Marga van Rooy (1942-2017)

Koos du Plessis (1945-1984)
Julie 6, 2020
Trudie Taljaard (1948-2009)
Julie 6, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Ons almal onthou vir Worsie se ma van Willie Esterhuizen se bekende komediereeks Vetkoekpaleis.

Die aktrise wat dié rol vertolk het en byna onsterflike roem daarmee verwerf het, was Marga van Rooy, wat op 25 Januarie 1942 op ’n plaas naby Burgersdorp in die Oos-Kaap gebore is.  Die eerste Jamie Uys-dramabeurs is in 1965 aan haar toegeken, waarna sy haar dramagraad met lof aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Twee jaar tevore is sy as die beste aktrise by die ASB-dramafees vir studente aangewys.

In 1964 is sy by die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) aangestel. Sy het uiteenlopende rolle vertolk en heelwat benoemings en toekennings vir haar toneelspel ontvang. Haar eerste rol in ’n rolprent was in Pappa Lap in 1971, waarin Katinka Heyns en Gordon Vorster  ook te sien was. Daarna het nog ’n Jans Rautenbach-rolprent, Eendag op ’n reëndag gevolg, asook Die groen faktor, Verkeerder nommer, ’n Pot vol winter en Lipstiek dipstiek, om ’n paar te noem.


Haar eerste televisierol was in die televisierolprent Die perdesmous in 1981; tien jaar later het sy die rol van Tossie du Buisson in Egoli-plek van goud vertolk. Hoewel sy ook in 7de Laan, Villa Rosa en Onder engele te sien was, sal haar rol in Vetkoekpaleis altyd onthou word.  Sy het later ook ’n toekenning as beste byspeler in die rolprent Die windpomp gewen en sy is vir ’n Safta-toekenning vir haar rol in Fanie Fourie’s lobola benoem.  Sy het jare lank aan eenvrouvertonings deelgeneem, met werke van onder meer PH Nortje, Mikro en Dot Serfontein.

Marga is op 15 Januarie 2017 in die ouderdom van 74 jaar aan kanker oorlede; sy het haar man, Frans Boot, en vyf kinders agtergelaat.