Magnus Malan (1930-2011)

Trudie Taljaard (1948-2009)
Julie 6, 2020
Die Groot Trek – Hoofstuk 1 Deel 6
Julie 7, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Een van die sleutelfigure van die jarelange Grensoorlog was net meer as tien jaar lank Suid-Afrika se minister van verdediging.

Magnus André de Merindol Malan is op 30 Januarie 1930 in Pretoria gebore en was ’n leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy wou dadelik na skool by die Weermag aansluit, maar sy pa het hom aangeraai om eers te studeer. Hy het aanvanklik in die BComm-rigting aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, maar sy studies gestaak en aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Die eerste militêre graadkursus is in 1949 bekendgestel; en Malan het in 1953 die BSc Mil-graad verwerf. In 1967 het hy, terwyl hy ’n kolonel was, by die Broederbond aangesluit, en later bevelvoerder van onder meer die Westelike Provinsie-kommandement, die Suidwes-Afrika-kommandement en die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie geword. Hy is in 1973 as hoof van die Suid-Afrikaanse Leër aangestel, en drie jaar later as hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag. As hoof van die Weermag het hy sekere administratiewe veranderinge in werking gestel en in hierdie tyd het hy bevriend geraak met die destydse minister van verdediging, mnr. PW Botha. In daardie tyd het die Weermag gegroei en meer doeltreffend gefunksioneer. Die totale aanslag teen Kommunisme het in hierdie tyd al hoe meer toegeneem.

Nadat Botha vir Malan as minister van verdediging aangestel het, het Malan die Volksraadslid van die kiesafdeling Modderfontein geword. Hy is ook tot die uitvoerende raad van die Nasionale Party verkies. Gedurende sy tyd as minister van verdediging het hy veral teenkanting van parlementslede van die Progressiewe Federale Party gekry, veral mnr. Harry Schwartz en mnr. Philip Myburgh, wat as skaduministers opgetree het. In Julie 1991 is Malan uit sy pos verwyder weens ’n beweerde skandaal oor geheime befondsing aan die Inkatha-Vryheidsparty en ander opponent van die ANC, en as minister van waterwese en bosbou aangestel.

Op 2 November 1995 is Malan saam met negentien ander voormalige militêre offisiere aangekla vir die moord op dertien mense (onder meer sewe kinders) tydens die Kwa Makhutha-menseslagting van 1987. Daar is beweer dat dit ’n sameswering was om oorlog tussen die Inkhata Vryheidsparty en die ANC te bewerkstellig en die blanke minderheidsregering aan bewind te hou. Dit het verband gehou met ’n aanval op die huis van ’n ANC-aktivis, Victor Ntuli, in die woongebied Kwa Makhutha naby Durban. Al die beskuldigdes is op borgtog vrygelaat en moes weer op 1 Desember 1995 in die hof verskyn. Die hofsaak het sewe maande lank geduur en rassehaat tussen blanke en swart Suid-Afrikaners weer aan die lig gebring. Almal is op die ou einde vrygespreek en oud-president Nelson Mandela het Suid-Afrikaners gevra om die uitspraak te respekteer. Nogtans is die uitspraak beskou as ’n teken dat die regstelsel misluk het. Malan moes ook voor die Waarheids- en-Versoeningskommissie verskyn. Op 26 Januarie 2007 het Malan sy enigste onderhoud buite Suid-Afrika, vir die kortgolf-internetradioprogram The right perspective toegestaan en die vorige jaar het hy sy outobiografie My lewe in die Suid-Afrikaanse Weermag, die lig laat sien.

Malan is op 18 Junie 2011 aan hartversaking oorlede.