek vir ’n opstal gevind het, daar ’n baken op te rig om sy bedoeling aan die ander boere bekend te maak. Dit is dan as die boer se uitganspunt van sy weiregte beskou.

As ’n Boer sy opstal wou skuif, moes hy die Landdros in kennis stel

Indien die boer sy opstal later wou verskuif, moes hy die landdros daarvan in kennis stel. Hierdie verandering is dan opgeteken sodat dit moontlik was om later die plek te vind indien daar onsekerheid in die verband met die weiregte van die betrokke lisensiehouer ontstaan het.

Uitsluitlike weiregte om ’n permanente veepos

Sodra ’n boer ’n veepos begin bebou en bewerk het, is dit ook te begryp dat hy begerig sou word om rondom daardie punt uitsluitlike weiregte te verkry.

As hy nie die reg gehad het om ander boere uit die omgewing van sy opstal weg te hou nie, kon indringers deur die weiveld te laat opvreet, hom verplig om na ’n ander omgewing te trek, waar hy dan opnuut ’n huis sou moes bou of in sy watent moes woon, terwyl sy koring miskien nog op die land gestaan het.

Die stelsel van gemene weiding raak uitgedien

Namate die bevolking in die grensdistrikte toegeneem en gevestigde toestande ingetree het, het dit al hoe noodsaakliker geword om vaste woonplekke aan te neem en uitsluitlike weiregte in die omtrek daarvan te kry.

Toe die veeboerdery hom van die akkerbou losgemaak en die veeboer-jagter alleen in die binneland ingetrek het, het die stelsel van gemene weiding uitgedien geraak en ’n ander vorm van grondbesit, wat doeltreffender by die behoeftes van die ekstensiewe veeboer aangepas het, het wesenlik geword.

Groepsboerdery soos by die Khoi-Khoin was vreemd, boere wil apart boer

Die individualistiese Suid-Afrikaanse koloniste was egter nie geneigd om soos die nomadiese Khoi-Khoin te boer nie. Die groepsgedagte soos dit by nomadiese volke voorkom, was vir ons boere met hul sterk ontwikkelde opvattings van privaat besit iets vreemds.

Hulle wou hul boerderye apart hou en daarom moes hulle verspreid van mekaar woon en die grond op die basis van individuele weiregte gebruik.

Die ontstaan van die legplaasstelsel in die Karoo

By die ontstaan van die legplaasstelsel in die Karoo wat as ’n aanvulling van die leningplaasstelsel ontwikkel het, bespeur ons ook die begeerte van die koloniste om op eie grond te boer en daarop baas te wees. Die Karoo is elke winter deur die boere van die hoër geleë randgebiede vir ’n paar maande besoek, en aanvanklik het hulle die grond gemeenskaplik gebruik.

Met verloop van tyd het die boere vir hul afsonderlike plase uitgesoek en gereeld daarheen begin terugkeer. Onderling was die legplase deur die boere erken en die Regering moes daarby aansluit, alhoewel die Regering voorheen herhaaldelik daarop aangedring het dat die Karoo as gemeenskaplike legveld onverdeeld gebruik moes word.

Net in die dorre “Agterveld”, waarheen die boere van die noordweste gedurende die somer as gevolg van droogte met hul vee moes trek, was hulle daarmee tevrede om die grond gemeenskaplik te bewei. Die reën het daar nie elke jaar op dieselfde plek geval nie en gevolglik was uitsluitlike weiregte op bepaalde stukke grond vir die boere byna waardeloos.

Hierdie klimaatsfaktor verklaar waarom die boere in die noordweste dit verkies het om die veld op die basis van die “grasliksens” te bewei, terwyl hulle orals in die Kolonie waar die weiding dit toegelaat het, doelbewus daarna gestrewe het om partikuliere weiregte op afsonderlike plase te verwerf.

Die oorspronklike eiendomsplase het gewissel in grootte

Aanvanklik toe die eerste plase deur Jan van Riebeeck aan die eerste Vryburgers aan die Liesbeeckrivier uitgesit is, was die plase uitgegee as eiendomsplase. Die groottes het gewissel van 9 tot 27 morge.

Die Vryburgers is in twee groepe verdeel en elke groep het sy eie grond gekry om in vennootskap te boer. Steven Jansz Botma, Hendrik Elbrechtsz, Otto Jansz en Jacob Cornelisz was in een groep. Een van die voorwaardes was dat die vier vennote die grond belastingvry vir ’n tydperk van twaalf jaar mag bewerk, maar dat hulle self daar moet boer en dit nie mag verhuur of verpag nie.

’n Leningsplaas kon nie verkoop word nie, maar verbeterings wel

Vanaf 1717 het dit die metode geword om grond toe te ken. So ontwikkel ’n stelsel van leningsplase en die verskynsel van trekboere. Die weidingsregte is dikwels jaarliks verleng. Die grond kon nie verkoop word nie, maar verbeterings daarop kon verkoop word.

Weiveld was volop en daar was meer as genoeg vir elke boer

Aan die begin van die agtiende eeu was die gedagte aan ’n bepaalde hoeveelheid weiveld in terme van morge nog nie by die uitreiking van weilisensies aanwesig nie. Aanvanklik kon ’n boer soveel veld gebruik as wat hy nodig gehad het.

Die enigste beperking op sy onbeskrewe weiregte was die bepaling “mits iemand alreeds daar geleë was, dat hy nie sal hinderlik wees op die ander boer se weidingsgebied nie.” Weiveld was so volop dat daar vir elke boer meer as genoeg was. Verder was die weilisensies herroepbare vergunnings, waaruit die Kompanjie geen inkomste gekry het nie.

Plase word onvoorwaardelik toegeken

Die boer het die plaas miskien as “Leliefontein oor die Gamtoosrivier” of “Drie-fontein in die Roggeveld” beskrywe. Hoe ver hierdie plek van ander lisensiehouers oor die Gamtoosrivier of in die Roggeveld gelê het, het die Goewerneur nie geweet nie.

Die Goewerneur het egter met die moontlikheid rekening gehou dat die uitgee van die nuwe leningsplaas gevestigde lisensiehouers kon benadeel, en daarom het hy die plaas voorwaardelik toegeken. Die houer van die ordonnansie kon dit gebruik “mits iemand nie alreeds daar geleë was en hy nie hinderlik teenoor die ander persoon was nie.”

Hierdie bepaling het in alle leningsplaasordonnansies voorgekom. Afgesien daarvan het die Kompanjie baas van die grond gebly en het dus die reg gehad om nuwe leningsplase in te trek as dit blyk dat die uitgee daarvan op die regte van ou ordonnansiehouers inbreuk gemaak het.

Die standaard lengtemaat van die VOC

Tussen 1652 en 1796 was die Kaap onder beheer van die VOC. In die sewentiende en agtiende eeu het die meeste Nederlandse stede hul eie maatstelsels gebruik. Die VOC het die Amsterdamse meeteenhede vir handel gebruik en die Rynlandse eenhede vir landmetings.

Tydens die jare na die Britse besetting van 1806, is die Amsterdamse eenhede deur Britse eenhede vervang, maar die Rynlandse landmetingseenhede is behou tot die invoering van die metrieke stelsel in 1972.

Kaapse maateenhede vir lengte: 1 roede (Rod)             12 voet       3,8223 m

Amsterdamse maateenhede vir lengte: 1 roede (Rod) 12 voet       3,398 m

                                                                                                  13 voet      3,677 m

                                                                                                  16 voet      4,528 m

Afstand gestap oor tyd gemeet

Die volgende tabel is gemiddelde afstande gestap oor ’n vasgestelde tyd:

20 minute of 2,100 tree

22 minute of 2,210 tree

25 minute of 2,800 tree

36 minute of 4,000 tree

 

 

Volgens hierdie syfers is daar gemiddeld sowat 110 tree per minuut gestap. Die lengte van ’n tree asook die snelheid waarmee gestap word, verskil egter by verskillende persone en dit wissel selfs by dieselfde persoon in verskillende omstandighede. ’n Berekening van afstand enkel in terme van tree of tyd was dus nie doeltreffend nie.

Grootte en vorm van standaardplase het met die tyd verander

Met die groei van die bevolkingsdigtheid het die stelsel van weilisensies mettertyd op ’n natuurlike wyse deur die verdeling van weiveld tussen boere – bepaalde “plase” ontstaan, die vorm en die grootte waarvan uitsluitlik bepaal is deur die geaardheid van die grond en die ligging van ander leningsplase in die onmiddellike omtrek van die bepaalde opstal.

Grootte van ‘n standaard ronde plaas is 2,945 morg

Met die verloop van tyd het daar onder die boere die opvatting ontstaan dat ’n leningsplaasordonnansie-weidingsreg op ’n sirkelvormige “plaas” met die opstal as middelpunt en ’n halfuur stap d.w.s. 3,000 tree of 750 roedes as straal gedien het. ’n Leningsplaas sou dus ’n grootte van ongeveer 2,945 morge gehad het.

Sowat ’n honderd jaar na die uitreiking van die eerste weilisensies word daar egter in die argiefstukke herhaaldelik van hierdie teorie melding gemaak, en blykbaar was dit toe al lankal deur die boere algemeen aangeneem en deur gevolmagtigdes erken.

’n Derde plaas kon opgerig word as die opstalle van die ander plase verder as twee ure se stap van mekaar was.

Daar is selfs nie ’n reël neergelê of ’n beginsel aanvaar met betrekking tot die maksimum ruimte wat tussen leningsplase toegelaat sou word nie. Enigeen kon vir hom ’n plaas uitsoek waar hy wou, al was dit ook hoe ver van sy naaste buurman. Aangesien opstalle egter tot op ’n uur afstand van mekaar toegelaat sou word, sou daar tussen twee opstalle ’n derde opgerig word as hulle twee uur of verder van mekaar gelê het.

Teoreties moes die opstalle van leningsplase dus nadat alle beskikbare kroon-grond uitgegee was, op ’n afstand wat tussen een en twee uur gewissel het, van mekaar lê, bygesê as die geaardheid van die grond en die verspreiding van die waters dit toegelaat het. Op hierdie wyse het die beginsel van minimum tussenruimte van ’n uur dus in die praktyk daartoe meegewerk om die uitgee van plase nader as een uur van mekaar teen te werk.

Solank die Kaapkolonie dun bewoon was, het baie opstalle egter veel verder as twee uur van mekaar gelê, terwyl verreweg die meeste meer as ’n uur van mekaar verwyder was. Selfs aan die begin van die negentiende eeu was die gemiddelde afstand tussen leningsplase volgens Barrow sowat twee uur.

Onbeplande en yl verspreiding van boere het in die binneland plaasgevind

Daar was nie wetlik ’n bepaling oor die grootte van die plase nie, maar deur gebruik was ’n plaas ’n uur se stap oorkruis groot, met die opstal in die middel. Die plase was nie noodwendig rond nie, maar die geografie het die vorm daarvan bepaal. Die stelsel het dit moontlik gemaak om ’n plaas vir so kort as ’n jaar te beset en dan weer ’n volgende plaas te verkry.

Sodoende het daar ’n onbeplande en yl verspreiding van koloniste in die binneland plaasgevind. Dit het hulle later in die agtiende eeu in aanraking met die Khoi-San en die Xhosas gebring. As gevolg van hierdie kontak het ’n hele aantal skermutselinge plaasgevind.

Mettertyd het die metode hoe plase opgemeet was verander. Die metode van stap oor tyd of per voet of per perd is toe vervang met ’n metode waar ’n maatstok wat ge-eik was volgens ’n vasgestelde standaardlengte gebruik is.

Die Roede (Rod) was gebruik as ’n standaard. Dit was vasgestel op ’n lengte van: 1 Roede = 16,5 voet

4 Roede = 66 voet = 100 skakels = 1 ketting lengte

Om die maatstokmetode makliker te maak, is die “ketting” ontwikkel wat bestaan het uit kleiner vasgestelde lengtes (skakels) om ’n lang kettinglengte op te breek in kleiner skakelgedeeltes.

Die Kaapkoloniegrens het verder en verder oos verskuif

Die Kaapkoloniegrens het verder oos verskuif en die boere wat naby die grens gewoon het, is mettertyd “grensboere” genoem. Daar was vir baie jare ’n stryd aan die Oosgrens van die Kaapkolonie, wat die aanleiding was vir agt grensoorloë, waarvan die eerste plaasgevind het in 1779 en die laaste een van 1850 tot 1853 geduur het.

Die area wat deur Europese koloniste aan die Kaap beset is, het tussen 1703 en 1780 bykans vertiendubbel. Die uitbreiding wat die trekboere veroorsaak het, het gelei tot die stigting van die distrikte Swellendam in 1748 en Graaff-Reinet in 1786.

Die trekboere was half-nomadiese boere wat met hul vee agter weiding en water aangetrek het en sodoende geleidelik dieper die binneland inbeweeg het wat gedurende die 1700’s en 1800’s tot die uitbreiding van die Kaapkolonie se grense gelei het. Daar was verskillende trekboergroepe waarvan een as die Doppers bekend gestaan het.

Die Kaapse grens het bestaan ​​uit alles noord van Paarl en oos van Stellenbosch tot by die Brak- en Sondagsriviere. Die Boere het hul eie taal ontwikkel op die grens wat historikusse geklassifiseer het as Oosgrensafrikaans. Dit is ’n verdere bewys van waar die Boerevolk ontstaan het.

Die Kaapse Oosgrens was die smeltkroes wat die Boerenasie gevorm het. Die dorp Swellendam wat gestig is in 1745 was die eerste dorp wat die VOC gestig het om die Boere te beheer, en hierdie dorp was een van die eerste Boererepublieke wat gestig is in 1795 toe ’n paar grensboere republieke verklaar het en gerebelleer het teen die Hollandse regering van die Kaap.