Trudie Taljaard (1948-2009)

Marga van Rooy (1942-2017)
Julie 6, 2020
Magnus Malan (1930-2011)
Julie 6, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Soms doen een advertensieveldtog meer om ’n persoonlikheid se naam onder die publiek se aandag te bring as enige rol in ’n televisiereeks of rolprent.

Een voorbeeld hiervan was Trudie Taljaard. Sy was die gesig van die bekende meubelwinkelgroep Morkels se advertensieveldtog, met die reklameslagspreuk: “Jou tweejaarwaarborg-winkel.” Hierdie advertensieveldtog, in Afrikaans en Engels, het van haar ’n huishoudelike naam gemaak.

Trudie is in 1948 gebore, hoewel haar presiese geboortedag nêrens te sien is nie. Sy het in Melville in Johannesburg grootgeword en daarna aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy was eers met die akteur Errol Ross, wat onthou sal word vir die kindertelevisiekarakter Casimir, getroud en later met nog ’n akteur, Nico Liebenberg.

Sy het twintig jaar lank in verskeie toneelstukke opgetree, onder meer ’n Seder val in Waterkloof, Die potlooddief en die engel, Die vrek, Raka en Jeanne Goosen se omstrede Kombuis-blues, waarvoor sy groot lof gekry het.

Sy was in 1979 in die rolprente Elsa se geheim en Grensbasis 13 te sien, en later ook in Broer Matie, The long run en Beat the drum. Haar televisieloopbaan het begin met Dokter dokter, een van die eerste Afrikaanse televisiekomediereekse. In 1979 was sy saam met Marius Weyers, Dana Niehaus en Jana Cilliers te sien in Phoenix en Kie, en sy het die rol van Nelmarie Vermeulen in Jan Scholtz se uiters gewilde reeks Die sonkring vertolk. Sy was daarby ook in Engelse reeks soos Suburban bliss en People like us te sien. Haar laaste rol was dié van Ester Nortjé, suster Netta Nortjé se lang verlore suster, in 7de Laan.

Trudie is op 31 Januarie 2009 in die ouderdom van sestig jaar aan beenkanker oorlede, en het drie dogters agtergelaat.